
17 Augustus 2005 was ’n swart dag.
Die Middelburg Observer se voorblad het in vet letters uitgeroep: “Ses sterf”.
Later was dit agt – almal werknemers van Ferrochroom.
Hulle is dood na ’n waterlek by oond M3, wat hulle blootgestel het aan warm stoom en gas.
Samancor het hierdie week ’n huldeblyk gepubliseer waarin die agt werknemers onthou word.
“Terwyl die aanleg op volle kapasiteit is, moet ons diegene onthou wat hulle lewens verloor het in die omstandighede waarin ons werk. Ons onthou hulle wat ons geleer het dat ons lewens saakmaak.”

Die oorledenes was Willem Beeslaar, Derrick Dladla, Pelsie Khumalo, Hannes Meyer, Jan Mtsweni, Timothy Mthimunye, Braam Pienaar en Johan Pretorius.

Khumalo het 22 jaar by die maatskappy gewerk, Mtsweni 25 en Dlalda 15. Beeslaar, of Bees, was ’n jaar lank ’n elektriese vakman. Hy word in die huldeblyk beskryf as ’n “stil, aangename mens met ’n goeie humorsin en in daardie groot lyf het hy ook ’n groot hart gehuisves”.

Bees se drie dogtertjies was maar agt, vyf en twee jaar oud.
Sy vrou, Estelle, onthou die dag soos gister.
“Dit was ’n Donderdag vol verwagting en beloftes. Ek en Bees sou die middag ’n kontrak gaan teken op ’n nuwe huis en kar, en toe kom die oproep om 09:20. Ek was besig om ’n kliënt se naels te doen, toe ’n vriendin wat by Ferrochroom gewerk het, my bel met die woorde: Estelle, daar was ’n ongeluk op die aanleg, Willem het seergekry, ons kry jou by die hospitaal.”
“By die hospital was dit chaos, mense, dokters, ambulanse, helikopters, en niemand kon vir die eerste uur vir jou sê wat aangaan en wat gebeur het nie, totdat ek hom kon sien en die realiteit van die ontploffing my getref het. Eers later die aand in die Pretoria-Oos-hospitaal het verteenwoordigers van Ferrochroom verduidelik wat gebeur het.”
Willem en Estelle was baie goeie vriende met Braam Pienaar en sy vrou, Lynn. Braam het ook aan sy beserings beswyk.

Sy is steeds vol lof vir Ferrochroom se hulp na die tragedie.
“Hulle het ons ongelooflik ondersteun, gehelp met gastehuisbesprekings en vervoer na Pretoria en beraders was heeltyd daar vir ons.”
Van haar man se begrafnis kan sy nie veel onthou nie.
“Dit was op my ma se verjaarsdag, want daar was so baie begrafnisse die week dat ons nie ’n ander dag kon kies nie. Almal wat sy lewe gedeel het, was daar: familie, ons skoolvriende en werkskollegas. Dit was ’n hartseer reünie.”

Vir Estelle was dit nie maklik nie, veral met Cijhana en Kelly wat heeltyd gevra het wanneer kom hulle pappa huis toe. “Hulle het nie die konsep van dood verstaan nie. Ek sou dit nie sonder my ondersteuningstruktuur kon doen nie – my familie en vriende en Bees se familie – met wie ons tot vandag toe ’n baie hegte band het en nog steeds op ’n daaglikse basis mekaar se lewens deel.”
En nou, 21 jaar later, sê sy haar “girls” was haar groot inspirasie.
“Hulle het sonder dat hulle dit besef, my meer kere opgetel in die laaste 21 jaar as wat ek kan tel. Ons vier het ’n ongelooflike band gevorm, wat niks en niemand ooit sal kan wegvat nie. Bees leef voort in my kinders, in hoe hulle lyk, sy humorsin en die dinge wat hulle doen.”
Estelle is nou 51, Natacha 29, Cijhana 26 en Kelly 23.
“Vir almal wat altyd sê tyd maak dit beter, – dit is nie so nie, die verlange gaan nooit weg nie, ‘n mens leer net om met die leemte saam te leef. ’n Baie mooi aanhaling wat ek raakgelees het, is: I didn’t get to spend the rest of my life with you, but you have spend the rest of your life with me. And there is something so beautiful in that.”
