Volgende jaar word die 100ste Comrades wedloop aangebied.
Vir die meeste mense ’n onmoontlike droom.
Vir ’n 60-jarige ma van Middelburg hoog op haar wenslys.
Na haar skitterende derde plek in haar ouderdomsgroep hierdie jaar, is Wendy Dippenaar se groot droom om aan daardie magiese 100ste Comrades deel te neem.

Die oudleerling van Laerskool Wonderboom en Hoërskool Overkruin, het in 1998 aan haar eerste Comrades deelgeneem en die wedloop in ’n tyd van 10:53 voltooi.
Sy wil graag volgende jaar haar permanente groen nommer verwerf deur haar 10de wedloop te voltooi.
In 2002 was haar tyd 9:59.
In 2003 met die afwedloop 9:39, ook haar persoonlike beste tyd.
Die 2026 Comrades was ’n opwedloop waar sy derde eindig in haar ouderdomsgroep in ’n uitstekende 9:40.
En nou hoop dié oud Tukkie en fisioterapeut om een van die 28 000 drawwers te wees wat volgende jaar van Pietermaritzburg na Durban hardloop.

Sy sê om op die Comrades-podium te staan, was ’n verrassing, omdat dit nie deel van haar beplanning was nie.
“Ek wou baie graag net my beste op die dag lewer. Ek het baie hard geoefen en slegs een sessie gemis. Daar is soveel faktore wat ’n rol speel, wanneer ’n mens so ’n wedloop hardloop, dat dit net genade op genade is wanneer alles in plek val. Dit is ’n spanpoging, want baie mense speel ’n rol om dit moontlik te maak. Die feit dat ek dit kon doen, is te danke aan die span rondom my.”
En as sy ’n inskrywing kry, wil sy graag haar persoonlike beste tyd in die af-wedloop verbeter.
Haar advies aan voornemende drawwers is “geniet die proses, begin klein en wees konsekwent.”
“Krag- en kondisioneringsoefeninge is baie belangrik. Ná die ouderdom van 40 jaar verloor ’n mens jaarliks ongeveer 1% spiermassa. Dit beïnvloed balans, spoed en krag, en verhoog die risiko van beserings. Daar is groot waarde in ’n goeie span rondom jou. Indien moontlik, kry ’n afrigter en ’n dieetkundige om jou met jou oefen- en voedingsbehoeftes te ondersteun.”
Maar waar kry sy haar inspirasie?
“Uit die aard van my werk kom ek dikwels in aanraking met mense wat baie siek is en nie kan doen wat hulle graag sou wou nie. Dit herinner my om elke dag dankbaar te wees en te doen waarvoor ek lief is. Ek word ook geïnspireer deur mense wat met absolute toewyding doen wat nodig is om ’n persoonlike droom binne hul vermoëns te verwesenlik. Jy neem nie deel om jouself aan ander te meet nie, maar om die beste weergawe van jouself te wees.”
En hoe lyk haar oefenprogram?
“Ek oefen tans vir die Kaapsehoop-marathon (42 km).”
- Maandag
- Krag- en kondisioneringsoefeninge
- Dinsdag
- Spoedwerk: 12-14 km
- Woensdag
- Zone 1 en 2: 10 km
- Donderdag
- Zone 2 en 3: ongeveer 15 km, plus ’n krag- en kondisioneringsessie.
- Vrydag
- Zone 2 en 3: 8 km
- Saterdag
- Zone 1-3: 25-34 km
Net ’n bietjie advies om in gedagte te hou:
- Rus ná ’n spoed- of heuwelsessie drie uur voordat jy ’n S&C-sessie doen.
- Meer as vyf hardloopsessies per week verhoog die risiko van hardloopbeserings met 500%. Kies eerder ’n swem- of fietssessie vir aanvullende oefening.”
Draf gaan natuurlik nie net oor swoeg op die langpad nie, maar om nuwe plekke te ontdek en groter uitdagings aan te durf. Wendy en haar gesin het so idilliese wedloop ontdek, die Victoria Fall-halfmarathon.
“Ons het die wedloop toevallig ontdek en was bevoorreg om dit vier keer te kon doen. Die roete begin en eindig in die dorpie Victoria Falls. Die wedloop neem jou oor ’n treinbrug tussen Zimbabwe en Zambië, waar jy in die sproeireën hardloop. Die roete volg die Zambezirivier deur Groot Vyf-gebied, waar buffels en olifante ’n algemene gesig is. Die wedloop is besonder goed georganiseer en die waterpunte is uitstekend. Die vriendelikheid van die mense en die atmosfeer is aansteeklik. Jy gaan met ’n vol en dankbare hart daar weg.”

Wendy draf nie net die teerpaaie aan die brand nie, maar het al die Sani2C, Wines2Whales en die Charity Cycle Tour van Sun City na Kaapstad – en twee dae later die Argus, fietswedrenne voltooi.
Langasems sal weet dat jy nooit by die Comrades aantree indien jy nie ’n ondersteuningspan het nie.
Deon Carstens was vir jare haar fietsry afrigter maar na sy groot ongeluk het sy by Jonathan Black begin oefen. Die dieetkundige, Lara van Aswegen, het ook ’n groot rol in haar sukses gespeel.
“Dan my familie. My man, Kobus, het so baie saam gehol dat hy ook eintlik kon Comrades hardloop en my kinders het dikwels met lang sessies saam gedraf. My werkskollegas het al baie siek pasiënte gesien om my te probeer beskerm om nie siek te word nie.”
- Gunstelingwedlope
- 21 km Victoria Falls-halfmarathon
- 42 km Kaapstad- en Rome-marathon
- 50 km Loskop-marathon
- Moeilikste wedloop
- Die een waarin jy die muur tref! Comrades, verseker.
- Volgende droomwedloop
- Die Budapest-halfmarathon – of sommer die volgende wedloop met ’n negatiewe verdeling!
- En haar leuse in die lewe?
- Never stop moving. If you don’t use it, you lose it.