Vier Pumas en ’n oud-Springbok-sewesspeler gaan die Bulldogs vanjaar ekstra woema gee.
Die sewesspan neem op 25 en 26 September aan die groot Klerksdorp-sewesfees deel.
Ruan Pienaar, wat in 2026 vir die Puma Cravenweekspan uitgedraf het, Ruben Kruger en Ruwan Graaff, wat die Puma Akademie B-span verteenwoordig het, asook Divan Geyser van die Puma Amateurs, is almal vir die Bulldogs gekies.
Die span word afgerig deur die ervare Dirkie Strydom, wat vir die Springbok-sewes gespeel het, en Jacques Petzer-Moore, wat voorheen by die Haaie Akademie betrokke was.

Die Bulldogs-span is:
Mvelo Mthembo, Marchelton de Villiers, Zander Erasmus, Anthoni Smuts, Duan Grobler, Ruan Pienaar, Siyabulela Jabuza, Divan Geyser, Janco de Lange, Ruben Kruger, Ruwan Graaff, Siyabonga Magagula, Jacques Greyling.
Altesaam 140 spanne en 1 400 spelers neem aan die sewesfees deel, met ander sportsoorte soos netbal en hokkie wat ook aangebied word.
Die fees gaan egter oor meer as net sport, met ’n kosmark en 12 orkeste wat vir vermaak sorg.
Die seweskompetisie word in Premier-, klub-, sosiale- en bierafdelings verdeel.
Die bierafdeling is spesifiek vir spelers wat “effe ouer, wyser, stadiger, swaarder en sonder spoed” is, maar wat volgens die organiseerders darem nog “toorkunsies met die bal kan uithaal”.
