Hengelgemeenskap geskok ná sinnelose moord
Ouers by Loskopdam Classic toe seuns in huis oorval word
Die hengelgemeenskap het met skok en ongeloof gereageer ná die moord op ’n jong eMalahleni-inwoner, terwyl sy ouers by die Loskopdam Classic was wat die afgelope naweek by die Forever-oord aangebied is.
Witbank Nuus het gister berig dat ’n man op 5 September doodgeskiet en sy broer ernstig gewond is tydens ’n huisbraak in Paarlstraat.
Fransie Steenkamp is in die maag en kop geskiet en op die toneel dood verklaar.
Dirkie Steenkamp is vier keer geskiet en is in die intensiewesorgeenheid van die Life Cosmos-hospitaal opgeneem.
Die broers se pa, Francois, het gesê die rowers het die hekmotor se hefboom afgedraai, die hek oopgestoot en die huis binnegegaan.
Hy en sy vrou was by Loskopdam vir die jaarlikse Loskopdam Classic toe ADT-sekuriteit hom om 22:45 gebel het.
“Ons het bitter slegte nuus ontvang!”
Karp Bonanza het op hulle Facebookblad gesê: “Ons het bitter slegte nuus ontvang! Francois Steenkamp van Fuchs Olies en sy vrou Santa was by die Loskopdam Classic by Loskopdam die naweek. Gisteraand het huisrowers by hul huis ingebreek in Witbank. Hulle twee seuns was tuis en is oorval deur die rowers. Francois, die oudste seun (38), wou sy jonger boetie (32) beskerm en is sewe keer geskiet en op die toneel oorlede. Hulle jonger seun is in die maag gewond en moes ’n noodoperasie ondergaan. Hy is stabiel. Ek het vanoggend met twee stukkende mense gepraat.”
Fuchs is die afgelope 17 jaar ’n groot borg van die Karp Bonanza.
In November 2023 is die hengelgemeenskap ook in rou gedompel toe ’n legende in hengelkringe, John Wickham, op Dullstroom vermoor is. Hy was die bestuurder van die Protea Junior-hengelspan, sowel as die Presidentsliga.
Daar is tevergeefs probeer om Wickham se lewe te red, nadat hy verskeie kere geskiet is tydens ’n rooftog by The Wolery, ’n aangrensende uitbreiding van die luukse Browns’ Gastehuis. Hy en sy vrou, Magda, het tydens die aanval omstreeks 04:20 Sondagoggend geslaap toe hulle oorval is.
Wickham is na die Belfast-hospitaal, sowat 30 km van Dullstroom gehaas, waar hy met sy aankoms dood verklaar is.
Hy het Suid-Afrika in Oktober daardie jaar by ’n internasionale swartbaarshengelbyeenkoms in Portugal verteenwoordig.
Sy twee jong seuns het, soos hul pa, albei Protea-hengelkleure verwerf.
Lewenslange gevangenisstraf
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het in Mei hierdie jaar die vonnis verwelkom van lewenslange gevangenisstraf, plus ’n bykomende 38 jaar, wat deur die Mpumalanga-hooggeregshof in Breyten opgelê is aan die Mosambiekse burger, James Cumalo (32), vir die moord op Wickham.
Cumalo is skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ’n vuurwapen, onwettige besit van ammunisie en poging tot regsverydeling. Cumalo is aanvanklik saam met ’n medebeskuldigde aangekla, maar die aanklagte teen die medebeskuldigde is eteruggetrek weens onvoldoende bewyse.
Vlug met gesteelde besittings
Die beskuldigde het van Pretoria na ’n gastehuis geryloop. Met sy aankoms het hy oor ’n heining gespring, na een van die kamers gegaan en die deur oopgeskop. Binne het hy die Wickhams aan die slaap gevind en geld en waardevolle items geëis. Toe die slagoffers weerstand bied, het die beskuldigde ’n vuurwapen uitgehaal en Wickham doodgeskiet. Hy het toe van die toneel gevlug met gesteelde besittings voordat hy terug na Pretoria geryloop het. Na die voorval het hy ’n vriend versoek om van die vuurwapen ontslae te raak.
Tydens die ondersoek het die polisie die beskuldigde in besit van die oorledene se selfoon gevind en hom in hegtenis geneem. Verdere ondersoeke het bevestig dat hy onwettig in die land was.
Slagoffer-impakverklarings, opgestel deur die oorledene se seuns en gefasiliteer deur die hofvoorbereidingsbeampte Faith Masango, is aan die hof voorgelê. Dit beskryf die emosionele en sielkundige trauma waardeur die familie is na die verlies van hul geliefde.
Cumalo is soos volg gevonnis: Lewenslange gevangenisstraf vir moord, 15 jaar gevangenisstraf vir roof met verswarende omstandighede, 15 jaar gevangenisstraf vir die onwettige besit van ’n vuurwapen, drie jaar gevangenisstraf vir die onwettige besit van ammunisie en vyf jaar gevangenisstraf vir poging tot regsverydeling.
