News

KYK: Woede oor visstropery

Hengelaars kom weer op kiefnette af wat dodelik is vir krokodille, vis en voëls.

“Kan die laaste persoon wat die land verlaat, asseblief net die ligte afsit?”
Dit is ’n siniese opmerking van iemand wat eerstehands beleef hoe die land boom vir boom, plant vir plant en vis vir vis vernietig word.

Vier mans het onlangs met petrolsae by die plantasie langs die Dennesig-woonbuurt opgedaag en sonder toestemming begin om die ou dennebome af te saag.

Gelukkig het die fietsryer Cobus Fourie gesien wat gebeur en Middelburg Observer geskakel, waarna raadslid Johan Dyason gekontak is. Die stropery is gestop, hoewel een van die ou reuse reeds in blokke opgesaag was.

Nou het hengelaars met woede gereageer nadat kiefnette vir die soveelste keer uit die Flag Boshielodam verwyder is.

’n Video wat aan Middelburg Observer gestuur is, wys hoe hengelaars op ’n boot probeer om honderde meter se net uit die dam te trek, terwyl hulle ’n paar kraswoorde los.

Hengelaars by Flag Boshielodam (Arabiedam) het reeds in die verlede die inisiatief geneem om self kiefnette uit die dam te verwyder.

Volgens ’n inwoner, wat op versoek anoniem wil bly, word sommige van dié hengelaars glo gedreig en is daar al op hulle geskiet wanneer hulle probeer om die kiefnette uit die dam te trek.

Vernietigende praktyk

Die omvang van die probleem word verder beklemtoon deur die ontdekking van ’n yslike Nylkrokodil van 5,08 m wat in die dam gevrek het. Die krokodil is oopgesny en ’n groot aantal kiefnette is in sy maag gevind.

Kiefnette is vernietigend, aangesien alles wat daarin verstrengel raak, vrek.
Hengelaars meen die dalende visbevolking kan onder meer aan visstropery toegeskryf word.

Nico Zaayman, organiseerder van die afgelope naweek se Loskopdam Classic, sê ’n sindikaat is ook by dié dam betrap waar vis op groot skaal gevang en kommersieel verkoop is. Dié inligting is volgens hom deur verskeie bronne bevestig.

Volgens inligting wat bekom is, het ’n inwoner van Modimolle glo met ’n Land Cruiser groot hoeveelhede vis by Loskopdam gevang en dit daarna in Polokwane verkoop. Geen verdere besonderhede kon egter by amptelike bronne verkry word nie.

Zaayman sê die vis wat tydens vanjaar se Loskopdam Classic gevang is, was aansienlik kleiner en hengelaars het ook minder vis uitgetrek.
Die wenvis, wat ’n boot as prys besorg het, het slegs 3,2 kg geweeg.

Hy skryf die afname in sekere visspesies egter eerder toe aan die swartbaarbevolking, wat volgens hom buite beheer geraak het.

@middelburgobserver

Hengelaars het honderde meter se kiefnette uit die Flag Boshielodam getrek wat voorheen verantwoordelik was vir krokodil- en visvrektes.

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button