Gouws aangestel as Cravenweek afrigter
Pumas kan volgende jaar op Loftus brul met dinamiese nuwe afrigtingspan en voorsitter.
Die Hoërskool Middelburg rugbyhoof, Christiaan Gouws (36), is pas aangestel as die nuwe Puma Cravenweek afrigter.
Hy is gekies in die plek van Coené Nolte wat deesdae by Hoërskool Ben Viljoen skoolhou en vir die Limopop Blou Bulle beskikbaar is.
Vir Gouws is dit ’n sirkel wat 14 jaar gelede in Mpumalanga begin het, toe hy op ’n dag by Hoërskool Ligbron ingery het.
Hy is aan die skool se rugbyhoof, Kobus Stander, voorgestel. Hulle het voorheen vlugtig ontmoet, toe hy nog self rugby gespeel en ’n rugbykliniek aangebied het.
Dit was 2012 en hy het pas van Ierland af teruggekom.
’n Besering het sy rugbyloopbaan beëindig.
Hy het die voorreg gehad om by die skool se eerstespan betrokke te raak.
In die eindstryd van die grootskole het hulle later Secunda geklop. En wie was Secunda se afrigter? JJ Hennop, die huidige hoof van Hoërskool Middelburg.
Gouws word een van die jongste Cravenweek hoofafrigters ooit.

Hy lei ’n opwindende nuwe tydvak vir skolerugby in Mpumalanga in, met MJ Mentz, die oud senior Puma agterlynafrigter wat Nelspruit deesdae afrig, wat die Grant Khomo span gaan afrig en Piet Bothma wat ’n dinamiese voorsitter is van die Hoërskolevereniging.
Voeg daarby die hele voorry en lostrio wat volgende jaar weer beskikbaar is en die Pumas kan hard brul op Loftus. Die Cravenweek word in 2027 in Pretoria aangebied.
“Ek sal die span in 2027 in ’n beter plek wil los en beplan verskeie fondsinsamelings om vir die spelers te gee wat hulle verdien,” het hy gesê, na die nuus bekend geword het dat hy aangestel is.
“Na 2027 wil ek hê mense moet ophou na ons kyk as ’n klein unie, want ons is nie een nie.”
Gouws sê hy wil die gemeenskap betrokke maak by die Cravenweek span en dit sluit alle dorpe in die provinsie in, van Nelspruit tot Piet Retief, Ermelo, en elke ander dorp.
Een van sy doelwitte is om groter samehorigheid onder afrigters te bewerkstellig.
Maar is hy nie dalk te jonk vir so senior pos nie?
Nie vir ’n man wat al op 24-jarige ouderdom streekbestuurder was van Massey Ferguson nie!
Gouws plaas ’n hoë premie op ’n sterk familieband, nie net in die rugbygemeenskap nie, maar ook daar buite.
Een van die eerste persone wat hy gebel het met die groot nuus was sy ma.
Sy pa is reeds oorlede.
