Middelburg groet gewilde Ben van der Merwe
Die bekende blou-oog Ben van der Merwe van Middelburg word môre, 10 September, finaal tot ruste gelê ná sy afsterwe op 2 September.
Ben van der Merwe (77), ’n geliefde eggenoot, pa, oupa en ’n welbekende gesig in Middelburg se gemeenskap, is op 2 September oorlede. Ben het onlangs ná ’n hartaanval en swakker gesondheid tuis gesterf.
Hy sal onthou word vir sy vriendelike geaardheid, sprekende blou oë, skerp sin vir humor en veral die gewilde pasteie van Die Koperketel.
Reis na Middelburg
Ben en sy vrou, Ria, wat vir 48 jaar gelukkig getroud was, het in 1990 vanaf Kroonstad na Middelburg verhuis en dié dorp hul tuiste gemaak.

Hy was die vriendelike gesig by Landbank en daarna die man agter die besigheid, Die Koperketel.
Dit is waar hy onderskeidelik ’n gunsteling onder Middelburg se boere en inwoners geword het.
’n Man van stof en gees
Die talle gesinsvakansies bly vir sy familie ’n kosbare herinnering wat na aan hul harte lê.
“Hy het elke dag, heeldag, vir pret en opwinding gesorg,” vertel sy seun.
Hy word oorleef deur sy vrou, Ria; kinders Juanré-Ben, Ruan en Benri, skoondogters Elana van der Merwe en Hannelie van der Merwe, kleinkinders Simoné, Ruané, Mia en Jané, asook ander familie en vriende.



Hoewel Ben se opvallende, helderblou oë dadelik die aandag getrek het, was dit veral sy eenvoudige en ‘plat-op-die-aarde’ geaardheid wat mense nog lank sal koester.
Begrafnisreëlings
Die begrafnisdiens vind môre, 10 September, om 11:00, by die NG Gemeente Middelburg-Suid plaas.
’n Regstreekse uitsending van die diens sal aanlyn beskikbaar wees vir diegene wat dit nie persoonlik kan bywoon nie.

