Siebert weer ondervra oor Biko se dood
Oud-NG Kerk-ouderling en skeidsregter getuig in geregtelike ondersoek van swart bewustheidsleier.
Die spook van Steve Biko wil die oud-NG Kerk-ouderling van Middelburg, Danie Siebert, nie los nie.
Siebert se amnestie-aansoek voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) is in 1999 amptelik afgekeur.
Hy is ’n voormalige kolonel van die apartheidsveiligheidstak en het in September 1997 saam met sy destydse kollegas, Harold Snyman, Jacobus Beneke, Rubin Marx en Gideon Nieuwoudt, voor die WVK getuig. Hulle het aansoek gedoen om amnestie vir hul betrokkenheid by Biko se dood in 1977.
Biko is vanaf 18 Augustus 1977 in Port Elizabeth (Gqeberha) aangehou en is op 12 September 1977 in Pretoria dood. Die WVK se amnestiekomitee het hul aansoeke om die volgende redes van die hand gewys:
Geen volle openbaarmaking nie: Die komitee het bevind dat die polisiebeamptes nie die volle waarheid gepraat het oor hoe Biko sy hoofbeserings opgedoen het nie. Weersprekende getuienis: Hul weergawe dat Biko bloot tydens ’n “stoeigeveg” sy kop teen ’n muur gestamp het, is as hoogs onwaarskynlik en vals verwerp.
Gebrek aan politieke motief: Die aanval op Biko is beskou as ’n kwaadwillige daad wat nie aan die vereistes vir politieke amnestie voldoen het nie. Omdat amnestie destyds geweier is, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die amptelike geregtelike doodsondersoek na Biko se dood heropen.
Siebert, wat oor ’n week 81 jaar oud word, is een van slegs twee oorlewende veiligheidsbeamptes wat by die saak betrokke was. Hy het hierdie week weer via ’n virtuele skakel in die hooggeregshof in Gqeberha getuig, waar die staat hom onder kruisverhoor geneem het oor die verskille tussen sy weergawes van 1977, sy getuienis voor die WVK in 1997, en sy huidige uitlatings.
Hy het in 1967 by die veiligheidstak aangesluit en is in 1989 aangestel as streekshoof van misdaadvoorkoming en ondersoeke op Middelburg. Hy het in 1995 met die rang van brigadier afgetree. Tydens sy diensjare op Middelburg was hy ook betrokke by die Suidoos-Transvaal skeidsregtersvereniging en het as Superliga-skeidsregter opgetree.

Hy het aan die WVK gesê dat hy reeds as kind betrokke was by die NG Kerk en vir 26 jaar in die kerkraad gedien het. Dit is nou 30 jaar sedert hy voor die WVK getuig het. “Ek is op 20 September 1945 in Bloemfontein gebore. Ek is die jongste van vier kinders en het in ’n konserwatiewe en Christelike huis grootgeword tydens my vormingsjare in die apartheidsera. Die apartheidsbeleid sou gevolglik vir my aanvaarbaar en regverdigbaar gewees het, aangesien ek destyds van mening was dat hierdie beleid noodsaaklik was vir die voortbestaan van die Suid-Afrikaner aan die suidelike punt van Afrika.
Hierdie standpunt is in die daaropvolgende jare verder beïnvloed en versterk deur die beleidsuitdrukkings of -verklarings van politieke leiers sowel as kulturele en kerkleiers. As gevolg van hierdie verklarings en retoriek was ek oortuig dat die Afrikaanssprekende persoon sou moes veg vir die reg op oorlewing en vir die reg om voort te leef soos ons voorouers, met besondere verwysing na ons erfenis, agtergrond, kultuur en politieke lewenswyse.”
Sy politieke oortuigings is volgens sy getuienis veral gevorm deur sy gesprekke met die destydse eerste minister. John Vorster, toe hy verantwoordelik was vir sy veiligheid tydens besoeke aan sy vakansiehuis by Oubos en ook tydens grensdiens.
“As lid van die Suid-Afrikaanse Polisie het ek te alle tye te goeder trou opgetree in diens van die Suid-Afrikaner of in die belang van die Suid-Afrikaanse Polisie en die regering van die dag. Ek het gedurende 1976 op die grens in Ovamboland gedien, waartydens ek blootgestel is aan guerrilla-oorlogvoering en terrorisme.
Tydens my diens op die grens het ek ’n verskeidenheid tonele besoek en ondersoeke gedoen waar lede van die plaaslike bevolking beroof, ontvoer, vermoor of vermink is deur lede van die Swapo-bevrydingsbeweging. Hierdie persone het ook die verlies of vernietiging van hul eiendom ervaar en ek het verskeie tonele besoek waar lede van die veiligheidsmagte doodgeskiet of in lokvalle beseer is. Ek was teenwoordig toe die liggame van hierdie mense verwyder moes word en ek was ook teenwoordig in ’n spesifieke voorval waar vyf lede van die weermag doodgeskiet is en ’n ander voorval waar sewe lede van die weermag ernstig beseer en vermink is in soortgelyke voorvalle in lokvalle.
Hierdie ervarings het in my ’n baie diep afgryse geskep vir die sogenaamde vryheidsvegters en persone wat voorgegee het dat hulle teen ’n onregverdige regeringstelsel veg. Terselfdertyd was ek van mening dat die situasie van ons vereis het dat ek die eerste sou wees om op te tree, anders sou ek dieselfde lot ervaar.
Op daardie tydstip was ek van mening dat die voortgesette oorlewing van wit mense in Suid-Afrika direk gekoppel kon word aan die destydse regering wat aan bewind bly.”
Voodat Siebert in detail vertel het hoe Biko van Port Elizabeth na Pretoria vervoer is en die konfrontasie daarna, het hy ook getuig dat “indien ’n organisasie soos die ANC en PAC die regering in Suid-Afrika sou word, dit tot totale anargie en chaos sou lei wat my nie meer sou toelaat om my lewenswyse te handhaaf waaraan ek gewoond geraak het nie.
Ek was van die mening dat die veiligheidstak die verantwoordelikheid gehad het om te help verseker dat die destydse regeringsorde gehandhaaf kon word om te help om die algemene beskaafde Westerse standaarde te handhaaf waaraan mense in Suid-Afrika gewoond geraak het.”
“In die lig van die feit dat ons betrokke was in ’n onverklaarde oorlog met die sogenaamde bevrydingsbewegings of -organisasies en in die lig van die steun wat aan die veiligheidstak gebied is vanuit politieke, kerklike en kulturele kringe, was ek oortuig dat die destydse regering se status quo ten alle koste gehandhaaf moes word.”
Siebert het, toe hy op Middelburg gestasioneer was, geen geheim daarvan gemaak dat hy ’n wrewel in joernaliste het nie. Daar is selfs ’n kriminele klag teen hierdie joernalis ondersoek nadat die Middelburg Observer ’n brief van die PAC gepubliseer het.
Dit het waarskynlik gespruit uit Helen Zille se voorbladberig in die Rand Daily Mail oor Biko se dood.
Zille is tans die DA se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg. ’n Leser het die oorspronklike voorblad van die Rand Daily Mail aan die Middelburg Observer geskenk, wat gesorg het dat dit aan Zille oorhandig word. Die geregtelike ondersoek oor Biko se dood word dié week voortgesit.
