Ortopeed trotseer sandstorm om verkleurmannetjie te kiek
Foto in uitgesoekte geselskap vir Natuurlewefotograaf van die Jaar.
Die Middelburgse ortopeed, Dewald Tromp, het ’n Namibiese sandstorm trotseer om ’n verkleurmannetjie af te neem wat nou een van die hoog aangeprysde foto’s is in die Natuurlewefotograaf van die Jaar-kompetisie.
Die foto is ingeskryf in die kategorie, “Diere in hul omgewing”. Dewald was besig om ’n Namakwa-verkleurmannetjie in die Namibwoestyn naby Swakopmund in Namibië te fotografeer, toe die wind skielik erg begin waai en ’n sandstorm veroorsaak het. Weens die sand en wind was sy sigbaarheid beperk en het hy gesukkel om asem te haal.
Die foto se titel is “Oog van die Storm”. Die algehele wenners sal op Dinsdag, 13 Oktober 2026, aangekondig word, gevolg deur ’n uitstalling by die Natuurhistoriese Museum in Londen vanaf Vrydag, 16 Oktober 2026. Dewald is ’n passievolle en deurwinterde natuurlewefotograaf. Terwyl hy as ortopeed werk, fotografeer hy die natuur al die afgelope 25 jaar. Dewald en sy vrou reis wêreldwyd om wildlewe af te neem.
Deur sy beelde wil hy mense beïnvloed om te begin dink oor bewaring en die beskerming van die laaste oorblywende wilde plekke op aarde. Hy is in 2024 aangewys as Africa Geographic se Fotograf van die Jaar.




Dewald se treffende foto van ’n gorilla se winkende hande was die kykerskeuse. Hy het ’n intieme oomblik tussen twee groot ape vasgevang. Dewald het ook die aandag van Africa Geographic se beoordelaars vir Fotograaf van die Jaar getrek. Hy het hierdie wenfoto geneem, en is uiteindelik bekroon met die gesogte titel van Fotograaf van die Jaar 2024.
Dewald het later aan die Africa Geographic-webwerf vertel: “Die dominante Silwerrug het terloops direk voor my neergesak en sy weerkaatsing in my lens dopgehou. Omring deur digte plantegroei, het ek nêrens anders gehad om te beweeg nie en ek het ’n onderdanige houding ingeneem en my oë neergeslaan. Hy het sy hand uitgesteek om sy weerkaatsing aan te raak, en vir die kortste oomblik het ek my verbeel dat hy sy hand uitsteek om my as ’n ou vriend te groet – ’n oomblik in tyd wat ek vir die res van my lewe sal koester.”
Die foto is geneem in Rwanda by die Volcanoes- Nasionale Park en het die titel “Groet ’n Vriend”.
Hy hoop om bewustheid te skep oor die lot van gorillas deur die aandag wat die foto ontvang het.
“Die bewaring van die kritiek bedreigde berggorillas in Rwanda is een van die seldsame suksesverhale in Afrika en dien as ’n baken van hoop vir die res van die vasteland. Meer as 1 000 individue bly in die reënwoude wat grens aan Rwanda, Uganda en die DRK.”
Hy het sopas van Uganda af teruggekeer, waar hy weer tyd spandeer het om gorillas met sy lens te verewig. Dewald is ’n oudleerling van Hoërskool Belfast en het aan Tukkies studeer, waarna hy sy hospitaaljaar op Middelburg gedoen het. As kind het hy gesinsvakansies saam met sy pa, Trompie, ’n sakeman en raadslid van Belfast, en ma, Emmie, in die Krugerwildtuin of die Kgalagadi-oorgrenspark deurgebring, waar sy liefde vir die natuur gekweek is.