News

Die week in Middelburg se erfenis: Die Mouton-familie se eeu van oorlog en opoffering

Die Middelburgse Senotaaf onthul die merkwaardige militêre geskiedenis en opofferings van die Mouton-familie oor vier oorloë heen.

Op pad na 4 Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon staan ’n besondere monument wat aan die dorp se geskiedenis oor byna ’n eeu gekoppel is – Middelburg se Senotaaf.

Die senotaaf is aanvanklik ná die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918), oftewel “The Great War”, op Roothplein – die latere Van Blerkplein – opgerig. Vir baie jare was dit die simbool van die Middelburgers wat tydens die oorlog gesneuwel het.

Jaarliks, op Wapenstilstanddag om 11:00 op 11 November, is hulde gebring aan hierdie Middelburgers wat vergete in grafte in Namibië (Duits-Wes-Afrika), Tanzanië (Duits-Oos-Afrika) of in loopgrawe aan die Wesfront in Europa begrawe lê.

In totaal word 19 Middelburgers as gesneuweldes van die Eerste Wêreldoorlog gelys. Tipies van die tyd is die name van die swart lede van die Suid-Afrikaanse Arbeiderskorps wat tydens die oorlog omgekom het terwyl hulle loopgrawe gegrawe het, nie op die monument aangebring nie.

Middelburg se Senotaaf (Foto: Rudi van Wyk)
Treffende bewoording op die Middelburg Senotaaf (Foto: Rudi van Wyk)

Toe breek die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) uit. Weer mobiliseer verskeie Middelburgers as deel van die Geallieerde Magte, en minstens 21 Middelburgers sneuwel. Weer eens sien ons grafstene in die Ou Begraafplaas van swart vrywilligers wat as deel van die “Springboks” gedien het, maar wie se name nie op die monument aangebring is nie.

Na verloop van jare is die senotaaf van sy oorspronklike posisie op Van Blerkplein verskuif na sy huidige ligging buite die basis se hekke.

Op die sypaneel van die senotaaf, onder die name van die Tweede Wêreldoorlog se gesneuweldes, staan egter ’n naam: maj. JA Mouton, gevolg deur die letters DFC.

Dit stimuleer dadelik enige geskiedeniskrapper se belangstelling – ’n Distinguished Flying Cross (DFC) vir ’n Middelburger!

Die DFC is ’n besondere Britse militêre onderskeiding wat vir voorbeeldige dapperheid en dade van moed tydens operasies toegeken is. Die ontvanger mag die na-naamse letters DFC agter sy naam gebruik.
Maar wie was hierdie gesneuwelde Middelburg-held?

Tweede Wêreld Oorlog paneel op die Senotaaf met majoor JA Mouton DFC se naam (Foto: Rudi van Wyk)

Wanneer daar dieper gekrap word, kom ’n mens af op ’n familie wat oor vier oorloë hul deel tot die geskiedenis bygedra het, met talle oorlogslagoffers en verskeie familietragedies.

Wie was maj. JA Mouton?

Jacobus Andreas (Andries) Mouton is op 23 Julie 1917 in Middelburg gebore. Hy was die seun van Willem Johannes Mouton (1866-1955) en sy tweede eggenote, Johanna Susanna Anette, née Rudolph.
Ongelukkig was hy nie die eerste oorlogslagoffer in dié gesin nie.

Johannes Paulus Mouton – Eerste Vryheidsoorlog

Johannes Paulus Mouton (26 April 1845-8 Februarie 1881) was majoor Mouton se oupa. Hy is in Calvinia in die Kaapprovinsie gebore, maar het omstreeks 1871 na die Zuid-Afrikaanse Republiek verhuis en hom in die Ermelo-omgewing gevestig, wat destyds deel van die Middelburg-distrik was.

Met die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) is die Middelburg Kommando gemobiliseer. Ná verskeie gevegte was die kommando teen Februarie 1881 in Natal. Teen dié tyd was dit ’n treurige prentjie, met groot getalle Boere wat van die kommando gedros het. Genl. Piet Joubert was selfs van mening dat hy binnekort alleen sou oorbly.

Johannes Paulus bly egter op kommando

Die Britte het intussen versterkings in Pietermaritzburg byeen gebring. Hulle het ook ’n groot aantal osse en perde in die Vrystaat gekoop en dit oor die Drakensberge na Natal aangejaag.

Om hierdie aksies te stuit, is ’n sterk Boerepatrollie onder veggenl. Nicolaas Jacobus Smit uitgestuur. Die patrollie van 205 berede mans, waaronder Johannes Paulus, het naby Mount Prospect met ’n groep Britte slaags geraak en ’n ossewa vol drank gebuit.

veggeneraal Nicolaas Jacobus Smit (Foto: Wikipedia)

Met die nuus dat die voorsieningsroete bedreig word, besluit Sir George Colley, die Britse bevelvoerder en goewerneur van Natal, om met ’n magsvertoon die vervoerroete na Newcastle oop te hou. Sy mag van sowat 400 marsjerende infanteriste en twee artilleriestukke het teen Schuinshoogte uitbeweeg op pad na Newcastle.

Smit besluit om die Britte aan te val

Die Boere storm eers te perd op die infanteriste af en vuur op die Britte. Daarna voer hulle ’n omvleuelingsoperasie uit. Hulle spring van hul perde, klim na die kruin van die koppie en vuur, onder beskutting van rotse en tamboekiegras, op die Britte.

Sir George Pomeroy Colley – Goewerneur van Natal (1835-1881) (Foto: Wikipedia)

Die Boere konsentreer hul vuur veral op die kanonniers en die kanonperde. Slegs drie van die 25 kanonniers oorleef.

Agt Boere sneuwel in die geveg, onder wie Johannes Paulus. Ongelukkig kon die spesifieke omstandighede waaronder hy gesneuwel het, nie vasgestel word nie. Daar was egter ’n stormloop op ’n kanon waarin twee Boere gesneuwel het, asook ’n Boerekryger op ’n wit perd wat deur ’n skerpskutter afgemaai is.

Hy word die eerste oorlogslagoffer van die familie.

Johannes Paulus laat sy tweede eggenote, Helena Maria, née Smit, met agt minderjarige kinders agter. Drie van hierdie kinders, onder meer ’n tweeling, sou later tydens die Anglo-Boereoorlog sterf. Sy oudste seun, Willem Johannes, was slegs 15 jaar oud en moes nou vir die gesin instaan.

Willem Johannes Mouton, DTD, DSM, DB – Anglo-Boereoorlog en Eerste Wêreldoorlog

Willem Johannes was maj. Mouton se vader. Hy is in 1866 in Calvinia in die Kaapkolonie gebore en het ná die dood van sy moeder in 1871, op vyfjarige ouderdom, saam met sy vader na die Zuid-Afrikaanse Republiek verhuis.

Sy vader het nog drie kinders gehad – onderskeidelik drie jaar, twee jaar en jonger as een jaar oud. Die gesin het hulle in die Ermelo-omgewing gevestig, waarskynlik op Vlakfontein 233, wat destyds deel van die Middelburg-distrik was.

Willem Johannes tree in 1890 in Middelburg in die huwelik met Dorothea Maria Blanche Davel. Tien kinders is uit hierdie huwelik gebore.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in September 1899 mobiliseer hy as deel van die Middelburg Kommando en veg as gewone burger in Natal. Ná die Natalse veldtog word hy tot korporaal verkies.

Sy korporaalskap verloor tussen Oktober 1900 en Februarie 1902 twaalf burgers. Hy word hierna as veldkornet aangewys. Hy is betrokke by die gevegte by Dundee (Talana), Modderspruit en Colenso. Op 2 Februarie 1901 word hy in ’n skermutseling by Wolvenfontein gewond.

Op 3 Februarie 1901 vind ’n skermutseling by Graspan naby Hendrina plaas. Willem Johannes se halfbroer, Andries Jacobus Johannes Mouton, sneuwel in die geveg. Hy word aanvanklik op Uitgezocht naby Hendrina begrawe en in 1970 by Bergendal herbegrawe.

Dit was die tweede oorlogslagoffer van die gesin.

Program vir die Onthulling van die Bergendal Monument en die her-begrafnis van ondermeer AJJ Mouton

Op 15 Mei 1901 word sy eggenote, Dorothea, en vyf kinders in die Middelburg-konsentrasiekamp opgeneem. Twee kinders, Willem Johannes (vyf jaar) en Adriaan Dirk (een jaar), sterf in die kamp – die gesin se derde en vierde oorlogslagoffers.

Op 2 Oktober 1901 word Dorothea en die oorblywende drie kinders na die Merebank-konsentrasiekamp by Durban oorgeplaas. Hulle oorleef die kamp.

Op 30 Oktober 1901 val genl. Louis Botha met ’n Boere-magsgroep van sowat 400 burgers, insluitend Mouton, lt.kol. George Elliott Benson (1861-1901) se kamp by Bakenlaagte, 20 km wes van Bethal, aan.
Die Boere behaal sukses, buit die Britse kanonne, swaai dit om en vuur daarmee op die Britte. Die Middelburg Kommando is deel van hierdie Boere-mag en Willem Johannes se jonger halfbroer, Johannes Paulus, sneuwel. Hy word op Onverwacht by Bethal begrawe en daarna in die Burgermonument op Bethal herbegrawe – die vyfde oorlogslagoffer vir die gesin.

Burgermonument Bethal waar JP Mouton her-begrawe is (Foto: Rudi van Wyk)

Die broers se suster, Johanna Wilhelmina Christina Uys, née Mouton, dogter van Johannes Paulus, sterf op 6 Desember 1901 in die Standerton-konsentrasiekamp op 28-jarige ouderdom aan “enteric”. Haar vierjarige dogtertjie, Helena Maria, sterf drie weke later, op 31 Desember, aan “enteric” en brongitis.
Dit bring die aantal oorlogslagoffers in die gesin op sewe te staan.

Op 13 Februarie 1902 word Willem Johannes aangestel as kommandant van die deel van die Middelburg Kommando wat suid van die spoorlyn woon. Hy voer die kommando in verskeie skermutselings in die omgewing en langs die Oosterspoor aan.

Hy lê saam met sy kommando op 7 Junie 1902 in Middelburg die wapens neer.

Ná die oorlog ontvang hy die Dekorasie vir Troue Diens (DTD), die Zuid-Afrikaansche en Oranje-Vrystaatse Oorlogsmedalje en die lint vir verwonding.

Kommandant Willem Johannes Mouton (1866 – 1555) DTD (Foto: Volkstem (1904) – Foto KI gerestoureer en gekleur)
Kommandant WJ Mouton se aansoek om die Oorlogsmedalje met aanduiding van gevegte (Foto: Dewald Nel –  Argief)

Op 21 Augustus 1913 word hy aangestel as kommandant van die Olifantsrivierkommando by Middelburg en op 12 Januarie 1915 tot senior kommandant bevorder.

Hy mobiliseer in 1914 as deel van die Unieverdedigingsmag vir die inval in Duits-Wes-Afrika. Aanvanklik dien hy as majoor, maar op 12 Januarie 1915 word hy tot luitenant-kolonel van die Middelburg B-kommando bevorder.

Hy dien in die mag in Suidwes-Afrika tot 10 Junie 1915.

Sy jongste kind, wat tydens die Duits-Wes-Afrika-veldtog uit sy eerste huwelik gebore word, word na genl. Louis Botha, die bevelvoerder van die Uniemag in Duits-Wes-Afrika, vernoem: Louis Botha Mouton. Ongelukkig sterf die kind kort ná geboorte op Kersdag 1914.

Luitenant Kolonel Willem Johannes Mouton (1866 – 1555) DTD, DSM, DB tydens die Eerste Wêreld Oorlog (Foto: Renee Boshoff en Ruan Mouton)
Luitenant Kolonel WJ Mouton se Eervolle Vermelding (Foto: Argief – Dewald Nel)

Vir sy diens in die Duits-Wes-Afrika-veldtog word die Distinguished Service Medal (DSM) op 1 Januarie 1916 aan hom toegeken. Hy word ook eervol vermeld, en die vermelding word op 22 Augustus 1918 in die London Gazette gepubliseer. Die 1914-1915-ster en die British War Medal word ook aan hom toegeken.

Op 27 Oktober 1927 word hy bevorder tot kolonel weens sy diens as luitenant-kolonel vir meer as 10 jaar. Hy tree op 28 Oktober 1927 uit die Unieverdedigingsmag en word aangestel as erekolonel van die Olifantsrivierkommando.

Personeel Rekordkaart Kolonel WJ Mouton (Foto: Theo Ligthelm – Militêre Argief)

Sy lewe was egter ook gevul met verskeie tragedies.
Ná die dood van sy eerste eggenote, Dorothea Maria Blanche, née Davel (1871-1915), tree hy weer in die huwelik met Johanna Susanna Anette, née Rudolph (1880-1921). Tien kinders is uit die eerste huwelik gebore – twee sterf in die konsentrasiekamp.

Uit die tweede huwelik word twee verdere seuns gebore, naamlik maj. Jacobus Andreas en sy broer Johannes Rudolf (1919-1958). Tydens ’n derde swangerskap in 1921 sterf Susanna in die kraam aan bloedverlies. Die kind sterf ook.

Johannes Rudolf ontwikkel later kanker in die ruggraat en sterf in 1958 op 39-jarige ouderdom in Pretoria.

Willem Johannes tree in 1922 weer in die huwelik met Martha Elizabeth Steenkamp (1872-1930). Ná haar dood tree hy in 1930 weer in die huwelik met Johanna Adriana Massyn (1876-1947). In 1947 tree hy in die huwelik met Maria Petronella Johanna Mouton (1887-1975).

Moutonstraat in Hendrina word na Willem Johannes vernoem.

Willem Johannes sterf op 5 Julie 1955 en word langs sy eerste eggenote in die Hendrina-begraafplaas begrawe.

Kolonel WJ Mouton se graf in Hendrina Begraafplaas (Foto: eGGSA)

Jacobus Andreas Mouton, DFC – Tweede Wêreldoorlog

Jacobus Andreas Mouton, bekend as Andries, is op 23 Julie 1917 in Middelburg gebore. Sy ouers is Willem Johannes Mouton en dié se tweede eggenote, Johanna Susanna Anette, née Rudolph.
Sy ouers woon destyds op Vlakfontein 233 en in Scheepersstraat in Hendrina. Sy broer, Johannes Rudolf, word op 22 Julie 1919 gebore.

Op 17 April 1921 ontwikkel sy moeder komplikasies tydens die kraam van haar derde kind en sterf aan bloedverlies. Jacobus Andreas is drie jaar oud.

Majoor Mouton se ouers Willem Johannes Mouton en Johanna Susanna Anette née Rudolph (Foto: Renee Boshoff en Ruan Mouton)

Hy begin waarskynlik sy skoolopleiding aan ’n plaasskool op Vlakfontein en slaag matriek in 1934, waarskynlik aan Middelburg Hoërskool. Indien dit die geval was, sou hy in Voorspoed-koshuis gewoon het.

Majoor Jacobus Andreas Mouton, DFC in sy uniform met oorspronklike kentekens en vlerkies (vleuels) (Foto: Renee Boshoff en Ruan Mouton)

Ná matriek sluit hy by die staatsdiens aan as ’n klerk in Justisie en werk in die landdroskantoor in Potchefstroom. Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria vir ’n BA-graad, waarskynlik met die oog op regstudies, aangesien sy broer dieselfde studierigting volg.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog besluit Jacobus om uit die staatsdiens te bedank en by die Unieverdedigingsmag se Lugmag aan te sluit as oorlogsvrywilliger in die Gesamentlike Vliegopleidingskema vir vlieëniers vir Suid-Afrika en die Geallieerde Magte.

Hy attesteer op 20 Junie 1940 in die Unie Lugmag, 10 maande ná die uitbreek van die oorlog. Hy voltooi sy opleiding onder meer aan 1 Basiese Vliegskool by Baragwanath, 22 Lugskool by Vereeniging en 61 Lugskool in George. Hy ontvang op 2 Desember 1940 sy vlieëniersvlerkies.

Sy opleidingsrekord dui op besondere prestasie. Hy word bogemiddeld geklassifiseer in algemene- en instrumentvliegkuns, asook in geskutvaardigheid.

Hy word ook byna jaarliks bevorder: van tweede luitenant in 1941 tot kaptein in 1942 en majoor in 1943. Sy gedragsstaat is onbesproke.

Personeel Rekordkaart van majoor JA Mouton DFC (Foto: Theo Ligthelm – Militêre Argief)

Op 26 November 1941 word hy aan 21 Eskader (SALM) by Nakuru in Kenia toegewys, waar hy Martin Maryland-medium bomwerpers vlieg vir die Westelike Woestynoorlog teen die Spilmoondhede.

SA Lugmag Vlieëniers van 21 Eskader  in “Tight Box” formasie met Martin Maryland bomwerpers op pad na ‘n missie in Noord Afrika (Foto: https://www.facebook.com/groups/southafricansinww1ww2korea)

Maj. Mouton ontvang die DFC vir sy waagmoed en toewyding as lid van 21 Eskader in hierdie bomwerper. Die gesogte medalje word in Julie 1943 aan hom toegeken en verleen aan hom die status om die na-naamse letters DFC te gebruik.

Distinguished Flying Cross (United Kingdom) Medalje (Foto: liverpool medals) – (hierdie is nie Maj Mouton se eie medalje nie – die is verlore)
Die Koning se goedkeuring vir die toekenning van die Distinguished Flying Cross aan Maj. Mouton en publikasie in die London Gazette (Foto: Theo Ligthelm – London Gazette)
Sitaat vir Majoor Mouton vir die Distinguished Flying Cross in Noord Afrika (Foto: Dewald Nel – Argief)

Op 20 April 1943 word hy oorgeplaas na 55 Eskader van die Britse Lugmag (RAF), ’n bomwerper-eskader wat Martin Baltimore- en Boston-bomwerpers in die Noord-Afrika-veldtog vlieg. Hy reis via Londen om by die eskader aan te sluit.

Nadat die Spilmoondhede in middel 1943 in Noord-Afrika oorgegee het, word die eskader by die oorlog in Operasie Husky betrek – die inval in Sisilië vanuit Noord-Afrika en Malta. Vanaf September 1943 ontplooi die eskader na Brindisi en Foggia in Italië.

Op 5 April 1944 word hy oorgeplaas as vlugbevelvoerder van 31 Eskader (SALM), ’n swaarbomwerper-eskader by die SALM-depot in Almaza, Egipte.
Die vlugpersoneel word na Lydda in Palestina gestuur vir opleiding op die Consolidated B-24 Liberator, ’n massiewe viermotorige swaarbomwerper.
Op 27 Mei 1944 vlieg die eskader sy eerste operasionele missies vanaf Gebel Hamzi teen teikens op die Duits-besette eiland Kreta. In Junie 1944 skuif die eskader na Foggia in die suide van Italië. Van hier af brei hul operasionele gebied drasties uit om bomaanvalle op die Balkan, Oostenryk en Noord-Italië in te sluit, asook die lê van myne in die Danube-rivier.

B-24 Liberator Swaar Bomwerper in die kleure van die RAF (Foto: RAF)

Die Consolidated B-24 Liberator is ’n Amerikaanse viermotorige swaarbomwerper wat deur Consolidated Aircraft van San Diego, Kalifornië, ontwerp is. Die verdedigende bewapening van die B-24 het gewissel na gelang van die vliegtuig se rol.

Die bomwerpers was toegerus met tot tien 12,7 mm M2 Browning-masjiengewere in die skiettorings en aan die kante. Die Liberator kon ’n bemanning van tot 10 dra. Die vlieënier en medevlieënier het langs mekaar in die kajuit gesit, met ’n goeie uitsig. Die navigator en bombardier het in die neus gesit.

Hulle het ook as masjiengeweeroperateurs diens gedoen deur die masjiengewere in die neus en aan die kante van die neus te bedryf. In die pre-B-24H-modelle het hulle in ’n goed omraamde “kweekhuisneus” gesit, met sowat twee dosyn geglasuurde panele en twee beweegbare balhouers vir vorentoe-verdedigende vuurkrag.

Later weergawes is toegerus met ’n kragaangedrewe 12,7 mm M2 Browning-dubbelmasjiengeweerskiettoring in die neus. Die navigator en bombardier het ook die twee masjiengewere aan die kante van die neus beman indien nodig.

Die radio-/radaroperateur het agter die vlieëniers gesit, na die kant gekyk en soms die masjiengewere aan die kante van die vliegtuig beman. Die vlugingenieur het langs die radio-operateur agter die vlieëniers gesit en ook soms die dorsale skiettoring, wat agter die kajuit en voor die vlerk was, beman.

Tot vier bemanningslede kon in die middel van die vliegtuig gehuisves word om die masjiengewere in die sye, die onderste terugtrekbare bal-skiettoring en die agterste skiettoring te beman. Die skietluike aan die kante was met deure voorsien, aangesien die vliegtuig nie drukbeheer gehad het nie.

Die onderste skiettoring moes terugtrekbaar wees sodat daar voldoende grondvryhoogte was wanneer die vliegtuig land. Dit het ook minder lugweerstand gebied wanneer die vliegtuig nie oor vyandelike gebiede gevlieg het nie. Die agterste kragaangedrewe stertskiettoring was agter die stertvlak.

Die B-24 het oor ’n driewielonderstel beskik – met ’n neuswiel eerder as ’n stertwiel – en was die eerste Amerikaanse bomwerper wat so ontwerp is. Die hooflandingonderstel van lang enkel-oleo-stutte is van onder die vlerke laat sak.

Die vliegtuig het differensiële remming en stukrag vir beheer op die grond gebruik, wat dit moeilik gemaak het.
Dit was maj. Mouton se werkruimte.

Liberator as deel van die Mediterranean Allied Airforce No 2 Wing SAAF 31 en 34 Eskaders (Foto: Phil Evans)

Maj. Jacobus Andreas Mouton, DFC se laaste vlug

Op 28 Junie 1944 was hy die bevelvoerder van ’n B-24J Liberator as deel van ’n formasie bomwerpers op ’n nagvlug uit Foggia in Italië. Hulle moes die olieraffinadery en stoortenks aan die noordoewer van die Danube-rivier by Giurgiu in Roemenië bombardeer. Hierdie installasies was van kritieke belang vir die Duitse oorlogsindustrie.

Die bomwerpers word oor die teiken, of op pad terug oor Boekarest in Roemenië, deur Luftwaffe-nagvegters van die Spilmoondhede aangeval. Maj. Mouton se vliegtuig stort in Bulgarye neer.
Maj. Mouton, DFC, en lt. Herbert Harley Bunce (31) van Kaapstad, die skutoffisier, word gedood. Die res van die bemanning kon betyds met valskerms uitspring, oorleef en word krygsgevange geneem.

Finale tragiese  Inskrywing op Personeel Rekordkaart van Majoor JA Mouton – Killed in Action  (Foto: Theo Ligthelm – Militêre Argief)

Maj. Mouton en lt. Bunce word aanvanklik in ’n klein begraafplaas naby die ongelukstoneel begrawe. Hulle word later, saam met nog vyf Suid-Afrikaners, in die Sofia-begraafplaas in Bulgarye herbegrawe.

Hy ontvang:

  • Distinguished Flying Cross op 23 Julie 1943
  • Afrika Diens Medalje 1939-1945 van Suid-Afrika
  • 1939-1945 Ster van Suid-Afrika
  • Italiaanse Ster van Groot Brittanje
  • Afrika Ster van Groot Brittanje
  • Oorlog Medalje 1939-1945 van Brittanje.

Vandag rus ’n Middelburger wat die Distinguished Flying Cross ontvang het, in ’n graf in Sofia, Bulgarye – die laaste van ’n familie wat talle oorlogslagoffers opgelewer het.

Grafsteen Majoor JA Mouton, DFC met inskripsie Greater Love hath no man than to lay down his life for his friends (Foto Andrew Fetrerston)
Militêre Begraafplaas in Sofia Bulgarye met ‘n Middelburger se Graf (Foto: South Africans in WWI, WW2 and Korean War)

Ons eer graag sy nagedagtenis en dié van die res van die familie – ’n familie wie se geskiedenis onlosmaaklik met Middelburg en die oorloë van Suid-Afrika verbind is.

Bibliografie beskikbaar vanaf die outeur.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button