“Om op te kyk en die Vader se hand te ervaar. Verskietende sterre wat die donker nag ophelder. Die donker help ook om nie te sien hoe die pad voor jou lyk nie! Dit is juis dié ‘nie kan sien’ in die donker wat vreesaanjaend is.”
Sarel Esterhuizen kan nie uitgepraat raak oor sy epiese tog van Cullinan na Dullstroom nie – 250 km se trap deur die nag.
Dit is ’n fietswedren vir die hardebaarde, die ware vasbyters – dié met sitvlakke harder as dié van ’n ou bobbejaanmannetjie.

Tog kan jy die wedren romantiseer. Jy spring immers weg by Cullinan, die diamantdorpie net anderkant Rayton. Jy trap deur die nag en doen by ’n waterpunt by De Villa Lodge aan. Daarna is dit deurdruk verby Stoffberg en Tonteldoos, tot by nog ’n juweel, Dullstroom – met ’n allemintige 3 200 m se klim.
Die wedren staan bekend as die Race2Tonteldoos.
Twee lede van die Middelburg Fietsryklub het die 250 km Vrydagaand suksesvol voltooi.
Gerhard Smith was 46ste in ’n tyd van 03:40:28. Hy was teleurgesteld met sy vertoning en sê hy wou veel beter gedoen het.

Esterhuizen het egter vriend en vyand verras deur 25ste te eindig in ’n tyd van 03:28:33 en sesde in sy ouderdomsgroep.
Die Middelburg Observer het hom oor sy ervaring uitgevra.
Hoe voel jou sitvlak?
My sitvlak is gaar. ’n Goeie saal hou net 40 km!
Hoe was die ervaring?
Lekker, maar hard. Onseker aan die begin. Almal loer onderlangs na mekaar se fietse. Het ek genoeg warm klere? Is my ligte reg? Gaan die batterye hou?
Gaan mý battery hou?
Elkeen van die deelnemers, mans en vroue, was ongelooflik. Almal deel stories en inspirasie op die lang pad.
Die wedren is baie goed georganiseer. Jack Black en sy span het uit hul pad gegaan om hul ervarings met ons te deel.
Waterpunte was goed beplan en het aan ’n moeë fietsryer se behoeftes voldoen.
Wat was die moeilikste gedeelte?
Die laaste 40 km. Stoffberg, o liewe Stoffberg! Stoffberg kan koud word om 04:00 in die oggend. Die hoogte was ongeveer 800 m oor die 40 km. Never-ending story.
Jou ouderdom?
Stokoud na die wedren! 55 jaar.
Wat is jou volgende uitdaging?
Ek is deel van die Care Riders-span wat einde November aan die Munga-uithourit in ’n aflosspan deelneem. Elke ryer trap ongeveer 250 km.
Die Munga word beskryf as “nie ’n wedren waaraan jy deelneem omdat dit maklik is nie. Dis ’n wedren waaraan jy deelneem omdat iets binne-in jou wil uitvind van watter stoffasie jy gemaak is.”
Die roete van 1 048 km strek oor Suid-Afrikaanse gruispaaie van Bloemfontein tot Wellington, deur die hart van die Karoo in die middel van die somer. Vyf wedrendorpe. Tien waterpunte. Sonder ophou.
Net jy en die pad en die vraag wat jou aanvanklik hierheen gebring het.
Elke deelnemer kom aan met ’n ander verhaal. ’n Ander rede. ’n Ander weergawe van die vraag waarop hulle ’n antwoord van die Karoo soek.
Teen die tyd dat die eindstreep in Wellington bereik word, is daardie vraag beantwoord. En die antwoord verander alles.

Hoeveel kilometer het jy voor die tyd geoefen?
O tog, hopeloos te min! Kan mens ooit genoeg oefen?
Vertel nog:
Ek was gereed vir die wedren. Baie positief. Ek het vooraf die kaart goed bestudeer en presies geweet hoe om met my GPS te werk. Inteendeel, ek ry al ’n paar jaar met my Garmin-GPS.
Die wedren het op ’n hoë noot begin. ’n Skotse doedelsakspeler het die begin van die wedren aangekondig. Met adrenalien wat deur my are bruis om te begin en die musiek in my ore, kon my vingers egter nie die regte knoppie op my GPS vir die kaart vind nie.
Die roete is nie gemerk nie. Ek was veronderstel om die kaart wat ek vooraf so goed bestudeer het, op my GPS te volg. Maar met die verkeerde druk van knoppies was my kaart nie beskikbaar nie.
Plan B was toe gou in werking: volg die mense voor jou.
Dit was nie altyd maklik nie. Soms was daar geen rooi agterliggies wat ek kon volg nie. Dan was dit ’n gebedsaak – en rooi liggies het in die donker verskyn!