Anja Tromp is vir die Proteas gekies!
Dié Middelburger is by die binnenshuise Proteahokkiespan ingesluit vir ’n toetsreeks teen Namibië.
Die groep van 14 spelers is ’n kombinasie van internasionale ervaring en opwindende jong talent.
Anja, Manisha Desai, Jodie Blows en Jehan Abrahams gaan hul internasionale debuut vir Suid-Afrika maak.

Die nuwelinge word deur ’n sterk en ervare kern ondersteun, met Tegan Fourie, Jamie Southgate en Edith Molikoe wat waardevolle internasionale ervaring en leierskap bied.
Die Namibiese reeks sal aan Suid-Afrika ’n geleentheid bied om samespel te versterk, meer spelers aan internasionale mededinging bloot te stel en voort te gaan met die ontwikkeling van die hoë intensiteitstyl wat die land as een van die voorste nasies in internasionale binnenshuise hokkie gevestig het.
Anja het Suid-Afrika verlede jaar by die o. 21 Junior Wêreldbeker in Santiago, Chili, verteenwoordig.
Sy was in Laerskool Middelburg en het in 2023 aan die Hoërskool Menlopark gematrikuleer.
Haar hokkieloopbaan het by The Hockey Farm begin, wat ’n groot aandeel in haar sukses gehad het.
Sy het reeds op laerskool vir die Mpumalanga A-span gespeel en was ook ’n staatmaker in die Northerns Blues- provinsiale hokkiespan en die SA Skole o. 18 A-span.
