News

Nog ’n jong bedelaar sterf

Weldoener neem hom onder sy dak voor sy laaste oomblikke op aarde

Nog ’n jong bedelaar is dood. Die soveelste een.

Quintin Bernardo, gebore op 2 April 1983, is by die huis van ’n weldoener dood.

Ironies genoeg het Neil Moonsamy hom van die straat af huis toe geneem, vir hom kos gegee en gesorg dat hy bad. Daardie nag is Bernardo dood.

Daagliks bedel

Moonsamy kon nie bereik word vir kommentaar nie, daar word verneem dat sy selfoon weg is.
Bernardo was een van Middelburg se talle jong inwoners wat daagliks iewers bedel, om vir hom ’n fix te koop.
Die oorsaak van sy dood is nog nie bepaal nie.

Daar is navraag gedoen by die Suid-Afrikaanse Polisie, maar sy afsterwe is nie as onnatuurlike sterfgeval hanteer nie en sy liggaam is deur ’n privaat begrafnisondernemer verwyder.

Bernardo is sonder enige nabye familie oorlede. Sy ma is dood toe hy nog baie jonk was, en volgens Johanna Deysel, ’n vriendin van sy pa, Clive, het hy net ’n bejaarde tante in die Kaap gehad.

“Na sy pa se dood het hy die pad byster geraak. Dwelms het sy menswees gesteel,” sê Deysel.
Vriende probeer tans geld bymekaarmaak om vir sy begrafnis te betaal.

Deysel sê hy het as kind baie hartseer beleef. “As ’n mens het hy geval. Soos hy gelewe het, so het hy gesterwe.”
Sedert die Narkotika Buro (Sanab) in 2004 gesluit het, floreer dwelmhandel op die dorp.

Monique Germishuizen, een van die gelukkiges wat daarin geslaag het om uit die dwelmhel te ontsnap, het voorheen vertel dat vyf van haar vriende reeds aan dwelmoordosisse dood is.

Middelburg se lys van dwelmverwante sterftes is lank. Baie lank.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button