Jong Potgieter by Sun City in aksie
Middelburgse gholfliefhebbers maak gereed om plaaslike ster Aldrich Potgieter te ondersteun wanneer internasionale top-gholfspelers by die Gary Player-buiteklub afslaan.
Wanneer die Nedbank Gholfuitdaging, voorheen bekend as die Million Dollar Challenge, op 3 Desember by Sun City afslaan, gaan Middelburgers die aksie met groot belangstelling volg.
Een van hul geliefde seuns, Aldrich Potgieter, het weer ’n uitnodiging na die toernooi ontvang. Die kompetisie vind van 3 tot 6 Desember by die Gary Player-buiteklub op Sun City plaas.
Die prysgeld is $6 miljoen (ongeveer R98 miljoen teen die huidige wisselkoers). Elf Suid-Afrikaners is deel van die deelnemersveld.
Plaaslike en internasionale sterre gereed vir aksie
Die organiseerders het vanjaar ook ’n sterk groep spelers genooi wat besonder gewild onder toeskouers is. Hulle sluit die jong Potgieter, Bubba Watson, Christiaan Bezuidenhout, Bryson DeChambeau en Branden Grace in. DeChambeau was ’n groot gunsteling tydens die LIV-gholftoernooi wat in Suid-Afrika aangebied is.

Laevelders sal ook die telbord dophou, met die Nelspruiter Thriston Lawrence onder die deelnemers.
Ander deelnemers sluit Kristoffer Reitan (Noorweë), Wyndham Clark (VSA), Hennie du Plessis (Suid-Afrika), Ben Griffin (VSA), Michael Hollick (Suid-Afrika), Casey Jarvis (Suid-Afrika), Shaun Norris (Suid-Afrika), Marco Penge (Engeland), Yurav Premlall (Suid-Afrika), Justin Rose (Engeland), Jayden Schaper (Suid-Afrika) en Richard Sterne (Suid-Afrika) in.
Kwalifikasie vir die uitspeelrondes bevestig
Potgieter het in ’n plasing op sy sosialemediaplatforms gesê: “Die 2026-PGA-seisoen is afgehandel! Dit was ’n uitdagende seisoen met baie hoogte- en laagtepunte, maar ek is trots dat ek bly veg het en dit uiteindelik reggekry het om vir die FedExCup-uitspeelrondtes te kwalifiseer.
“Daar was vanjaar baie nuwe dinge en groot veranderinge waaraan ek nog gewoond moet raak: ’n nuwe fisioterapeut, afrigter, bestuurspan en selfs ’n nuwe liggaam en toerusting, saam met ’n nuwe span. Al hierdie veranderinge sal my op die lang termyn sterker en meer bestendig maak, hoewel dit baie is om tegelykertyd te hanteer. Ek is ongelooflik dankbaar teenoor my familie, span, borge en almal wat my deurgaans ondersteun het. Daar is baie waarop ek gedurende hierdie buiteseisoen kan voortbou en wat ek kan verbeter!”
• Om vir die FedEx Cup te kwalifiseer beteken dat ’n gholfspeler sukses behaal het in die PGA Toer se amptelike seisoenlange puntestelsel en sodoende ’n plek in die daaropvolgende uitspeelrondes verdien het. Dit is een van die hoogste eerbewyse in professionele gholf, met die grootste prysgeld op die Amerikaanse toer
Spelers versamel regdeur die seisoen punte op grond van hul vertonings in toernooie. Om vir die FedExCup-uitspeelrondes te kwalifiseer, moet ’n speler aan die einde van die gewone seisoen onder die top-70 op die ranglys wees.
Ranglys:
1. Scottie Scheffler – Wenner (-16)
2. Viktor Hovland – 2de plek (-13)
3. Ryan Gerard – 3de plek (-12)
4. Ludvig Åberg, Jacob Bridgeman, Alex Fitzpatrick, Chris Gotterup, Russell Henley, Min Woo Lee, Rory McIlroy (-11)
67. Aldrich Potgieter – 591 punte
68. Ricky Castillo – 582 punte
69. Matti Schmid – 580 punte
70. Jackson Koivun – 558 punte.