Middelburg en omliggende boere moeg besteel
Veiligheidskoördineerder praat oor uitdagings na moorde en slagting.
Plaasanvalle, veediefstal, diefstal, politieke dreigemente en die beskadiging van infrastruktuur veroorsaak dat boere nie meer hulle werk kan doen nie.
“Boere sit met hulle hande in die hare, daar hang ’n swaard oor hulle koppe, wat tot gevolg het dat hulle nie kan boer nie,” sê die landelike veiligheidskoördineerder van die Banke Boereunie, Kallie Erichsen.
Jong boere soos Willem Cloete het verlede week by hom gaan aanklop vir hulp na die soveelste veediefstal op sy plaas.
Hierdie keer is vier van sy Dexterbeeste in ’n veld geslag. Die beeste se koppe en ingewande is net so gelos en die vleis in ’n paneelwa gedruk.
Vier mans verskyn vandag in die hof in verband met die slagting.
Die boeregemeenskap is ook die afgelope drie weke geskok deur die wrede aanvalle op Hannetjie van Zyl en Donovan Marx. Die twee plaasaanvalle het net meer as drie weke uitmekaar in Noordwes plaasgevind.
Van Zyl is herhaaldelik met ’n ysterpaal oor die kop geslaan toe sy by haar hek oorval is. Donovan is geskiet én sy ore afgesny. Hy is steeds in ’n hospitaal op Potchefstoom.
Erichsen sê boere loop so erg deur onder misdaad dat hulle dit nie eers meer aanmeld nie.
Hy sê mense daag ook ongenooid op plase op en maak politieke dreigemente.
“Die boer moet dan sy werk los en aan die saak aandag gee en ure gaan verlore – so kan mens nie boer nie.”
Boere loop volgens hom erg deur onder veediefstal. Somtyds word beeste kilometers ver aangejaag soos in die geval van Flippie van der Merwe. Sy beeste is vanaf Elandslaagte, verby die Dennesig-bloekombos tot in Mhluzi aangejaag.
Oor die slagting op Willem Cloete se plaas sê hy dit is ’n groot terugslag vir sy kudde.
“Dit was ’n stoetbul wat geslag is wat hy juis aangekoop het om sy kudde te verbeter en nou is sy hele teelprogram omver gewerp.”
Boere sit egter nie hande gevou nie en het verlede week in groot getalle by Laerskool Uitkyk bymekaar gekom om oplossings te probeer vind.
Daar word onder andere beoog om meer kameras langs paaie aan te bring.