News

Nederduitsch Hervormde Gemeente: ’n Geskiedenis van geloof, verdeeldheid en volharding

Die Nederduitsch Hervormde Gemeente Middelburg se geskiedenis strek oor meer as ’n eeu van kerklike verdeeldheid, kerkvereniging, regstryd en uiteindelike groei tot die gemeente wat dit vandag is.

In 1860 besluit die Volksraad van die Republiek van Lydenburg om ’n distrik met die naam Middelburg te vestig, ongeveer halfpad tussen Pretoria en Lydenburg.

Op 28 Februarie 1864 koop die Nederduits Gereformeerde Kerk van Lydenburg die plaas Sterkfontein 572 van Lodewyk de Jager met die doel om ’n nuwe kerkdorp vir die kerk te vestig.

Ontstaan van die Nederduitsch Hervormde Gemeente Middelburg

Op 31 Augustus 1854 skei die gemeente van Lydenburg, die Staatskerk van die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR), van die Transvaalse kerklike organisasie af en sluit by die Kaapse Sinode aan.

In Maart 1857 word Lydenburg ’n onafhanklike republiek, maar op 4 April 1860 word dit weer deel van die ZAR as ’n afsonderlike distrik. Lydenburg se kerk bly daarna tot in 1864 onafhanklik van die Hervormde Kerk.

Ds. PAC van Heyningen word gedurende Februarie 1859 as predikant van die Lydenburgse Kerk bevestig. Hy beywer hom spoedig daarvoor dat die kerk weer by die Staatskerk (Hervormde Kerk) aansluit.

Op 12 September 1864, tydens die algemene kerkvergadering van die Hervormde Kerk in Pretoria, word Lydenburg se Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk weer verenig.

Op 17 Maart 1866 skei Lydenburg hom egter weer van die Nederduitsch Hervormde Kerk af. ’n Klein groepie lidmate, onder leiding van ouderling Salmon Botha en diaken L Jordaan, wat nie ten gunste van die afskeiding was nie, hou egter as die Nederduitsch Hervormde gemeente aan voortbestaan. Albei hierdie kerkraadslede se kerkplek was in Middelburg.

Professor SP Engelbrecht verklaar dat die gemeente van Middelburg die voortsetting was van die gemeente van Lydenburg, wat in Augustus 1854 van die Nederduitsch Hervormde Kerk afgeskei het, maar op 12 September 1864 onder leiding van ds. Van Heyningen weer daarby aangesluit het. Daarom word September 1864 as die stigtingsdatum van die Middelburgse gemeente op die kerkalmanak aangedui.

Die eerste kerk van die Nederduitsch Hervormde Gemeente Middelburg

Op 4 November 1868 doen die kerkraad by die uitvoerende raad van die ZAR aansoek om twee of drie erwe in Nazareth (Middelburg) vir die bou van ’n kerk en pastorie. Die aansoek word goedgekeur en drie erwe word dieselfde jaar aan die Nederduitsch Hervormde gemeente Middelburg geskenk.

In 1869 word ds. GW Smits as konsulent van die Middelburgse gemeente beroep, waarna daar besluit word om ’n kerkgebou op te rig. Die gebou word teen ’n koste van £480 opgerig en op 3 November 1876 deur Smits ingewy.

Die hout-en-sinkkerkie het in Markstraat (nou OR Tambostraat), op erf 296, gestaan.

voorstelling van ‘n sink-en hout kerkgebou
 
(Hierdie is nie die kerkgebou in Middelburg nie, maar die kerk sou waarskynlik soortgelyk gewees het)
(Foto: Wikipedia)

In November 1876 gee die kerkraad toestemming dat die kerkgebou ook as skool gebruik mag word. Mnr. H van der Linden, ’n Hollander, word op 8 November 1876 as hoofonderwyser aangestel.

Die kerkie was egter nie lank in gebruik nie. Op 25 Maart 1882 besluit die kerkraad en gemeente om ’n nuwe kerk op te rig, aangesien insekte die houtwerk van die bestaande gebou beskadig het.

Kerkvereniging en die voortsetting van die Nederduitsch Hervormde Kerk

Teen die einde van 1882 begin die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Nederduitsch Gereformeerde Kerk in Transvaal formeel oor kerkvereniging onderhandel. Albei kerke besluit dat ’n gesamentlike sinodesitting op 7 Desember 1885 gehou sal word.

Intussen moes die gemeentes op elke dorp ook verenig. Die Nederduitsch Hervormde gemeente Middelburg word tydens die kerkraadsvergadering oor die samesmelting deur sy konsulent, ds. DP Ackerman van die gemeente Marthinus-Wesselstroom (nou Wakkerstroom), verteenwoordig. Die Nederduits Gereformeerde gemeente Middelburg word deur ds. AP Burger verteenwoordig.
Die samesmelting vind op 25 Oktober 1885 plaas, waarna die gemeente die naam Nazareth aanneem.

Hoewel nie al die lidmate met die samesmelting tevrede was nie, word al die kerklike eiendom van die Nederduitsch Hervormde gemeente Middelburg aan die nuwe Verenigde Kerk oorgedra.

Ds DP Ackerman (1875-1916) (Foto KI Gerestoureer)

Op 7 Desember 1885 word die gesamentlike sinodesitting van die twee kerke gehou. Vier predikante van die Nederduits Gereformeerde Kerk verteenwoordig 11 500 siele, waaronder 4 614 lidmate. Ses predikante van die Hervormde Kerk verteenwoordig 21 875 siele, waaronder 9 237 lidmate.

Die Verenigde Kerk staan bekend as die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk. Hierdie benaming is deur Burger van Middelburg voorgestel en sou later ’n belangrike rol speel in die aanvaarding van die kerkvereniging deur sekere lidmate.

Die kerkvereniging lei tot verskeie komiese voorvalle wat illustreer hoe sterk sommige gemeentelede daaroor gevoel het.

Ouderlinge wat teen die vereniging gekant was, het geweier om die predikant van die Verenigde Kerk tydens huisbesoeke te vergesel. Hulle het ook dikwels gemeentelede teen die kerkvereniging opgesweep. In Middelburg was daar 36 persone wat reeds as lede van die Verenigde Kerk ingeskryf was, maar hul ‘name teruggeëis’ het omdat hulle, volgens hulle, geen aandeel aan die kerkvereniging gehad het nie.

In 1887 besoek ds. Andrew Murray, moderator van die Kaapse Sinode, die omgewing. Tydens ’n nagmaaldiens, waartydens die voormalige Hervormde predikant, ds. Biccard, die nagmaal lei, gaan die Hervormers aan vir nagmaal, maar die Gereformeerdes weier om deel te neem.

Tydens ’n doopgeleentheid staan die ouers in rye voor die kansel. Wanneer Burger naderkom, trek hulle egter hul kinders terug!
Op ’n ander geleentheid kom di. Burger en Murray ná ’n heeldagreis laatmiddag by ’n Hervormde gesin aan tydens ’n huisbesoek. Die gasheer is ontevrede oor die ‘Gereformeerde predikante’ se besoek, terwyl die gasvrou weier om op te staan en vir hulle iets te ete aan te bied of slaapplek voor te berei. Die twee predikante word na die buitekamer verwys, waar hulle die nag noodgedwonge saam op ’n enkelbed moet deurbring.

Die hout-en-sinkkerkgeboutjie van die Hervormde gemeente word aan Richard White, die oom van Joseph Henry (Harry) Laver Sr., die latere burgemeester van Middelburg, verkoop. Hy rig die gebou by sy meule op Witvlei, naby Roossenekal, op.

Gedurende Februarie 1886 vind ’n vergadering op Witfontein (Bronkhorstspruit) plaas. Tydens die vergadering besluit lidmate wat teen die samesmelting gekant is om die Nederduitsch Hervormde Kerk in stand te hou.

Op 3 Januarie 1887 stuur die Nederduitsch Hervormde gemeente Middelburg twee verteenwoordigers, JH Vorster en LC le Grange, na ’n vergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk op Witfontein.

Ouderling JH Vorster (Foto KI Gerestoureer)

Die doel van die vergadering is om ’n predikant vir die gemeentes van Standerton, Heidelberg en Middelburg te beroep. In Maart 1887 word ds. MJ Goddefroy, ’n predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Achlum, Nederland, as konsulent van dié drie gemeentes beroep. Goddefroy aanvaar die beroep en kom in Junie 1887 in Pretoria aan.

Omdat al die kerklike eiendom tydens die samesmelting aan die nuwe Verenigde Kerk oorgedra is, is die omstandighede vir groei en ontwikkeling binne die Nederduitsch Hervormde Kerk besonder ongunstig. Die Nederduitsch Hervormde gemeente Middelburg beskik nie meer oor ’n kerkgebou nie en moet noodgedwonge eredienste onder bokseile hou.

Vanaf 1890 raak die kerk by verskeie hofsake met die nuwe Verenigde Kerk betrokke in ’n poging om die kerklike eiendom wat tydens die vereniging verlore gegaan het, terug te kry.In Junie 1893 beslis regter CJ Kotzé in die saak The Nederduitsch Hervormde Congregation of Standerton versus The Nederduitsch Hervormde or Gereformeerd Congregation of Standerton in die Transvaalse Hooggeregshof dat alle kerklike eiendom van die Nederduitsch Hervormde gemeente wat tydens die vereniging aan die Verenigde Kerk oorgedra is, aan die Nederduitsch Hervormde Kerk terugbesorg moet word.

Hy beslis ook dat die volledige ontbinding van ’n geloofsgemeenskap slegs kan plaasvind indien al die lede van daardie gemeenskap daartoe instem.

Volgens Engelbrecht keer groot getalle lidmate van die Nederduitsch Hervormde gemeente Middelburg wat aanvanklik by die nuwe Verenigde Kerk aangesluit het, sedert 1894 na die Nederduitsch Hervormde Kerk terug. Burger beweer egter dat die grootste groep lidmate deel van die Verenigde Kerk gebly het.

Tweede kerk van die Nederduitsch Hervormde Gemeente Middelburg

Die uitspraak in die saak van die Nederduitsch Hervormde gemeente van Standerton (Trichardtsfontein) in 1893, waarvolgens alle kerklike eiendom wat tydens die vereniging van 1885 aan die nuwe Verenigde Kerk oorgedra is, terugbesorg moes word, bevoordeel ook die Nederduitsch Hervormde gemeente Middelburg.

Die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde gemeente Middelburg word gevolglik verplig om die eiendom van die Nederduitsch Hervormde gemeente terug te besorg.

Die Nederduitsch Hervormde gemeente Middelburg ontvang twee erwe van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde gemeente as vergoeding vir die ou sinkkerkie, wat intussen afgebreek en aan RG White, ’n handelaar in Witpoort, verkoop is.
President Kruger bied aan dat die regering vier erwe op elke dorp aan gemeentes van die herstigte Hervormde Kerk sal skenk, mits die betrokke gemeentes onderling ooreenkom om die verdeling van kerklike eiendom vreedsaam af te handel.

In 1896 besluit die Nederduitsch Hervormde gemeente Middelburg om ’n nuwe kerkgebou op te rig. Die boukontrakteur is Van Wourt en die argitek JD Staats.

Die kerk word op erf 196, op die hoek van Dwarsstraat (nou Lilian Ngoyi-straat) en Middelstraat (nou Bhimy Damane-straat), opgerig.

In 1918 registreer die gemeente, waarskynlik weens die destydse ekonomiese omstandighede in die Unie, ’n verband van £350 op die kerk as sekuriteit vir ’n lening by Joseph Henry Laver, ’n sakeman op die dorp.

Die orreltjie het links van die preekstoel op ’n houtplatformpie gestaan.

preekstoel – 1896 kerk (Foto: KI Gekleur en Gerestoureer)

Die totale boukoste van die kerk beloop R26 000 (Green, 1986).

Pastorieë

Akkommodasie vir die predikant was van die begin af ’n belangrike prioriteit. Die kerkraad huur aanvanklik ’n huis om as pastorie te dien, waarna ’n sierlike pastorie later opgerig word.

OUDSTE PASTORIE VAN DIE HERVORMDE KERK – POSISIE TANS ONBEKEND (FOTO: ANDRIES RAATH – FOTO KI GERESTOUREER EN GEKLEUR)
Figuur 30: Latere Pastorie – hoek van SADC en Lilian Ngoyi-strate – Huidige Middelburg Heights (Foto: (Stadsraad van Middelburg, 1964) Foto KI Gerestoureer)

Die huidige kerk van die Nederduitsch Hervormde Gemeente

Op 19 April 1952 besluit die gemeente dat die bestaande kerkgebou nie meer aan sy behoeftes voldoen nie en dat ’n nuwe kerk gebou moet word.

Teen 1 April 1953 staan die kontantbydraes en beloftes vir die bou van die nuwe kerk reeds op £1 045.

Op 15 Oktober 1960 besluit die gemeente, ná voorstelle deur die boukommissie, om die nuwe kerk volgens die plan van die Nederduitsch Hervormde gemeente Krugersdorp-Oos te bou.

Terwyl die nuwe kerk gebou word, word eredienste op verskeie plekke gehou, onder meer in die susterskerke, die skoolsale van die hoërskool en laerskool, asook die stadsaal.

Die Weeshuisbouers van die Nederduitsch Hervormde Kerk se tender van R72 000 vir die bou van die nuwe kerk word aanvaar. Die argitek wat deur die boukommissie aangestel word, is Van der Walt van Pretoria.

Tenders vir ’n nuwe orrel word ook aangevra, en die tender van SA Orrelbouers ten bedrae van R7 000 word aanvaar. Die orrel word in 1964 gebou en beskik oor twee manuale en 26 registers.

Op 23 Mei 1964 lê ds. CJ van Schalkwyk die hoeksteen van die nuwe kerk.

DS CJ VAN SCHALKWYK
HOEKSTEEN VAN DIE HUIDIGE KERK GELÊ OP 23 MEI 1964 (FOTO: RUDI VAN WYK)
Hervormde Kerk, Middelburg in aanbou (Foto:  (Stadsraad van Middelburg, 1964))

Die nuwe kerkgebou word op 19 September 1965 ingewy.

HUIDIGE HERVORMDE KERK, MIDDELBURG (FOTO: RUDI VAN WYK)
PREEKSTOEL EN KERKRAAD BANKE (FOTO: RUDI VAN WYK)
NAGMAAL SERVIES IN GEBRUIK IN 2024 (FOTO: RUDI VAN WYK)
HUIDIGE GEMEENTE TYDENS DIE 160-JARIGE FEESVIERINGS VAN DIE ONTSTAAN VAN DIE GEMEENTE (FOTO: RUDI VAN WYK)

Van sy ontstaan in die dae van die ZAR tot kerkvereniging, kerkskeuring en uiteindelik die vestiging van die kerkgebou wat vandag steeds in Middelburg staan, getuig die gemeente se geskiedenis van ’n lang en soms stormagtige kerklike pad.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button