Willie van Straaten is een van dié wat Middelburg hul tuiste gemaak het en hulle beywer om ’n verskil in die gemeenskap te maak.
Hy was van 1991 tot 1995 ’n leerling aan HTS Middelburg en het vanjaar op die skool se beheerliggaam gedien.
Nou pak hy saam met die Care Riders die Munga-bergfietsuitdaging aan.
Observer het by hom gaan kers opsteek oor sy voorbereiding en wat hy verwag van die meer as 200 km wat hy moet trap.
- Ouderdom: Ek is 48 jaar oud.
- Hoe lank ry jy al fiets? Ek ry al 11 jaar fiets.
- Hoeveelste Munga is hierdie vir jou? Dit is my tweede Munga as ryer. Ek het ook al twee Munga-fietswedrenne as spanbestuurder meegemaak.
- Watter skof ry jy en wat is die afstand? Ek kry vanjaar die voorreg om die wedren af te skop met die eerste skof van 203 km, vanaf Bloemfontein na Karoo Lodge.
- Wat gaan vir jou die grootste uitdaging wees? Beslis die elemente, veral die intense hitte en die onvoorspelbare omstandighede wat die Munga na jou kant toe gooi.
- Hoe benader jy die Munga? Met respek!
- Waarna sien jy die meeste uit? Die avontuur, die uitdaging en alles wat daarmee saamgaan. Die Karoo in die nag – daar besef ’n mens hoe groot die God is wat ons dien.
- Waarna sien jy die minste uit? Die pad terug ná die tyd.
- Wat is jou leuse in die lewe? Lewe voluit en respekeer jou uitdagings.
- Wie is jou grootste inspirasie? My pa. Hy het my geleer dat niks sommer vanself gebeur nie. As jy iets in die lewe aanpak, moet jy dit met dissipline, toewyding en respek doen. Daardie les dra ek elke dag saam met my.
- Wat eet en drink jy tydens lang wedrenne? Far Bars, USN-nougat, droëwors, 3GI Endurance en natuurlik baie water.
- Waarom ry jy vir Care Riders? Dit is ’n ongelooflike voorreg om vir iets groter as jouself te ry. Kinders is ons toekoms, en elke kind verdien liefde, veiligheid en ’n plek wat hulle hul huis kan noem. As ons deur ons passie vir fietsry ’n verskil in ’n kind se lewe kan maak, is elke kilometer en elke druppel sweet die moeite werd.
- Wat is jou boodskap aan die rusbankridders? Begin êrens! Jy hoef nie môre 100 km te ry nie. Kry die regte groep mense om jou wat jou motiveer en aan die gang hou. Ons by Early Riders ken mos daardie thumbs down alte goed! Dis maklik om ’n verskoning te kry om nie te ry nie. Skryf in vir ’n wedren, al is dit net ’n kort afstand. Dit gee jou iets om voor te oefen en help jou om gefokus te bly. Voor jy jou oë uitvee, doen jy dinge wat jy nooit gedink het moontlik is nie.
- Is daar enigiemand wat jy graag wil bedank? Beslis! André en Leigh Brandmuller – julle doen ongelooflike werk vir die Care Village. Die verskil wat julle in kinders se lewens maak, verdien groot respek. Aan die Early Riders: dankie vir al die oggende se kilometers en motivering. Afrigter Johan Möller – jy rock, pella! Dankie vir ’n mooi program. ’n Groot dankie aan ons borge wat hierdie avontuur moontlik maak. En laaste, maar beslis nie die minste nie, my vrou! Dankie dat jy al my mal idees, vroeë oggende, lang oefenritte en fietsry-avonture verdra.
- Enigiets anders? Volg ons op sosiale media en raak betrokke. Ons doen dit vir die hele Middelburg.
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!
