Hofsaal volgepak toe vier verskyn in beesslagsaak
Petisie vra dat twee voertuie se betrokkenheid verder ondersoek word
Die hofsaal was vanoggend volgepak toe vier mans verskyn het na ’n beesslagting vier weke gelede op die plaas van Willem Cloete.
Die plaas is reg langs die N11 Loskopdampad, net ’n paar kilometer buite Middelburg.
Die vier mans wat gearresteer is nadat vier Dexter-beeste geslag is, bly vir eers agter tralies.
Vusi Mahlangu (42), Nkosinathi Vilakazi (37), Wiseman Mgidlana (42) en Thulani Nkosi (36), se saak is tot 26 November uitgestel wanneer hulle sal aansoek doen om borgtog.
Prokureur Theo Pistorius, wat namens Cloete ’n toesighoudende rol in die saak speel, sê dit was bemoedigend om te sien hoeveel gemeenskapslede oor kleurgrense heen opgeruk het om hulle misnoeë te wys teen veediefstal in die omgewing.
Petisie ingedien
’n Petisie met 252 handtekeninge is reeds by die landdroshof ingedien, wat beswaar maak teen borgtog aan die vier verdagtes.
Die petisie meld dat ’n stoetbul en drie koeie met ’n gesamentlike waarde van R70 000 geslag is.
Die ondertekenaars sê hulle is bekommerd oor die ekonomiese impak op Cloete se boerdery, die veiligheid van boere in die omgewing en getuies, asook die risiko van verdere veediefstal indien borgtog toegestaan word.
Daar is versoek dat die ondersoekbeampte en aanklaer enige hangende sake, vorige veroordelings en die bestaande borgtogstatus van elk van die beskuldigdes deur middel van getuienis aan die hof voorlê.
Volgens die petisie is twee voertuie tydens die veediefstal gebruik. Die boere versoek dat enige verband tussen die beskuldigdes, die twee voertuie wat geskut is, ander veediefstalsake en die bestuurder wat na bewering ontsnap het, ondersoek word.