Wilde perd van slagpale tot veilige hawe in Middelburg
Valero, die geredde perd van Middelburg, het pas die slagpale vrygespring toe hy skrik, losruk en tot op die gholfbaan galop.
‘n Perd wat enkele dae tevore nog net ure van die slagpale af was, het Middelburg op hol gehad toe hy verskrik op ‘n desperate vlug deur die dorp gegaan het.
Lezanne Jacobs en haar dogter, Mieke, se pad met Valero het onlangs gekruis toe hulle ‘n dringende pleidooi ontvang het om ‘n perd te red. Indien niemand hom teen die volgende oggend sou inneem nie, was sy bestemming die slagpale.
Nadat Lezanne ‘n video van die perd gesien het, was sy en Mieke dadelik verlief. Sy manier van beweeg en sy hele houding het volgens Lezanne dapperheid uitgestraal.
’n Dapper perd
Hulle het hom Royal Velor gedoop (met Valero as roepnaam), afgelei van Valour, wat “groot moed” beteken.
Dít sou later ‘n besonder gepaste naam blyk te wees.

Met sy aankoms is Lezanne gewaarsku dat die perd ‘n onstuimige verlede gehad het, maklik skrik en steeds skrikkerig vir mense was. Toe sy hom vir die tweede keer ry, het iets hom egter skielik laat skrik.
Mieke het afgeklim om hom te bedaar, maar Valero het op sy agterpote gegaan, losgeruk en in die rigting van Dennesig gevlug.
“As hy na Botshabelo se kant toe gehardloop het, sou ons hom nooit weer gekry het nie,” vertel Lezanne verlig.
Wilde galop deur die dorp
Van Dennesig af het Valero sy pad na Mhluzi voortgesit. Ooggetuies het hom by die Sasol-vulstasie gewaar voordat hy verder in die rigting van Gholfsig gegalop het.
Dit het hom uiteindelik tot op die Middelburgse gholfbaan geneem, waar hy by die hek van die ou dryfbaan in is. ‘n Onbekende man het hom gelukkig gekeer voordat hy weer die pad kon vat.
“Ek kan ongelukkig nie meer die man se naam onthou nie, maar ek sal hom en almal wat gehelp het, ewig dankbaar wees,” sê Lezanne dankbaar.

Inwoners het sy bewegings dopgehou en inligting op WhatsApp-groepe gedeel, terwyl die polisie se berede eenheid en die DBV ook gehelp het.
Kelly Lennox, ‘n inwoner van Middelburg, het op sosiale media vertel hoe sy self probeer het om Valero op die gholfbaan vas te trek. Sy skerts dat dié perd haar behoorlik laat oefen het, maar dat die gholfkarretjies hom verder angsbevange gemaak het.
Die belangrikste is dat Valero se avontuur deur die dorp gelukkig geëindig het. Hy is veilig terug by Lezanne en Mieke en sommer piekfyn.
Dié is vir seker ‘n gelukkige perd wat die dood vryspring, ‘n kans kry by ‘n nuwe huis met ‘n oorvloed liefde, en ‘n hele gemeenskap met sy galop deur Middelburg vasgenael hou.