Sport

Stonehouse se Japannese wolwe

Onder Jimmy Stonehouse se leiding het die Pumas van krag tot krag op die plaaslike rugbytoneel gegaan.

Nóú is die Suid-Afrikaanse breier ook besig om sy stempel in Japan af te druk, waar sy Toshiba Brave Lupus die naweek in die eindstryd van die LIXIL-beker speel.

Toshiba pak Sondag vir Panasonic, na hulle 34-22 met Yamaha Jubilo in die halfeindstryd klaargespeel het.

Hoewel Panasonic deur die oud-afrigter van die Wallabies, Robbie Deans, afgerig word én vir die afgelope drie jaar die ligakampioenspan is, is Stonehouse – soos altyd – optimisties oor sy span se vermoë om op die groot verhoog te presteer.

“Hulle is beslis die gunstelinge en Toshiba was in 2010 laas in die Top Liga-finaal, maar in ‘n eindstryd kan enige iets gebeur en ek glo ons het ‘n baie goeie kans,” laat weet hy Donderdagoggend vanuit Japan.

Stonehouse beskik oor genoeg talent in sy span. Frans Steyn speel vir Toshiba, terwyl die Nieu-Seelandse blits, Richard Kahui, ‘n driekuns van drieë in hul halfeindstrydsege gedruk het.

En waar hy vantevore met gróót voorspelers soos Ronnie Uys en kie in Suid-Afrika gewerk het, is hy meer as tevrede met die Japanners se moed.

“Dit is ‘n wanpersepsie dat rugbyspelers in Japan kleiner is, hulle is egter wel korter en dus word jou lynstaanspel aangepas. Toshiba se speelstyl het baie ooreenkomste met dié van die Pumas.”

So van die Pumas gepraat, Stonehouse sal altyd ‘n sagte plek in sy hart vir dié span hê en hy hou nog gereeld hul vordering dop.

“Hein Mentz (uniepresident) het my die geleentheid gegee om ‘n loopbaan te begin en die Pumas was as’t ware my baba. Daar was baie rolspelers, maar veral Marius van Rensburg (spanbestuurder) en Corné Steenkamp (kaptein in Stonehouse se era) het ‘n ongelooflike passie vir die span. Om die Vodacombeker te wen was my nooit beskore nie en ek was veral bly toe MJ (Mentz) dit reggekry het. Ek glo hy gaan nog as afrigter groot hoogtes bereik.”

Volgens Stonehouse is die taalverskil die grootste aanpassing ten opsigte van sy afrigtingswerk en -styl in Japan.

“Soms gee die vertaler die verkeerde inligting deur en dan verstaan die Japanese afrigters nie wat ek sê nie.”

Die weer verskil ook hemelsbreed van sonnige Suid-Afrika.

“Elke land het sy seisoene. Dit was byvoorbeeld twee maande gelede 35°C hier en nou het die kwik na -8°C gedaal! Dit het Maandag gesneeu en dit lyk of dit Saterdag wéér kan. Maar ‘n stootskraper is gebruik om die sneeu van die veld te skraap en die voorbereiding vir die finaal is gedoen.”

Wat mis Stonehouse die meeste van Suid-Afrika?

Wel, dit is maklik: sy taal, sy mense, sy familie én sy kos.

En Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers mis Stonehouse dalk nog meer.

• ‘n Paar Stonehouse-sêgoed:

* Is hy al vaardig om met twee stokkies te eet?

“Ja dit is eintlik maklik, jy moet net oefen. Op hierdie stadium lyk dit of ek met chopstix in die hand gebore is!”

* Was hy verbaas toe Japan vir die Springbokke in hul openingswedstryd by die 2015 Wêreldbeker ore aansit?

“Na ek hier begin afrig het, het ek geweet Japan se passie en werketiek is hoog, maar ek het nooit gedink ons sou verloor nie. Maar toe ons nie drie beskikbare punte van strafskoppe neem nie, was ek bekommerd.”

* Oefen hy nog gereeld?

“Ja en ook gereeld saam met die spelers om só ‘n bietjie spangees te bou.”

• Van die Suid-Afrikaanse spelers in Japan: JP Pietersen, Fourie du Preez, Schalk Burger, Steyn, Eben Etzebeth, Handré Pollard, Jesse Kriel en Jacques Fourie. Daar is altesaam 19 Suid-Afrikaanse spelers, 17 Wallabies en 18 All Blacks wat hul heil in Japan gaan soek het.

• Toshiba en Panasonic het 17-17 in hul ligakragmeting gelykop gespeel.

• Lupus is die Latynse woord vir “wolf”.

Back to top button