Opvolg: Sy het geweet hy wil haar skiet

Die twee seuns van me. Tanya-Louise Briedenhann, wat verlede Woensdag deur haar vervreemde man, Jan, by die Wonderpark sentrum in 'n hysbak tereggestel is, het twee dae voor die moord saam met hul ma by die polisie gaan aanklop vir beskerming.

Mev. Briedenhann het op Maandag, 20 April, kort na 18:00, by die polisiestasie opgedaag met ‘n beskermingsbevel teen Jan.

Beide haar seuns, Stefan (17) en Juhan (18), het haar daarheen vergesel na ‘n oproep van Jan vroeër die dag, waartydens hy aangedring het op sy wapens, wat in me. Briedenhann se kluis was.

Omdat sy die wapens onwettig in haar besit gehad het, moes die polisie dadelik daarop beslag lê, maar dit het egter nie gebeur nie, omdat Jan gejok het dat die kluissleutels weg is.

Die sleutels was egter tog in sy besit omdat hy die .38 pistool waarmee hy me. Briedenhann en homself om die lewe gebring het, die Dinsdag voor die tragedie by hul huis in Gilfillanstraat gaan haal het.

Juhan was tuis en sê dat mnr. Briedenhann hom met sy aankoms daar gedreig het, en net die .38 pistool uit die kluis geneem het, nie sy ander wapens nie.

Me. Briedenhann se ma, Rosa, sê dat die polisie haar dogter die Maandag voor die moord na Jan se huis vergesel het, om die beskermingsbevel op hom te beteken.

Omdat die beskermingsbevel vir gesinsgeweld uitgereik is, en verskeie dreigemente van moord en selfmoord deur Jan, is hy ook gevra vir die kluissleutels.

“Hy’s in Tanya-Louise se teenwoordigheid gewaarsku, om nie naby hulle te kom nie, hy het selfs gesê die polisie kan al sy wapens vat, maar dat die sleutel van die kluis weg is,” sê Rosa, wat kort na 11:00 die dag van die tragedie, die laaste maal met haar dogter gepraat het.

Sy sê nadat die bevel op Jan beteken is, het die polisie haar dogter gevra om ‘n skriftelike verklaring oor die dreigemente en haar vrees, by hulle te kom aflê.

Me. Briedenhann, sou net twee ure nadat sy in die kop geskiet is, die verklaring gaan aflê, voor haar afspraak 17:00 met haar seuns se wiskunde onderwyseres, vir ekstra klasse.

“Een van die laaste goed wat sy vir my gesê het is dat die wapen van daai man afgeneem moet word, sy’t geweet hy wil haar skiet,” sê Rosa.

“Sy was meer as een maal by die polisie vir hulp, het hulle maar hul werk gedoen,” het sy bedroef gesê.

Dogter verjaar dag voor pa skiet

Vrou sterf in kollega se arms

Vermoorde wou nie trou

Die seuns se grootouers sal nou uit Meyerton na Middelburg verhuis om hulle hier, in hul ma se huis, by te staan, sodat Juhan sy matriek kan klaarmaak.

“As die seuns dan besluit hulle wil nie hier bly nie, sal ons skuif Meyerton toe.”

Sy sê Tanya-Louise se broer bly op Sasol, en haar suster op Vanderbijlpark, en daarom het hulle besluit om haar Donderdag, om 14:00, vanuit die PPK Deo Credo gemeente op Vanderbijlpark, ter ruste te lê.

“Dan weet ons sy is naby aan ons almal en kan ons haar graf gereeld besoek saam met die seuns.”

Sy bedank graag HTS se personeel en kinders, haar kleinseuns se vriende, en die breër gemeenskap vir die oorweldigende ondersteuning.

Rosa sê dat die enigste kontak wat hulle met Jan se familie gehad het na die moord, was oor geld.

“Ek het vir sy naasbestaandes gesê hulle moet by Momentum gaan aanklop, waar Tanya-Louise vir hom ‘n begrafnispolis oopgemaak, en betaal het,” sê Rosa.

• Daar is Woensdag om 12:00 by die krematorium kapel afskeid geneem van mnr. Jan Briedenhann, tydens ‘n intieme gedenkdiens met familie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button