Jong pa red kollega van gewisse dood
'n Jong pa het as held gesterf, nadat hy 'n vriend van sy motorfiets gestamp het, kort voor 'n botsing met 'n trok.
Janneman Smit (24), het Saterdag net voor 05:00 sy laaste asem uitgeblaas in die Life Midmed Hospitaal, nadat die ma van sy twee-jarige seun, Michael, hom gegroet het.
Janneman het beswyk aan ernstige kopbeserings. Sy linkerbeen sou ook geamputeer moes word, nadat hy met sy Big Boy 250cc motorfiets onder ‘n trok beland het net voor 23:00 Vrydagaand.
Sy ma, Debbie, het Dinsdag in ‘n emosionele onderhoud met die Observer gesê dat sy vriend, Desmond Pfahl, wat saam hom op die motorfiets was, met ernstige breinbeserings in die Middelburg Hospitaal opgeneem is.
“Soos ons verstaan, verkeer Desmond steeds onder die indruk dat Janneman hom van die motorfiets afgestamp het om vir hom weg te jaag, maar hy’t hom bloot probeer red,” sê Janneman se ma, Debbie.
Desmond se ma, Suzelle, sê dat hulle hom Dinsdagmiddag van sy vriend en kollega se afsterwe verwittig het.
Ten spyte van haar “grootste, seerste verlies,” sê Debbie dat sy, indien die bestuurder van die trok vervolg sou word vir strafbare manslag, ter versagting namens hom sal getuig.
“Die man is gebroke, hy’t op die toneel geprewel ‘dis my skuld’ tussen trane, wat ons weet hy uit die diepte van sy hart, vir my kind gestort het.”
Janneman was die aand van die ongeluk by Desmond in Gholfsig, om hom te neem vir ‘n toetsrit op die fiets, wat Desmond belang gestel het om te koop.
“Janneman sou Dinsdag die koopkontrak vir ‘n kar teken, want ons het aan hom bly karring om die motorfiets te groet, hy het Vrydag die karretjie geneem vir ‘n toetsrit,” sê Debbie.
Die botsing het plaasgevind op die hoeke van Walter Sisulu- en Cowen Ntulistraat, waar die trok regs Kanonkop se kant toe uit Cowen Ntuli gedraai het.
“Beeldmateriaal van die Engen vulstasie wys hoe Janneman aangery kom en hoe die trok skielik voor hom draai,” sê Debbie.
Net voor die impak met die trok, het Janneman Desmond van die motorfiets afgestamp en alleen onder die trok beland.
Die trok het oor hom gery en ‘n paar meter saam gesleep.
Die drywer het die trok tot stilstand gebring toe petroljoggies by Engen paniekerig vir hom geskreeu en handgebare gewys het om te stop.
Debbie sê die trok was nie in die draai-baan nie weens die feit dat daar ‘n ander, onklaar trok, langs die pad geparkeer was.
Op die kameras kan daar ook nie gesien word of die verkeersligte groen was nie.
Beide Janneman se boetie, Mark, en sy ouma, Mertyl, vra steeds wanneer hy huistoe kom, en kan nie sy dood verwerk nie.
Mark (18) is verstandelik gestrem en in ‘n rolstoel gekluister weens ‘n dodelike virus wat hy opgetel het op nege maande.
Janneman en sy suster Angelique het onderskeidelik op 29 en 30 Maart hulle verjaardae gevier, en verskil presies twee jaar en ‘n dag.
Die gesin bedank graag die Zello 911 lede op die toneel, wat Midmed geskakel het om te hoor of Janneman al ooit daar behandel is.
“Hierdie daad het daarvoor gesorg dat my kind, wat medies het, Midmed toe is en daar gestabiliseer is, tot sy familie en selfs die ma van sy kind vanuit Johannesburg, dit tot by hom kon maak.
Janneman en Desmond was kollegas by Protek waar Janneman magnetiese en partikel ontleding gedoen het.
“Ons wil almal, paramedici tot drs. Du Plessis en Tromp, bedank vir hul bystand,” sê Debbie.
Daar word Saterdag, om 11:00, vanuit die Gereformeerde kerk op die hoeke van Kameeldoring- en Dahliastrate in Kanonkop van Janneman afskeid geneem en Debbie sê mense kan haar by 076 456 0345 bel vir verdere navrae.


