News

Video: Kar in bosse gekry na ‘oorlog’ waar rowers losbrand met outomatiese geweer

Die kronologiese gebeure waar rowers Sondag kontant en ’n voertuig geroof het in Kanonkop, is hierdie week deur die ooggetuies vertel.

In wat geklink het soos ’n oorlog, het skote Sondagoggend in Kanonkop geklap, na ’n man beroof en ’n egpaar se voertuig ook geroof is.
Buiten ’n vrou wat rakelings die dood ontkom het toe ’n koeël net veldiep teen haar nek verbygesny het, is almal dit eens dat hulle dankbaar is dat niemand dood of ernstig beseer is nie.
Uit onderhoude met die slagoffers en ooggetuies, het die volle verhaal hierdie week ontvou.

Wie het rowers afgelaai?

“Iemand moes die rowers daar afgelaai het, want hoe loop jy met ’n pistool en ’n outomatiese aanvalsgeweer sommer net na ’n parkeerarea toe en beroof iemand?” is een van die talle onbeantwoorde vrae wat gevra is.
Almal se verhale word in kort kronologiese volgorde geskets.

Rowers gryp sak met R65 000

’n Man klim om 10:30 uit sy voertuig met R65 000 in ’n sak om drankvoorraad te koop by die Tabooz Drankwinkel in die Tosca Sentrum.
Nog voor hy by die drankwinkel se deur kon kom, loop twee mans reguit op hom af. Een lig sy hemp op en sien hy die blink 9mm pistool, wat voor by die man se broek ingedruk is.
Die twee booswigte vat die sak geld by hom en begin hardloop af Proteastraat se kant toe.

Vrou sien verdagtes

Hannelie Walsh staan op daardie stadium in die OTM geboutjie langs die drankwinkel en sien duidelik die twee mans verbyloop. Sy merk dat hulle ’n wit sak by hulle het. “Ek kan onthou dat hulle donkerblou klere aangehad het.”
Die volgende oomblik begin hulle hardloop en sy loer om die gebou om te kyk wat aangaan. “Almal voor die drankwinkel het vir ’n sekond of wat stilgestaan, seker van skok, maar daarna het hulle agter die twee begin aanhardloop.”

Die personeel en sekuriteitswag het wel die wapen gesien, maar besluit tog om die rowers te agtervolg.
Die rowers, met die slagoffer, sowat ses werknemers en ’n gewapende sekuriteitswag is te voet in Proteastraat af, waar hulle links gedraai het in Bokmakieriestraat.
’n Personeellid is ook met ’n voertuig agterna.

Vasgekeer! Rowers brand los met outomatiese geweer

In Impalastraat draai die rowers na regs en hardloop by die oop hek van die tennisbane in. Hulle besef hulle is vasgekeer en begin wild in die rigting van hul agtervolgers skiet.
Hulle sien uitkoms in die voertuig van Simon en Tanya Vermaak, wat besig was om uit hul Renault Kwid te klim om te gaan tennis speel.
Die rowers dwing die paartjie om op die grond te gaan lê en trek met skreeuende bande weg.

Die merke op die grond wys waar die rowers met tollende bande weggetrek het met die geroofde voertuig.

’n Voertuig probeer hulle afblok in Impalastraat, maar die rowers skiet deur die voorruit op die persoon wat hulle probeer stop en moet die voertuig vinnig geepad. ’n Vrou word skrams in die nek getref deur die vlieënde koeëls.

Een van rowers het koeëlvaste baadjie gedra

Suzette Olivier was besig in haar huis toe sy die skote hoor en roep benoud op ’n nood WhatsApp-groep vir hulp. Haar dogter, Carina Kemp en Carina se seun, Jason-Lee Olivier (15) was buite in hul erf toe die eerste skote begin klap.
Ma en seun het ook gesien toe die Renault op ’n hoë spoed verbyjaag en die bestuurder steeds skote met sy hand buite die voertuig in die lug aftrek. “Ek het ten minste 16 skote getel,” sê Jason-Lee.
Carina meld dat sy terwyl die voertuig verbygery het, gesien het dat een van die rowers ’n koeëlvaste baadjie aanhet.

Een van die 9mm patroondoppies wat later gekry is.

Simon en Tanya het gaan hulp soek en is die opsporingstelsel van die voertuig geaktiveer.
Carina en haar man, Carolus, het by die paartjie gebly tot ’n privaat sekuriteitsgroep opgedaag en na aanleiding van die opsporingstelsel dadelik gery in die rigting waar dit beweeg het. Hulle het Simon saam met hulle geneem.

Voertuig in bosse gekry
Minute later het hulle die voertuig opgespoor in bosse langs Proteastraat, net na die Munisipale Magasyn.
Die polisie en lede van die privaat sekuriteitsmaatskappy het vir meer as drie ure na die rowers gesoek, maar hulle het weggekom. ’n Hommeltuig is ook tydens die soektog gebruik.
Daar is later gesê dat die rowers moontlik oor een van die klein bruggies vanaf die bosse na Mhluzi gevlug het.

’n Lugfoto waar die voertuig tussen die bosse gekry is.

• Met nadere ondersoek van die voertuig, is gevind dat die rowers in hul haas om weg te kom, die 9mm pistool in die voertuig gelos het.
Doppies wat opgetel is by die tennisbane, wys dat die rowers met ’n .223 outomatiese aanvalsgeweer en ’n 9mm pistool geskiet het.

• Die polisie het videomateriaal van Tabooz (wat die twee verdagtes duidelik wys) Maandag nagegaan en is besig om alle leidrade op te volg. Die wapen is ook vir forensiese toetse weggestuur.

@middelburgobserver

Videomateriaal wat geneem is met ’n hommeltuig wys hoe daar Sondag in Middelburg gesoek is na twee rowers nadat hulle ’n ’n man van R65 000 beroof het en daarna ’n jong paartjie se voertuig geroof het om weg te kom. Die rowers het met die voertuig tussen bosse ingejaag waar dit vasgeval en hulle te voet verder gevlug het. Die rowers is steeds op vrye voet.

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button