Oud-polisiebeampte Piet Zeeman sterf op 66
Die voormalige Valke-lid word onthou vir sy jarelange diens en moedige optrede tydens ’n skietgeveg in Carolina.
Een van Mpumalanga se legendariese polisiemanne, wat ’n skietgeveg met rowers oorleef het, is ná ’n siekbed in Gqeberha oorlede. Piet Zeeman (66) is op 31 Oktober in die Livingstone-hospitaal oorlede. Hy het sy loopbaan in 1978 by die SAPD begin en was aanvanklik in Windhoek gestasioneer. Hy is later na Piet Retief verplaas, waar hy in misdaadvoorkoming gewerk het, voordat hy by die veediefstaleenheid in Ermelo aangesluit het.
Sy loopbaan neem hom later na Carolina as takbevelvoerder van die veediefstaleenheid. Na die ontbinding van die eenhede het hy as speurtakbevelvoerder diens gedoen. Die Zeeman-gesin het later na Middelburg verhuis, waar adjt. Zeeman by die Eenheid vir Georganiseerde Misdaad aangesluit het. Dié eenheid het later deel geword van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI), beter bekend as die Valke.
Kort ná sy aftrede het hy ’n ernstige gesondheidsterugslag beleef. Hy is in die Kosmos-hospitaal opgeneem en het later in die Wilgers-hospitaal in Pretoria ’n dubbele hartomleidingsoperasie ondergaan. In 2020 het hy na Gqeberha verhuis om nader aan sy familie te wees.
Nadat hy met spinale tuberkulose in die hospitaal opgeneem is, het sy gesondheid weens infeksies en ’n bloedklont verder agteruitgegaan. Sy seun, Pieter, sê ’n roudiens word Maandag om 14:00 vir hom gehou.
Pieter beplan ook om later ’n spesiale diens by die Nooitgedachtdam vir sy pa se oud-kollegas en vriende te reël, waarna sy as oor die dam gestrooi sal word.
Huldeblyke het van oral ingestroom, onder meer van genl.maj. Obed Ngwenya, wat deesdae by die Valke in die Oos-Kaap werksaam is. Ngwenya het voorheen self ’n sluipmoordaanval in Middelburg oorleef. Adv. Ansie Venter het ook hulde aan Zeeman gebring.
Skietgeveg met rowers
In 2008 was die Zeeman-egpaar nog in Carolina gestasioneer en maar ’n maand getroud.
Die egpaar het een Sondag saam met familie by ’n dam deurgebring en hul bakkie aan ’n familielid geleen om te trek. Die Zeemans het met ’n ander voertuig na Carolina teruggery en by die Hercules-vulstasie gestop.
Terwyl hulle daar was, het Zeeman, wat aan diens was, besef dat vyf mans besig was om die vulstasie te beroof. Omdat net hy, sy vrou, reservis konst. Erika Zeeman, en haar kleuterdogtertjie in die voertuig was, het hy besluit om nie die rowers direk te konfronteer nie. Hy het hulle eerder op ’n afstand gevolg terwyl hy hulp ontbied het.
Sowat vyf kilometer buite Carolina, in die rigting van Badplaas, het ’n verkeersvoertuig uit die teenoorgestelde rigting gekom.
Erika het die insittendes beduie om te kom help.
Die verkeersvoertuig het die rowers agternagesit, met Piet kort agter hulle.
Die rowers het skielik stilgehou, uit hul voertuig gespring en met handwapens en ’n AK-47 op die verkeersvoertuig losgebrand. Albei verkeersbeamptes is doodgeskiet.
Piet het uit sy voertuig gespring en met sy R5 op die aanvallers teruggeskiet. Hy het een rower getref, wat later in die hospitaal aan sy wonde beswyk het. ’n Tweede rower is die volgende Maandag sowat 70 m verder in ’n veld dood aangetref.
Erika het in die voertuig by haar dogtertjie gebly. Deur die oop venster het sy gesien hoe een van die rowers langs hul voertuig verbyhardloop.
Toe hy haar opmerk, het hy deur die venster op hulle begin skiet. Erika het oor haar dogtertjie gaan lê om haar te beskerm, en is twee keer in die laerug gewond.
Die rowers het daarna op die vlug geslaan. Die drie wat ontsnap het, is later aangekeer en tot gevangenisstraf gevonnis.
Hoewel sy die aanval oorleef het, is Erika op 35-jarige ouderdom by die egpaar se huis in Nyalastraat in Middelburg oorlede.
