Petro oorwin in kankerstryd na mastektomie
In die 33 jaar is Petro Herbst slegs twee keer in ‘n hospitaal opgeneem en dit was vir haar bevallings. Sy het nog haar mangels en blindederm en sê sy het nog altyd haar gesondheid as vanselfsprekend aanvaar.
NELSPRUIT – In 33 jaar is Petro Herbst slegs twee keer in ‘n hospitaal opgeneem en dit was vir haar bevallings.
Sy het nog haar mangels en blindederm en sê sy het nog altyd haar gesondheid as vanselfsprekend aanvaar.
Die derde keer dat sy egter opgeneem is, was vir ‘n mastektomie van haar een bors. Sy is ses dae voor haar 34ste verjaarsdag in Mei 2011 met aggresiewe fase-drie borskanker gediagnoseer.
“Daar is borskanker in ons familie,” het Petro aan Laevelder vertel. “My niggie is kort na my gediagnoseer en haar ma het dit ook gehad.”
Petro se tipe kanker is egter seldaam.
Dit het in ‘n sist in ‘n melkklier in haar bors ontstaan en is aanvanklik deur ‘n mammogram as ‘n sist geïdentifiseer. Dit is gedreineer, maar was ‘n week later terug.
Die dokter het aanbeveel dat dit verwyder word, aangesien dit sou aanhou terugkeer.
Na die operasie moes sy egter die slegte nuus hoor.
“Die dokter het gesê, ‘Jammer, maar dis kanker’. Dit was soos koue water in die gesig.”
‘n Totaal van agt chemoterapie- en 20 bestraling-sessies het gevolg.
“Dis moeilik om die newe-effekte van chemo te beskryf. Jy voel móég en náár en jou bene pyn asof daar sement in is. Alles proe sleg en jy het boonop geen eetlus nie.”
Petro het verduidelik dat ‘n mens vir ‘n week aaklig voel, en sodra dit beter begin word, begin die volgende behandeling. Baie oomblikke van depressie het gevolg en soms wou sy nie uit die bed opstaan nie.
“Vir my was die mees traumatiese toe my hare begin uitval het. Ek het op die bank gesit en toe ek opstaan bly daar klosse agter. Ek het die res van die dag gehuil, tot my man, Marchant, huis toe gekom het. Hy het my hare in die stort afgeskeer en nadat ek vir lank in sy arms gehuil het, kon ek weer aangaan.”
Petro het ook tydens haar tweede sessie chemo gevoel sy kan nie meer nie, maar die ondersteuning en liefde van Marchant en hul twee kinders, Mariné (9) en Henru (5) het haar deur die donker tye gekry.
“Jy moet positief wees en weet waarvoor jy wil lewe,” het sy gesê. “Ek was gelukkig, daar was altyd iemand wat op my pad gestuur is wat my hoop gegee het.”
Haar werkgewer was ook wonderlik het Petro vertel. Sy werk al 12 jaar lank by Canon as ‘n debiteure-klerk en is toegelaat om minder te werk en dit van die huis af te doen.
“Ek sê nie alle maatskappye dank siek mense af nie, maar soveel ander sou jou salaris verminder of jou onbetaalde verlof gee. Dït op ‘n tydstip wanneer ‘n mens die geld nodig het, want jy het ekstra uitgawes soos medisyne.”
Sy het ook ‘n pruik aangeskaf, maar dit was so krapperig dat sy dit op die ou einde net kerk toe gedra het. “Al my vriende het vir my hoede begin koop.
Ek besit ‘n magdom daarvan, maar noudat ek weer hare het, dra ek dit glád nie meer nie.”
Soos sy hoed-dra met kanker assosieer, was Henru ook bekommerd dat sy sonder hare sou terugkom van die hospitaal af na haar herkonstruksie-chirurgie, want hy assosieer hospitaal toe gaan met hare verloor.
Voor die chirurgie het Petro ‘n prostetiese bors gedra. “Dit was irriterend. Ek sou haas om die kinders by die skool te kry en my bors by die huis vergeet.
Dan terg my kollegas my oor die vergete bors… Hulle was egter ook wonderlike ondersteuning. Sonder hulle sou ek dit nie gemaak het nie.”
‘n Hele ruk na haar behandeling afgehandel is, het sy besluit om herkonstruksie-chirurgie te ondergaan, aangesien sy niks gehad het om te verloor nie. Dr. Noelene du Plessis, ‘n plastiese chirurg, het saam met ‘n kollega dié ses-uur lange operasie aangedurf.
“Hulle gebruik geen silikoon nie,” het Petro vertel. “Hulle vat vel en vleis van jou maag, soos met ‘n maagverkleiningsoperasie, en ‘n aar. ‘n Maagspier word dan na jou bors-area toe herlei en ‘n nuwe bors gebou.
“Dit was wonderlik, ek is so beïndruk. Ek het ‘n bors, al was dit my maag. Daar is niks onnatuurlik nie en my lyf sal dit nie verwerp nie en dit sal afsak met ouderdom soos gewone borste en daaroor is ek bly.”
Na die operasie sien sy ook uit daarna om in die somer weer saam met die kinders te swem. Sy sê sy voel fisies weer soos haar ou self, maar sy het verander. “Ek is rustiger, ek het meer geduld. Ek sien ander goed raak en waardeer dit. Ek het meer dankbaar geword.”
Tog gaan sy nog elke vier maande vir toetse. “Ek vrees vir my meisiekind,” het sy vertel. “Ek dink ook nie die vrees wat jy beleef met elke toets gaan ooit weg nie, dit is net iets wat jy leer om mee saam te leef.”