Papapavlou-moord: TV-dokumentêr onttrek ná lokgreep weduwee glo skuldig maak
DStv se Via-kanaal sou 'n episode oor die moord van Limpopo-plaasvoorman Raymond Papapavlou uitsaai.
DStv kykers het Sondag reggeskuif vir die verwagte uitsending van Huisgenoot Ware Lewensdramas se wyd geadverteerde dokumentêr oor die moord van Raymond Papapavlou, wie se vrou Simoné van sy huurmoord verdink word.
Die program is egter op die nippertjie vervang.
Die grumoord van die jong boer wat in sy bed afgemaai is terwyl Simoné meters verder voor die TV gelê en slaap het, maak vir opspraakwekkende kykstof weens die kinkel, in wat aanklaers beweer ’n fynbeplande huurmoordsameswering was.
In ’n lokgreep vir die dokumentêr wat Sondag sy eerste uitsending sou loods, is geskryf: “Huisgenoot Ware Lewensdramas: Vlees en Bloed. Liefde is ’n groot motivering in die lewe, maar ongelukkig was dit ook Simoné Papapavlou se motivering om haar eie man, Raymond Papapavlou, in Groblersdal te vermoor.”
Dit is juis die lokgreep wat betrokkenes in die saak, van die plaaslike media tot Raymond se familie, die ondersoekbeampte en die staatsaanklaer, Sondag voor die kassie laat inskuif het.
Betrokkenes by die saak sê dat hulle ‘gedruk is’ om onderhoude toe te staan.

Die onderhoude is afgekeur omdat daar nog nie ’n vaste verhoordatum vir die moordsaak vasgestel is nie.
Simoné – wat tans in eMalahleni woon – kon nie bereik word vir kommentaar oor die lokgreep wat sê dat sy skuldig is nie.
Al vyf beskuldigdes sal vir die eerste maal op 31 Julie almal saam in die hooggeregshof in Polokwane verskyn.
Die Papapavlou-vyf, bestaande uit sy weduwee Simoné, haar vermoedelike minnares Patricia Ray-Lee Smith, die ma en seun, Calvin Tseka (31) en Paulinah Mamalope Mafatle (57), en Phillip Manchidi, se verskynings was tot dusver apart, en Tseka, Mafatle en Manchidi sal op 17 April by Simoné en Smith se moordklag gevoeg word.
Manchidi, wat laaste gearresteer is, was uit op parool na hy in die gevangenis was vir ’n ander moord en transitorooftogte. Hy is by die Winterveld-paroolsentrum gearresteer.

Manchidi sou Donderdag weer in die hof verskyn, en die uitslag van die borgaansoek was teen druktyd onbekend.
Die lokgreep word steeds uitgesaai, maar daar is geen bevestiging wanneer dié episode van die dokumentêr die lug gaan sien nie.
Huisgenoot Ware Lewensdramas word op Showmax en DStv se Via-kanaal uitgesaai en hierdie episode oor die Papapavlou-moord sou vandag om 12:30 en 18:30 weer uitgesaai word.
Middelburg Observer het gespook om betrokkenes by die program, soos die produksie vervaardiger Faffa Nel en Huisgenoot se Corne Swanepoel, in die hande te kry vir kommentaar, maar Via se Robert Kaden het kort voor druktyd erken ‘’n fout het deurgeglip’.
Volgens hom is die program nooit eens geskiet nie en daar is weke gelede reeds besluit om nie daarmee voort te gaan nie.
Dié ‘foutjie’ het ingeglip weens ooreenkomste wat bepaal dat sekere inligting voortydig aan die uitsender verskaf word.
“Die program is nooit vervaardig nie,” erken Kaden.
Read original story on www.citizen.co.za