Polisiebeamptes vas oor korrupsie in Vereeniging en Welkom

'n Luitenant-kolonel is in Vereeniging in hegtenis geneem terwyl vier lede in Zamdela gearresteer is.

Vyf polisiebeamptes is die afgelope week in Vereeniging en Welkom deur die Valke in hegtenis geneem in verband met voorvalle van ernstige korrupsie.

Volgens die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke) is die beamptes tussen die ouderdomme van 38 en 50.

Een van die verdagtes, ‘n 47-jarige luitenant-kolonel van Vereeniging, is Woensdag in Vereeniging vir korrupsie in hegtenis geneem.

Die offisier is in 2012 in Kestell na die pos van luitenant-kolonel bevorder.

Toe sy met haar nuwe pos begin het, het sy nie in Kestell gewoon nie.

Sy het glo ‘n amptelike voertuig gebruik om tussen Bethlehem en Kestell te reis.

Maande later het sy na bewering ‘n eis vir hervestigingskoste van ongeveer R20 000 ingedien sonder dat sy na Kestell verhuis het.

Die hervestigingskoste is ‘n voordeel wat gegee word aan lede wat in ‘n pos buite hul primêre woonplek aangestel word.

Die saak is na die eenheid vir die ondersoek van ernstige korrupsie in Bloemfontein verwys en ‘n lasbrief is vir haar inhegtenisneming uitgereik.

Sy moet op 12 Julie in die landdroshof op Kestell verskyn.

Transitorooftog

In nog ‘n voorval is vier lede van Kroonstad se honde-eenheid en die Zamdela-polisie Donderdag in hegtenis geneem nadat hulle glo ongeveer R1m, wat tydens ‘n transitorooftog in Sasolburg in 2022 gesteel is, gevat het.

In plaas van om die geld na ‘n SAPS 13-stoor te neem het die beamptes glo die geld in hul eie sakke gesteek.

Die vier verdagtes het gister in die landdroshof op Sasolburg verskyn op aanklagte van diefstal, dwarsboming van die gereg en geldwassery.

Die inhegtnisneming van nog ‘n polisiebeampte word verwag.

Majoor-Generaal Mokgadi Bokaba, die hoof van die Valke in die Vrystaat, het in reaksie op die inhegtenisnemings gesê sy is teleurgesteld in die gedrag van die offisiere.

“Ons is meedoënloos in ons poging om korrupsie binne ons geledere uit te roei. Dit is ons grondwetlike plig om van vrot elemente in die stelsel ontslae te raak en die vertroue van Suid-Afrikaners in die polisie te herstel.

“Wees verseker dat daar nog arrestasies sal volg,” sê sy.

Read original story on vaalweekblad.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button