Mpumalanga-plaasaanval: Man vermoor, pa in kattebak gevind, ma ontvoer

'n Wreedaardig plaasaanval word tans ondersoek nadat 'n man se lyk vanoggend deur 'n familielid onder 'n bakkiekap gevind is.

‘n Plaaseienaar van Hendrina in Mpumalanga, Koos Minnaar, het Vrydagoggend net na 06:00 op die liggaam van ’n familielid buite ’n woning op die plaas Bosmanspan afgekom.

Die vermoorde man, Nico Steyn, in sy 40’s, is onder ’n bakkiekap (canopy) buite die huis wat hy met sy bejaarde ouers gedeel het, gevind. Sy ouers, Piet en Sannie, beide in hul 80’s, was eers soek, maar is later gevind – Piet in die kattebak van ’n voertuig in ’n motorhuis op die plaas, en Sannie by ’n informele nedersetting in Secunda.

Minnaar se plaas het drie huise op, waarvan die Steyns in een woon.

Minnaar het Nico se bebloede liggaam met kop en gesigbeserings gevind. Hy het op sy maag onder die bakkiekap gelê.

Sy moordenaars het sy liggaam met die bakkiekap bedek voordat hulle sy pa, Piet, in die kattebak van ’n voertuig in ’n motorhuis op die plaas toegesluit het. Piet is vasgebind met kabelbinders en die bagasiebak moes oopgebreek word om hom te bevry.

’n Reuse soektog is toe na die vermiste tannie Sannie van stapel gestuur. Nico se silwer Haval was ook soek en veiligheidskameras op roetes rondom die plaas is nagegaan.

Die silwer voertuig is reeds gisteraand omstreeks 23:30 op veiligheidskameras opgemerk, waarna die voertuig op die Bethalpad gewaar is.

Die voertuig, met ’n beseerde tannie Sannie daarin, is intussen by ’n informele nedersetting in Secunda gevind. Die aard van haar beserings is tans onbekend.

Die bejaarde egpaar het beide die plaasaanval oorleef en word tans gehospitaliseer

Boere van die omgewing kom op die plaas byeen.

Volgens VF+ raadslid Corrie Wolmarans, wat kort na 06:00 op die toneel aangekom het, was al die huis se deure oop.

Daar word vermoed dat die Steyns reeds gister rondom 17:00 aangeval is, omdat al die beddens in die huis nog opgemaak was.

Wolmarans sê dat daar op die oog af niks waardevols, soos televisies, uit die huis gesteel is nie.

Hy het die polisie geloof vir hulle vinnige optrede, veral in die lig daarvan dat die bejaarde vrou ontvoer is en vir ure aangehou moes gewees het.

“Dis te danke aan die polisie se flinke optrede dat sy so vinnig gekry is,” sê Wolmarans, wat ook Acsu Sekuriteit bedank het vir hulle bystand om die toneel voor die polisie se aankoms te beveilig.

“As die VF+ veroordeel ons die barbaarse aanval op hulpelose bejaardes en hul seun, wat die aanval nie oorleef het nie,” sê Wolmarans. Wolmarans was self ’n voormalige polisieman en het ook gehelp om die toneel te beveilig.

“Ons medelye gaan uit na die Steyns, en natuurlik die Minnaars, wat familie van die oorledene is.”

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button