Man op plaas vermoor, pa in kattebak gevind, ma ontvoer
Wreedaards het gister ’n man en sy bejaarde ouers op ’n plaas aangeval.
’n Plaaseienaar van Hendrina, Koos Minnaar, het vanoggend net na 06:00 op die liggaam van ’n familielid buite ’n woning op die plaas Bosmanspan afgekom, waarna die vermoorde man se bejaarde pa, in die kattebak van ’n voertuig in ’n motorhuis op die plaas gevind is.
Die liggaam van Nico Steyn, in sy 40’s, is onder ’n bakkiekap (canopy) buite die huis wat hy met sy bejaarde ouers gedeel het, gevind.
Daar was egter geen teken van sy bejaarde ouers Peet en Sannie, beide in hul 80’s nie.
Nico se bebloede liggaam is met kop en gesigbeserings gevind.
Hy het op sy maag onder die bakkiekap gelê.
Sy moordenaars het sy liggaam met die bakkiekap bedek voordat hulle sy pa Piet, in die kattebak van ’n voertuig in ’n motorhuis op die plaas toegesluit het.
Peet is vasgebind met kabelbinders en die bagasiebak moes oopgebreek word om hom te bevry.
’n Reuse soektog is toe na die vermiste tannie Sannie Steyn van stapel gestuur.
Nico se silwer Haval is vermis en veiligheidskameras op roetes rondom die plaas is nagegaan.
Die silwer Haval is reeds gisteraand omstreeks 23:30 op veiligheidskameras opgemerk, waarna die voertuig op die Bethalpad gewaar is.

Die voertuig, met ’n beseerde tannie Sannie daarin, is intussen by ’n informele nedersetting in Secunda gevind.
Die aard van haar beserings is tans onbekend.
Die bejaarde egpaar het beide die plaasaanval oorleef en word tans gehospitaliseer
Volgens VF+ raadslid, Corrie Wolmarans, wat kort na 06:00 op die toneel aangekom het, was al die huis se deure oop.
Daar word vermoed dat die Steyns reeds gister rondom 17:00 aangeval is, omdat al die beddens in die huis nog opgemaak was.
Wolmarans sê dat daar op die oog af niks waardevols soos TV’s uit die huis gesteel is nie.
Hy het die polisie geloof vir hul vinnige optrede, veral in die lig daarvan dat die bejaarde vrou ontvoer is en vir ure aangehou moes gewees het.
“Dis te danke aan die polisie se flinke optrede dat sy so vinnig gekry is,” sê Wolmarans, wat ook Acsu Sekuriteit bedank het vir hul bystand om die toneel voor die polisie se aankoms te beveilig.
Die toneel word tans nog gefynkam.
“As die VF+ veroordeel ons die barbaarse aanval op hulpelose bejaardes en hul seun, wat die aanval nie oorleef het nie,” sê Wolmarans.
Wolmarans was self ’n voormalige polisieman en het ook gehelp om die toneel te beveilig.
“Ons medelye gaan uit na die Steyns, en natuurlik die Minnaars, wat familie van die oorledene is.”
• Die plaas het drie huise op met die Steyns wat in een woon.
