Network Sport

Nuwe bestuurspan gereed om Ixias in 2026 Varsitybeker te lei

Lubabalo Lento neem as hoofafrigter oor terwyl Sarel Pretorius en Wian du Preez by hom aansluit in 'n nuwe era vir Ixias.

‘n Nuwe era by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) Ixias begin met ‘n nuwe bestuurspan aan die stuur vir die 2026 Varsitybeker-reeks, wat in Februarie afskop.

Volgens Bloemfontein Courant sal die Ixias, soos die span bekend staan, deur die 33-jarige Lubabalo Lento gebrei word nadat hy as die nuwe hoofafrigter van die span aangestel is. Lento neem die leisels by Randall Modiba oor, en daarmee word ‘n moeilike hoofstuk in die span se trotse geskiedenis afgesluit.

Modiba het die Ixias die afgelope twee jaar met bitter min sukses in die Varsitybeker afgerig, en sy kontrak is nie hernu toe dit aan die einde van Augustus verstryk het nie.

Lento is egter geen vreemdeling by SUT nie – hy was Modiba se hulpafrigter, terwyl hy ook voorheen die Young Guns-span afgerig het.

Strydros terug op sy pos

Nog goeie nuus is dat die SUT-strydros Skille Bester terug is op sy pos by die span nadat sy kontrak verlede jaar nie hernu is nie. Bester het voorheen in verskeie rolle gedien – van hoofafrigter tot spanbestuurder – en sy heraanstelling is beslis ‘n reuse-inspuiting vir die span.

Lento sal bygestaan word deur twee bekendes in rugbykringe. Die oudloskopstut van die Springbokke, Cheetahs en Munster, Wian du Preez, is nader getrek deur die Ixias as hulle skrum-ghoeroe. Du Preez was onlangs die Suzuki Griekwas se skrumdokter toe hulle vanjaar vir die eerste keer in 55 jaar die Curriebeker omhoog gehou het.

Die voormalige Cheetahs-skrumskakel Sarel Pretorius is intussen ook aangewys as die Ixias se nuwe agterlynafrigter. Super Sarel, soos die 41-jarige Pretorius in sy speeldae bekendgestaan het, rig al geruime tyd op Young Guns-vlak in die Varsitybeker af, en het ook ondervinding op skolevlak waar hy spanne by Grey Kollege afgerig het.

Lento en sy span sal hulle 2026-veldtog op ‘n hoë noot wil begin wanneer hulle in hulle eerste wedstryd op 16 Februarie in Bloemfontein teen die tweemalige kampioene die Noordwes-Universiteit te staan kom. ‘n Week later is hulle in Kaapstad teen die verdedigende kampioene, die Ikeys, in aksie terwyl hulle reeds in die derde ronde teen die Universiteit van die Vrystaat se Shimlas op SUT-park in Bloemfontein in die Bloemfontein-buurstryd te staan sal kom.

Shimlas hard aan die werk

Intussen is die Shimlas reeds hard aan die werk in hulle voorseisoen en hulle sal na verwagting ‘n baie sterk span hê vir 2026. Die oud-Shimla-stut Chase Morrison, wat voorheen by sy alma mater Selborne Kollege afgerig het, is aangestel as nuwe hulpafrigter om Malusi Mthethwa te vervang. Van hulle spelers soos Juan Venter, Arno van der Merwe en Ben Pitout het waardevolle ervaring by die Cheetahs opgedoen, terwyl ander soos Bradley Giddy, Vice Hofmeyr en kaptein Nkoka Ngobe reeds saam met Frans Steyn en sy groep oefen.

Die Shimlas speel op 16 Februarie op Shimlapark in die openingswedstryd van die Varsitybeker teen die Universiteit van Stellenbosch se Maties. Die kragmeting sal om 16:45 afskop.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Morgan Piek

Hierdie berig is deur Morgan Piek van Bloemfontein Courant geskryf.

Related Articles

Back to top button