Lhuan-dré Pretorius stel nuwe T20-wêreldrekord op
'n Oud-leerder van Laerskool Mooirivier het 13 sesse en 15 viere geslaan tydens sy rekordbeurt vir die Titans in Bloemfontein.
Die oud-leerder van Laerskool Mooirivier in Potchefstroom, Lhuan-dré Pretorius, is nou die wêreldrekordhouer vir die hoogste individuele telling in mans-T20-krieket met ’n verstommende 188 nie uit nie van slegs 79 balle.
Volgens Potchefstroom Herald het hy hierdie rekord in die ligblou kleure van die Titans opgestel in gister se YesPlay Pro20 Cup-wedstryd teen die Knights by die Mangaung Oval in Bloemfontein.
In die proses het Pretorius die T20-legende Chris Gayle se rekord van 175, wat hy in 2013 opgestel het, verbeter.
Pretorius (20) is een van Suid-Afrika se opwindendste kolwers, en hy het krieket soos ’n videospeletjie teen die Knights laat lyk. Hy het sy 50 in 24 balle en sy honderdtal in 40 balle bereik. Hy het sy 150 in 58 balle bereik. Pretorius het 13 sesse en 15 viere gemoker en die Knights se boulers bloedneus gelaat.
Hy is bekend vir sy aggressiewe kolfwerk en het ’n T20-loopbaantreftempo van 150.44.
Hy het ook reeds ’n T20-honderdtal van 101 vir die Proteas aangeteken en Suid-Afrika in al drie formate verteenwoordig.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.



