Die oud-Laerskool Mooirivier-leerder, Lhuan-dré Pretorius, is nou die wêreldrekordhouer vir die hoogste individuele telling in mans T20-krieket met ’n verstommende 188 nie uit nie van slegs 79 balle.
Hy het hierdie rekord in die ligblou kleure van die Titans opgestel in ’n Pro20-wedstryd teen die Knights in Bloemfontein op die Mangaung Oval.
In die proses het Lhuan-dré die T20-legende, Chris Gayle, se jarelange rekord van 175 verbeter wat die man van die Wes-Indiese Eilande in 2013 opgestel het.
Lhuan-dré (20) is een van Suid-Afrika se opwindendste kolwers, en hy het krieket soos ’n videospeletjie teen die Knights laat lyk. Hy het sy 50 in 24 balle bereik en sy 100-tal in 40 balle. Sy 150 het van 58 balle gekom. Hy het 13 sesse en 15 viere gemoker en die Knights se boulers bloedneus gelaat.
Lhuan-dré is bekend vir sy aggressiewe kolfwerk en kolf in internasionale krieket vir die Proteas teen ’n treftempo van 150,44.
Hy het al ’n internasionale T20-honderdtal van 101 ook vir die Proteas aangeteken en Suid-Afrika in al drie formate verteenwoordig.



