Kry jou trots terug
BRIXTON - Wil jy 'n vaardigheid aanleer? Kan jy vir iemand 'n vaardigheid leer? Brixton ontspanningsentrum soek jou.

Stop die leeglêery. Los die dwelms. Leer ‘n vaardigheid. Bly lewe. En vind só jou menswaardigheid.
Dr Aleit Pretorius, hoof van die sentrum vir inligting en ontwikkeling by Brixton-ontspanningsentrum, het nou al lank dié visie vir Brixton.
“Tieners hier (in Brixton) kan so maklik swig vir dwelms en leeglêery,” het Pretorius op 21 Mei by die sentrum gesê.
“En dan beland hulle op straat. Ons wil eerder hê die straatkinders, die leeglêers en die gomsnuiwers moet na die ontspanningsentrum kom en vaardighede leer. Ons wil ouens oplei om te kan werk.”
Die fokus by die sentrum is nie op kinders en babas nie.
“Wat gebeur met jongmense wat hulself skielik in die wêreld weg van hul ouerhuise bevind ?Daar is geen vangnet vir hulle nie, hulle verdwyn in die bodemlose put.
”Daar is baie om hier te leer. As jy hier aankom, evalueer ons jou. Ons kyk waarin jy belangstel,” het Pretorius verduidelik.
“Ons doen nie net opleiding in skoonheid en hare nie. Ons kan jou leer om motors reg te maak, en ons leer mense om meubels oor te trek. ”Ons het ook programme vir refleksiologie en massering vir visueel gestremdes.
”Dan is daar ook programme vir paneelkloppers, asook kook- en bakprogramme. En as jy ‘n voorstel het vir ‘n program wat ons kan aanbied, kan jy ons daarvan kom vertel.”
Almal wat suksesvol deur die sentrum opgelei word, ontvang ‘n sertifikaat. En dis nie net straatkinders wat hierby kan baat nie.
“Hierdie projek is vir enigiemand met spesiale behoeftes,” sê Pretorius.
“En ek praat nie net van gestremdes nie, dit is ook vir mense wat groot finansiële en sosiale probleme het. Dit is selfs vir mense wat te oud of te jonk of te dom of te slim is.
”As jy ‘n behoefte in jou lewe het om ‘n vaardigheid aan te leer of selfs net ‘n broodjie te kom eet, kan jy by ons kom aanklop. Enigeen is welkom, of jy nou in Sandton of Newlands bly.”
Pretorius sê hy is nie noodwendig ‘n idealis nie, hy weet uit jare se ondervinding dat dit soms bloedsweet verg om deur die program te werk. Maar daar is ook suksesstories. Daar is mense wat die gom gelos het, ‘n vaardigheid geleer het en nou ‘n werk het. “Dit kan gedoen word, met ‘n helse gesukkel,” voeg hy by.
“Ons wil hê hierdie moet ‘n projek van die gemeenskap vir die gemeenskap wees. Jy, tannie wat lekker ingelegde vrugte maak, kom leer asseblief vir die kinders hoe dit werk. As jy kan tuinmaak, sal ons so graag by jou wil leer hoe om ons eie groente te kweek. En as jy vernuf het met ‘n verfkwas, kom maak ‘n draai.”
Die sentrum se werk is nie ‘n filantropiese storie nie, sê Pretorius. “Ons wil hê die leerders moet geld maak uit hul aangeleerde vaardighede. ”En ja, ons het ook hulp nodig by die sentrum. Ons vra skenkings. Ons het dinge nodig soos rekenaars en internet. Iemand wat herstelwerk by die sentrum kan doen, sal ook wonderlik wees. Ons gee terug, deur mense op te lei.”
*Mense wat ’n bydrae kan lewer of wat belang stel om vaardighede te leer, kan aanklop by Brixton-ontspanningsentrum in Carolinestraat.