‘Once upon a time in New Jersey’
Hoërskool Volksrust se blyspel, Once upon a time in New Jersey, is verby en wat ‘n reuse sukses was dit nie. Hierdie produksie het plaasgevind op 20, 21 en 22 Augustus en het by twee van hierdie drie aande staande ovasies vanaf die gehoor uitgelok. Al drie aande het vol sale getrek en met die …
Hoërskool Volksrust se blyspel, Once upon a time in New Jersey, is verby en wat ‘n reuse sukses was dit nie.
Hierdie produksie het plaasgevind op 20, 21 en 22 Augustus en het by twee van hierdie drie aande staande ovasies vanaf die gehoor uitgelok. Al drie aande het vol sale getrek en met die laaste vertoning is stoele selfs bygevoeg om almal die geleentheid te bied om hierdie produksie te sien.
In die blyspel het die gehoor gesien hoe Vinnie so graag soos Rocco wil wees en wanneer dit wel gebeur, raak dinge amper vir hom te veel. Humoristiese oomblikke waarin Vinnie Rocco se “tricks” leer en witleuntjies van monikke was ons laat skaterlag het. Angie, wat ‘n sprekende voorbeeld is van liefde wat blind is, kry uiteindelik ‘n bril en sien die mooi agter Vinnie raak. Die hitman word ‘n Graad 2 onderwyser, die gangster en sy vrou kry ‘n baba en die nuwe pierewaaiers van die dorp is Buddy en Tony. Wat ‘n gelukkige einde, waar Rocco natuurlik alleen opeindig, want die waarheid sal altyd seëvier.
Baie geluk aan ‘n klein skooltjie waar vyf van die 13 hoofkarakters eerste rugbyspan spelers is, wat as Mpumalanga wenners uit die stryd getree het. Tien van hierdie hoofkarakters moes solosang lewer en het dit gedoen met uitstaande vaardigheid.
Die hoofseun en hoofdogter van Hoërskool Volksrust het ook in die produksie gespeel. Sewe van die uitvoerende komitee se lede het deelgeneem aan die produksie, waarvan vyf hoofkarakters was. Die kultuurhoofseun het aan die hele gemeenskap bewys dat hy ‘n rolspeler is om mee rekening te hou. Die hoofkarakter het merkwaardige leierskapseienskappe getoon en 13 deelnemers is op die akademiese Top 10 in hulle onderskeie grade.
Die CD met die professionele klankopnames van Hoërskool Volksrust leerlinge se sang is te koop vir slegs R80 en ‘n DVD van die produksie vir R100. Indien beide geneem word, sal die koste slegs R150 beloop.
So kom ons aan die einde van ‘n baie besige kultuurtyd by Hoërskool Volksrust. Die skool beplan reeds aan die volgende blyspel, wat in 2016 opgevoer sal word, wat weereens beloof om vir ‘n groot hoogtepunt te sorg.



