ONS KOSHUIS het ook Nasionale Braaidag ondersteun met ‘n lekker koshuisbraai.
Die leerlinge, van graad 1 tot graad 11, het hul eie tjops en sosaties gebraai. Die manne het egter die meisies bygestaan met raad en advies of sommer namens hul gebraai. Daar was stokbrood, met stroop gevul, om die soettande ook tevrede te hou. Dit is beslis ‘n geleentheid wat ons gou wil herhaal. Ons sal maar ‘n ander rede moet skep voor die volgende braaidag om weer so ‘n lekker koshuisbraai te hou. Dankie aan die matrones en die personeel vir al die reëlings.
LMS Rugby: ‘Field of dreams’ tagtoernooi: Lucas Meyer se rugbyspan het die afgelope naweek na Durban getoer om aan hierdie toernooi te gaan deelneem. Die manne het natuurlik eers n draai by die strand gemaak. Ons skool is uitgenooi om deel te neem aan hierdie geleentheid op Kingspark. Daar het 12 skole van regoor KZN deelgeneem aan hierdie toernooi waar die nuwe formaat van tagrugby bekend gestel is. Dit was baie kompeterend, maar beslis groot pret gewees! Die hoogtepunt was beslis om op die groen gras van Kingspark te kon hardloop en drieë te druk. Ons het ook ‘n paar Sharkspelers raakgeloop en ons kon ook hierdie manne van nader beskou. Ouers en ondersteuners het gebraai langs die veld en daarna het ons die Sharks teen die Bulle gaan ondersteun. Ons kyk ook uit na die televisieprogram, Sharkbite, wat in die nabye toekoms ook hoogtepunte van die toernooi gaan beeldsend op Supersport. Baie dankie aan die ouers vir hul ondersteuning en vir die afrigters se toewyding.



