‘n Blik uit die gedagtes van ‘n Holland Korps-oorlewende, soos vertel deur Stella
Dit het begin reën, en die Hollanders, wat geen beskutting gehad het nie, moes in die oopte skuiling vind, want die ander burgers wou hulle nie in die tente toelaat nie.
Ek het meermale al in my loopbaan as Natalse slagveldgids die slagveld van Elandslaagte met toergroepe besoek, en toe die geleentheid opduik om met een van die nasate van ‘n vegter van die Hollanderkorps hier in Dundee ‘n onderhou te voer, het ek nie ‘n oomblik geaarsel nie. ‘n Hollandse televisiespan het haar gevra om teenwoordig te wees met die verfilming van ‘n dokumentêre film oor die Anglo-Boereoorlog, en ek het haar die volgende oggend in die Royal Country Inn in Dundee opgespoor.
Haar naam was Stella Bosch-Mondriaan, soos sy bekend staan in Nederland, en sy was deur haar seun Jan-Karel Bosch vergesel. Sy was baie jonger as wat ek my voorgestel het, en sy was die kleindogter van Willem Mondriaan, een van die lede wat saam met die Hollanderkorps by Elandslaagte tydens die Anglo-Boereoorlog in aksie was. Jan-Karel het sy inligting onmiddellik aan my beskikbaar gestel en my van ‘n afdruk van ‘n kosbare kaart van die slag, soos opgetrek deur een van die Hollanders, voorsien.
Ons het begin gesels, en die toneel wat vir my oopgegaan het, was bepaald verskillend van die tradisionele Anglo-sentriese benadering van hierdie bloedige slag van 21 Oktober 1899. Die kaart was dieselfde as wat jy in die gewone geskiedenisboek sou kry, met bepaalde verskille by die posisies van die berede Britse troepe wat die dag daar in aksie was.
Een verhaal wat vir my pertinent uitgestaan het, was die byna tasbare vyandigheid tussen die Boere en die Hollanders. Een voorbeeld was die trein wat hulle by Elandslaagte-stasie vasgekeer het. Dit was vol lewensmiddele, perdesaals, en drank. Hier het Kommandant Jan Lombard van die Hollanderkorps besef dat as hulle nie bepalend optree nie, gaan die Johannesburgers te veel drank hier in die hande kry. Hulle was reeds besig om te buit op die trein.
Die Britse Leër, wat al bewus was van hul teenwoordigheid, het vroegoggend al met die spoorlyn opgetrek tot net agter hul stellings, waar hulle die posisie met artillerie begin aanval het.
Na oorweging met Generaal Kock het hy opdrag gegee dat die drank vernietig moet moet word. Dit het tot groot onteveredenheid aanleiding gegee, en Lombard het besef hy sou die mense daar moes wegkry. ‘n Vals alarm het die burgers sowat twee myl van die stasie laat posisie inneem op die rante. Dit het begin reën, en die Hollanders, wat geen beskutting gehad het nie, moes in die oopte skuiling vind, want die ander burgers wou hulle nie in die tente toelaat nie.
Die Britse Leër, wat al bewus was van hul teenwoordigheid, het vroegoggend al met die spoorlyn opgetrek tot net agter hul stellings, waar hulle die posisie met artillerie begin aanval het. Die tweede skoot wat uit ‘n Boerevuurmond gekom het, het een van French se ammunisietrokke van die spoor af geskiet, en hulle moes haastig terugval, terwyl die Hollanderkorps, saam met die Duitsers, en die Kommando van Kock hulle agtervolg het en met geweervuur soveel moontlike skade probeer aandoen het. Teen die middag het hulle die agtervolging gestaak en weer na die laer teruggekeer.
Interessant genoeg, het generaal Piet Joubert nou vir Kock laat weet dat hy hopeloos te ver vooruit is, en dat hulle hom nie kan help as hy aangeval sou word nie.
Willem Mondriaan skryf self, “Generaal Kock het hierop geantwoord dat hy nie gekom het om koppies op te pas nie en dat as die uitlanders bang is om te veg dan kan hulle maar terugtrek.”
Kommandant Lombard het hierop gereageer dat sy Hollanders sal staan tot die laaste, maar dat die slag wat kom ‘n ongelyke een was wat maklik verloor kan word. Kort na afloop van die Krygsraad het hierdie onvriendelike en selfs krenkende uitlating van Generaal Kock oor die Hollanders, onder die Hollanders uitgelek. Dit het tot gevolg gehad dat byna elke lid van die Korps hom voorgeneem het om tot die bitter end te veg. Dit was dan sekerlik ook die oorsaak gewees dat die getal gewondes en gesneuweldes onder die Hollanders so groot in verhouding was by hierdie geveg.
‘Ek hoor nog die ou Kommandant Weilboek (sic) van Heidelberg diep verontwaardig die wegvlugtende Johannesburgers toeroep’
Willem Mondriaan: “Ek [voel] my verplig om hier ander krenkende bewerings wat versprei was oor die Hollanders, wat so dapper geveg het, te weerlê en teen te spreek. Daar is naamlik beweer dat die Hollanders die oorsaak was van die verlies van die Slag van Elandslaagte omdat hulle te veel onder die invloed van sterk drank was.”
Dit was nie waar nie, en “het later geblyk dat hierdie gerugte versprei is deur ‘n afdeling Johannesburg Burgers, wat onder ‘n sekere Veldkornet Pienaar, opdrag gekry het om ‘n heuwelrantjie sowat 400 tree voor ons kanonne te beset en van daaraf sorg te dra dat die Engelse nie hulle kanonne in stelling kan bring nie. Hierdie Burgers het al vroeg in die geveg begryp hoe belangrik maar ook gevaarlik hulle posisie sou word en het reeds vroeg die middag hulle posisies in die steek gelaat en die slagveld verlaat. Ek hoor nog die ou Kommandant Weilboek (sic) van Heidelberg diep verontwaardig die wegvlugtende Johannesburgers toeroep, ‘Het julle hier net gekom om te roof en te steel en loop julle nou dat die geveg begin?’ Blykbaar om hulle eie lafhartige houding te regverdig, het hulle hul wegloop van die slagveld probeer verskoon deur die lasterlike “praatjie” te versprei omtrent die Hollanders wat sou gedrink het.
Mondriaan gaan dan voort deur verskeie bewerings oor die Hollanders te weerlê, en maak ook melding van Generaal Kock wat die kanonne te naby aan hom wou hou, tot groot onmin van die junior offisiere.
Hy meld verder dat die geveg buitengewoon bitter was. Hulle het ook op gewapende “Indiërtroepe” geskiet, wat later geblyk het baardraers te wees.
Hy is later gevange geneem, maar nie voordat swartmense in die omgewing hom gehelp en verpleeg het, en later aan ‘n Boere-ambulaans oorhandig het nie. Hy is wel gevange geneem, maar het die oorlog oorleef.
“Ons was geweldig verontwaardig oor hierdie gebruik van gekleurde troepe teen ons. Later het dit geblyk dat die Engelse die Indiërtroepe gebruik het om die gewondes van die Slagveld weg te haal. Hierdie Indiër “stretcher bearers” was almal gewapen met swaarde en rewolwers.”
Stella wys my daarop dat Willem Mondriaan na ‘n verraaier in hul geledere verwys het, skynbaar ‘n lid van die Johannesburgpolisie. Die voorval met die witvlag was ook die inisiatief van ‘n lid van die Johannesburgkommando, ene Thompson. Hy is onmiddellik gekeer.
Mondriaan vertel in detail hoe die kavalleriste hulle agtervolg het, en hul enigste doel was om die ‘bloody Dutchmen” uit te roei. Volgens hom het die Britse troepe later teruggekom na die slagveld en heelwat van die gewondes vermoor en beroof. Hyself was beroof van alle geld en persoonlike besittings.
Hy is later gevange geneem, maar nie voordat swartmense in die omgewing hom gehelp en verpleeg het, en later aan ‘n Boere-ambulaans oorhandig het nie. Hy is wel gevange geneem, maar het die oorlog oorleef. Hy het later teruggekeer, waar hy ‘n rol in die plaaslike koerantwese en politiek gespeel het.



