Kop-aan-kop botsing stuur skokgolwe deur gemeenskap
Met sy sagte oë en skewe glimlag het hy soveel lewens positief aangeraak dat Richard ‘n plekkie in elkeen se hart ingemessel sal hê…
n Hele familie se lewens het onherroeplik verander met die skielike afsterwe van Richard Bernard Scheepers (40) op Vrydag, 7 Julie. Richard was oppad werk toe op die R69 Hlobane-pad toe die ongeluk gebeur het. ‘n Aankomende voertuig wat blykbaar uitgedraai het vir ‘n ander voertuig het kop-aan-kop met Richard se Corsa-bakkie gebots en Richard is opslag dood.
Richard was welbekend in Vryheid en veral vir sy sportprestasies waar hy ‘n kranige atleet was veral in hoogspring en het later selfs die Comrades Maraton ‘n paar keer saam met sy vrou, Melissa gehardloop het. Soos Melissa sê, “Comrades was hulle ding.” Hy was keer op keer verkies as Voorsitter van die Vryheid Atletiekklub, maar meer as dit was hy ‘n gesinsman. Sy drie kinders, Jayd (19), Clarissa (14) en Righard (10) was die spil waarom sy lewe gedraai het. Hy en Melissa het reeds op die jong ouderdom van nege jaar kennis gemaak. Melissa onthou dit soos gister, en vertel hoe sy hom in Graad 3 gesien het, en toe al reeds besluit het dat sy eendag met hom gaan trou. Die lewe het sy draaie gemaak, en die tweetjies het mekaar weer na skool raakgeloop en die liefde het geblom. Die liefdesverhaal is tydens ‘n huweliksseremonie in 2009 voltrek en hulle lewe het offisieel saam begin.
Vriende beskryf Richard as ‘n omgee-mens, iemand wat uit sy pad sou gaan vir sy medemens solank hy kon help. Sy sagte en vrygewige hart was alombekend en dit het van hom ‘n geliefde en gerespekteerde man gemaak. Richard het ook sterk in sy geloof gestaan en was ‘n pilaar, anker en ondersteuningstelsel vir Melissa en die kinders. Met elkeen van sy kinders het hy ‘n baie spesiale band gedeel en kon vinnig raad en leiding gee soos nodig.
Alhoewel Richard skielik en wreed uit sy familie en vriende se lewens geruk is, is sy gees steeds tasbaar. Met sy sagte oë en skewe glimlag het hy soveel lewens positief aangeraak dat Richard ‘n plekkie in elkeen se hart ingemessel sal hê…
Richard se roudiens is op Saterdag, 15 Julie om 11:00 vanuit die ‘Assembly of God’ kerk.
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



