Local newsVryheid Herald

Anta Janse van Rensburg groet onderwys ná 42 jaar

Anta Janse van Rensburg groet die onderwys ná 42 jaar se diens.

Na 42 jaar in die onderwys sluit Anta Janse van Rensburg ’n besondere hoofstuk van haar lewe af in ’n loopbaan wat sy as meer as net ’n beroep beskou.

“Wanneer ek terugdink, voel dit amper onwerklik dat dit 42 jaar is. Die tyd het ongelooflik vinnig verbygegaan. Maar as ek aan al die kinders dink vir wie ek oor die jare skoolgehou het, besef ek eers hoe lank dit werklik was,” sê sy.

Gemengde gevoelens oor aftrede

Hoewel sy uitsien na ’n nuwe fase in haar lewe, gaan haar aftrede gepaard met gemengde gevoelens. Die gedagte om nie meer elke dag by die skool en tussen die kinders te wees nie, laat haar wonder hoe die aanpassing gaan wees.

Passie vir kinders en onderwys

Janse van Rensburg het nog altyd geweet sy wil met jong kinders werk en het vir die Junior Primêre fase studeer, maar uiteindelik hoofsaaklik Graad 4 tot 6 aangebied. Haar passie vir onderwys het deur die jare konstant gebly. “’n Onderwyser raak so lief vir die kinders in haar klas dat jy hulle nog jare later onthou. Soms herken jy hulle nie dadelik as volwassenes nie, maar sodra hulle sê wie hulle is, onthou jy selfs waar hulle gesit het,” vertel sy.

Kosbare herinneringe oor jare

Hoogtepunte in haar loopbaan sluit sportdae, skooltoere en spesiale oomblikke saam met leerders en kollegas in. Een van haar kosbaarste herinneringe is wanneer oud-leerders haar onverwags in ’n winkel raakloop en aangehardloop kom om haar te groet of ’n drukkie te gee.

Onderwys het deur die jare verander

Sy meen die onderwys het oor die jare ingrypend verander. Daar is meer administrasie en kontrolelyste, wat soms minder tyd laat vir die kern van leer. Tegnologie het merkbaar ontwikkel — van die ou pers-banda-masjien en wasvelle tot moderne digitale hulpmiddels en opvoedkundige video’s wat leerervaringe verryk.

Met die jare het sy nie net vir leerders nie, maar later ook vir hul kinders klas gegee — ’n ervaring wat haar laat besef het hoe diep haar wortels in die skoolgemeenskap lê. Sy sê ’n mens besef nie altyd onmiddellik die invloed wat jy op ’n kind het nie, totdat iemand jou jare later vertel hoe ’n eenvoudige woord of daad vir hulle betekenisvol was.

Nuwe hoofstuk wag

Kollegas het ’n belangrike rol gespeel en oor die jare vriende en hartsvriende geword. Wat sy die meeste gaan mis, is die kinders, hul opregtheid, vrolike gesiggies en die vertroue wat hulle in haar gestel het. In haar aftrede wil sy Suid-Afrika verder verken en tyd saam met familie en vriende deurbring.

“Onderwys is nie net ’n werk nie, dit is ’n roeping,” sê sy. “’n Mens besef eers jare later hoe baie daardie klein oomblikke in ’n klas ’n verskil in iemand se lewe kan maak.”

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Carlien Grobler

A community-based journalist at Vryheid Herald since 2019, reporting on everything from hard news to human interest stories and sports, keeping the community informed

Related Articles

Back to top button