
Meneer
Dis nogal ‘n riem onder die hart om te sien dat, ten spyte van al die Covid-19 dramas, die inkerkering en die gepaardgaande skaarsste aan huishoudelike items wat sodoende ontstaan het, het mense hul sin vir die aanvaarde normaal behou. Plaaslike wetstoepassing was nog altyd een van my troetelklagtes, maar tydens die aandklokreël het die manne tog so af en toe op die radar verskyn.
Suid-Afrika se ekonomie het ‘n inkrimping van ongeveer 7% getoon, as mens nog die slim mense kan glo, wat die ergste die laaste eeu was.
Ons het laaste met hierdie fenomeen te kampe gehad tydens die 1933 Depressie, maar toe het Suid-Afrikaners hulself aan hul skoenveters opgetrek, verskeie struikelblokke te bowe gekom, en die land se ekonomie weer reggepluk.
Het ons die testikulêre weerbarstigheid om dit weer te doen? Verskeie industrieë is totaal en al tot stilstand geruk deur die pandemie, en ek verwys hier na toerisme, wat een van die grootste bydraers tot die Bruto Binnelandse Produk was.
Nou is daar niks. Net ‘n groot lugleegte waar daar eens spanne besoekers op toer was.
Gaan ons dit regmaak? Hoe gaan ons dit regmaak? Gaan ons dit dalk nou regkry om die verlammende wetlike aspekte rondom toerisme gestroomlyn te kry.? Gaan ons sien dat toeriste makliker die land kan binnekom, dat toergidse sonder ongelooflike drama al hulle dokumentasies in plek kan kry, en gaan ons sien dat statutêre instellings vir ‘n slag iets doen?
Gaan toergidse weer maande wag vir administrasie en registrasies om opgeknap te word? Van die vervoerpermit gaan ons hier nou nie eens praat nie. Gaan ons weledele stadsraadslede nou ‘n poging aanwend om te sien dat eienaars van toeriste-verblyf vir ‘n verandering gehelp gaan word? Doodnormale wetstoepassing rondom Bed en Ontbyt- en gastehuis-instellings gaan al klaar help dat mense wil terugkom. ‘n Dorp wat nie verswelg in sy eie vullis nie, is ook ‘n goeie idee.
Mooiloop

HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za. Add us on WhatsApp 071 277 1394



