Editor's choice

“Van Rambo’s, Harley-Davidsons en Landcruiserbakkies en die Chinees se renosterhoring….”

  Daardie maaifoedie van ‘n Aap kom stop op my middagslapie voor my poorte, en hy gee die oor van daai nuwe kanariegeel Harley van hom so ‘n ekstra draai. Nadat ek die bulterriër in kettings geslaan het, en my poorte een vir een oopgemaak het om uit te vind wat de hel Aap nou …

 

Daardie maaifoedie van ‘n Aap kom stop op my middagslapie voor my poorte, en hy gee die oor van daai nuwe kanariegeel Harley van hom so ‘n ekstra draai. Nadat ek die bulterriër in kettings geslaan het, en my poorte een vir een oopgemaak het om uit te vind wat de hel Aap nou weer wil hê, is daar goed tien minute verby.
Aap steek ‘n harige klou uit in groet, grawe vir ‘n Cameltjie in sy bosak, en sê hy het groot nuus.
“Wat..?” My agterdog staan onmiddellik op sy agterpote.
“Ons munisipaliteit gaan nou ‘n teen-renosterstropingseenheid stig,” kondig Aap trots aan, en sy smoelwerk blink in die gloed van sy tande. “Vandag so gebesluit innie meeting,” gaan hy baie ingenome met homself verder. “Deur Sy Deurlugtige Heerskap die Burgemeester….”
“En hoe, in die naam van die Heilige Wit Eland, gaan ons dit regkry?” wonder ek hardop. “Julle kan dan nie eers verkeersoortredings ordentlik polisieer nie..!”
“En dan praat ek nie eers van hierdie belaglike bleddie byelaws van julle nie..!” knor ek verder.
“Man, moet tog nou nie soos die Tarentaal beginne raak nie,” sug Aap. “Kyk eerder hier…”
Hy haal daar ‘n gedoentetjie uit sy bosak. Dis so ‘n elektroniese skakelaartipe, geitetjie. “Wat’s dit?” vra ek.
“Ons het die groenlig van die Minister gekry om voort te gaan hier by ons, en dit is wat ons gaan doen. Hierdie is ‘n klein ontstekertjie, wat ons soos ‘n mikrochip in die renoster se nek gaan inplant,” sê Aap. Vreeslik belangrik.
“En dan?”
“Ons gaan ook agt gram plastiese springstof in sy horing inplant. As die renoster nou gevang en doodgemaak word, gaan die diewe mos nou die horing afsaag, nê?” sê Aap slim.
“Ek weet hoe dit werk. Wat’s jou punt…?” Dan vang die enormiteit van Aap se woorde my. “Springstof..? Hoekom…?????”
“Wel, as daar ‘n afstand van tien meter tussen die renoster en sy horing kom, gaan dié sendertjie daardie agt gram springstof afsit.”
Ek sien al hoe ‘n poacher die lug intrek as die horing in sy sak ontplof.
“En…? Het julle dit al getoets?” vra ek. “Jip,” sê Aap. Hy tel die sendertjie op, en skud dit. Op daardie moment blaas sy Harley met ‘n oorverdowende slag in die straat op. Die stukke val kletterend om ons neer. Aap sit stomverbaas, met sy keps skeef oor sy ore, en die raybanne wat nou van die een oor afhang.
Toe ek klaar my gat afgeskrik het, begin ek lag. Skreeuend van die lag, beduie ek aan Aap dat hulle maar eers moet onthou om die bomme te gaan plant in die renoster, voordat hulle enigiets aktiveer. Die res van Aap se kommando stop met skreeutekkies en sirens voor die hek, en nie te lank nie, is die Bowman ook hier.
“What did you do now..???” is sy eerste woorde wat hy uitkry. Aap se helmet val byna op sy kop toe dit afkom aarde toe, en hy sidestep geweldig.
“Ons…???”
“Ons het net bietjie oor die byelaws gechat, en toe wys Aap my hoe hulle gaan keer dat poachers nie sy bike steel nie. Of dalk sy renoster….ek weet nou nie.”
“Who the hell writes this script..?” brom die Bowman, en besluit om te ry voordat die boelie hom sien.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Terry Worley

Terry Worley has been associated with the Courier for many years and is involved in the community covering a variety of issues affecting residents. He has a passion for local politics and for the history of the area.

Related Articles

Back to top button