Carlien matrikulant van die jaar finalis

Carlien Senekal, ‘n Graad 12 leerling van Hoërskool Volksrust, is een van 25 semifinaliste in die Matrikulant van die Jaar-kompetisie. Die kompetisie word aangebied deur Volksblad en die Universiteit van Bloemfontein met die doel om toppresteerders te beloon en na die universiteit te trek om hul studie daar voort te sit. Die kriteria waarvolgens beoordeling …

Carlien Senekal, ‘n Graad 12 leerling van Hoërskool Volksrust, is een van 25 semifinaliste in die Matrikulant van die Jaar-kompetisie.

Die kompetisie word aangebied deur Volksblad en die Universiteit van Bloemfontein met die doel om toppresteerders te beloon en na die universiteit te trek om hul studie daar voort te sit.

Die kriteria waarvolgens beoordeling plaasvind bestaan uit akademiese, leierskap-, sport- en kultuurprestasies.

Matrikulant van die Jaar word vanjaar vir die 34ste keer aangebied en staan onder die oudit van KPMG. Die top 14 word volgende verkies, waarna daardie finaliste Bloemfontein toe gaan vir die finale beoordeling, waar die wenner aangekondig sal word.

Carlien is tans 2de op die Top 10 akademielys van Graad 12 vir Hoërskool Volksrust. Sy neem Wiskunde, Wetenskap, Biologie en Rekenaartoepassingstegnologie as vakke en spog met ‘n gemiddeld wat aan die 90’s raak. Sy beplan om Mediese aan die Universiteit van Bloemfontein te studeer en hoop om vir keuring oorweeg te word. Op laerskool was Carlien aangewys as dux leerling van Laerskool Pionier.

Op leierskapgebied staan Carlien kop en skouers uit bo haar groep. Sy is tans die hoofdogter van Hoërskool Volksrust en ‘n ware ambassadeur vir die skool.

Carlien is ook ‘n meisie wat haar sport ten volle beoefen. Sy speel tennis vir die skool se eerste span, neem deel aan atletiek waar sy die skool verteenwoordig in hoogspring, spiesgooi en skyfwerp en sy is ‘n gekwalifiseerde provinsiale skeidsregter vir hokkie. Die groot eer om vir die o/18 Interprovinsiale Toernooi te Durban as skeidsregter op te tree het haar vanjaar te beurt geval.

Op kultuurgebied staan Carlien haar skoene vol. Sy het vanjaar weereens die hoofrol gespeel in die skool se musiekblyspel Once Upon A Time In New Jersey, waar die blyspel staande ovasies ontvang het. Carlien is ‘n begaafde sanger en het reeds verskeie plaaslike kompetisies gewen. Sy neem ook gereeld deel aan die ‘Con Spirito @ Home’ plaaslike liefdadigheidskonsert en was vanjaar ook die seremoniemeester by hierdie geleentheid.

Op sosiale gebied is Carlien vanjaar gekroon as Mej. VHS, die skool se skoonheidskompetisie vir matriekdogters. Sy is ook ‘n lid van die Glansvrou Akademie. Carlien is ‘n gewilde dogter wat ook die agting en respek van haar meederes geniet.

Carlien handhaaf hoë etiese en morele waardes. In haar plaaslike kerk was sy ‘n aktiewe lid van die voorsanggroep, waar sy waardevolle diens gelewer het met haar musiektalent.

Carlien is ‘n pragtige meisie met uitstaande kenmerke en ‘n trotse Volkie. Die skool wens haar alle sterkte toe met die verdere deelname aan hierdie kompetisie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button