WVF: So eis afhanklikes as ‘n werknemer sou sterf
Baie werknemers ken die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF). Tog is daar baie vrae oor hoe jy registreer en wanneer jy kan eis. Gazette het met Dynamic Labour Solutions gesels om die feite in 'n neutedop te kry.

Werknemers wat 24 uur of meer per maand werk moet vir WVF geregistreer word.
Die werkgewer moet registreer en die volgende dokumente is nodig:
* Identiteitsdokument van die werkgewer sowel as die werknemer.
* Bewys van adres vir die werkgewer.
* Bewys van bankbesonderhede van die werkgewer.
* CIPC dokument vir Besighede.
* Voltooide UI-8 vir besighede of ‘n UI-8D vir Huishoudings
* UI19 met die werknemer se inligting, ure en salaris. Registrasies kan binne 3 dae afgehandel wees, en aanlyn registrasies werk gewoonlik die vinnigste.
1% van die werknemer se salaris word afgetrek en die wergewer betaal 1%. Die U-Filing stelsel werk goed om die werknemer se salaris elke maand te verklaar sowel as om betalings te maak. Ons beveel aan dat die werkgewer wel die 1% aftrek en dit aandui op die salarisstrokie – dit verseker die werknemer dat hulle wel geregistreer is vir WVF. Onthou dat elke werknemer ‘n salarisstrokie moet kry waarop die loon per uur of per dag aangedui word sowel as die aftrekkings soos WVF.
‘n Aantekenregister moet elke dag voltooi word soos daar gewerk is. Etenstye word nie betaal nie, en die Wet op Basiese Diensvoorwaardes vereis dat ‘n werknemer etenstyd neem na vyf ure se werk.
Wie kwalifiseer vir WVF?
* As jy jou werk verloor na afdanking.
* Personeelvermindering (retrenchments).
* Kraamverlof (4 Maande).
* Die pa van ‘n nuwe baba kan 10 dae onbetaalde verlof neem en ook eis vir WVF met die voorwaarde dat sy naam op die geboortesertifikaat verskyn.
* As jy aftree.
* Familie van ‘n afgestorwe werknemer.
* As jy siek is en nie verder kan werk nie.
Hoe gouer jy jou eis indien hoe vinniger word dit afgehandel. Hierdie eis kan ook aanlyn op die U- Filing stelsel gedoen word. Dit spaar tyd en jy weet die aansoek is afgehandel.
Hou egter die volgendedokumente gereed:
* Identiteitsdokument of paspoort.
* UI19 volledig met die kode as rede vir diens beëindiging. Wees versigtig watter kode jy gebruik en moet nie op aandrang van enige persoon die kode verander nie.
* Salarisverklarings.
* UI2.7 vir kraamverlof – dit dui die datums aan wat jou normale salaris uitsluit.
* UI2.8 brief wat toestemming gee dat die geld in daardie spesifieke bankrekening inbetaal mag word met die stempel van jou bank.
Afhanklikes van ‘n werknemer wat te sterwe gekom het moet die volgende saamneem:
1. Al die dokumente soos bo UI-19, salarisverklarings sowel as die UI2.8.
2. Huweliksertifikaat.
3. Lobola brief (Traditionele huwelike).
4. Getekende volmagtigingsbrief vir lewensmaats.
5. Geboortesertifikaat van die kinders.
6. Bewys dat die kinders nog studeer – dis slegs vir kinders tussen 21 en 25.
7. Doodsertifikaat.
Werknemers wat nie kan eis nie sluit in:
Die werknemer wat minder as 24 uur gewerk het per maand en nie geregistreer was nie, as jy net kommissie verdien het, as die werknemer ‘n leerder was in terme van die Vaardigheidsontwikkelings Wet, of die werknemer gedros of bedank het. As jy vrae het skakel Annatjie by 083 2444 251.



