Kies so ‘n kleuterskool vir jou kind
Kleuters kan nog nie vir hulleself praat nie. Daarom moet ouers inmeng en elke dag uitvind hoe dit met hulle kind gaan en ook die onderwyser in kennis stel as iets ongewoon gebeur het wat die kind se gedrag kan beïnvloed.
Voorskoolse onderrig is ‘n gespesialiseerde veld en die fase in jou kind se lewe wanneer hulle perseptuele vaardighede ontwikkel word en dit is hierdie vaardighede wat die fondasie vir die toekomstige formele leer vorm.
Nog belangriker is dat hierdie onderrig op die regte manier gedoen word. Afrikaans.com het die kundige Yolandi van den Heever van Oasis Club Learning gevra om so paar wenke te gee wanneer dit tyd raak om jou kind by ‘n kleuterskool in te skryf.
Eerstens: Maak seker die skool volg die leer deur speel-metode. Op die manier bemeester en leer jou kind emosionele, fisiese sowel as kognitiewe vaardighede aan sonder dat hulle die hele tyd by hulle tafels sit en met werkkaarte besig is. Die kind leer met sy hele lyfie en span al sy sintuie in om sinvol te kan leer en ontwikkel.
Ouers … voordat jy jou kind inskryf, vra die volgende vrae:
- Registrasie: Is die skool geregistreer?
- Leerprogram: Daar is etlike programme op die mark en baie het ’n baie formele aanslag. Mens moet seker maak dat die program nie net vol werkskaarte en papierwerk is nie. Sodanige programme kom nie werklik by grootmotoriese ontwikkeling en ander perseptuele vaardighede uit nie.
- Voel jy gemaklik? As ouer moet jy ‘n lekker gevoel oor die skool hê. Laat jou kind toe om jou te lei in jou besluit en as jy sien dat jou kind se gedrag verander, of hy is ongelukkig, skuif jou kind – daar is baie skole daarbuite.
- Verwagtinge: Maak ‘n lys van die dinge wat onderhandelbaar is en dit wat jy nie bereid is om prys te gee nie. Is jy bereid om jou verwagtinge aan te pas of nie. Wat kan jy bekostig?
- Ken jou kind: Dit gaan jou lei om die regte soort skool vir jou kind te kies. Is jou kind ’n introvert wat floreer in klein groepies of ’n ekstrovert wat weer op sy beste presteer in ’n besige omgewing omring deur baie maatjies sodat hy kan woel en werskaf?
Wat is van die slaggate om voor uit te kyk?
- Vertrou op jou eie oordeel. Iemand anders se persoonlike ervaring by ’n skool het dalk daardie persoon se persepsies beïnvloed en dit is nie noodwendig op jou situasie van toepassing nie.
- Gevaartekens? As daar gevaartekens is, tree onmiddellik op – jy as ouer is die enigste persoon wat kan besluit as jy nie met iets kan saamleef nie.
- Is die skool dalk belangriker as die kind? Is die skool vol allerhande foefies, buitemuurse aktiwiteite, hierdie musieklesse en daardie kunsklasse, maar die werklike aandag aan die kinders ontbreek? Onthou: Al die skynbaar “belangrike” goed beteken nie dat daar noodwendig waarde tot jou kind se onderrig en ontwikkeling toegevoeg word nie.
- Is daar ’n verandering in jou kind se gedrag en emosies? Jou kind was byvoorbeeld heeltemal van die doeke af en skielik begin hy sy broekie nat- of vuilmaak. Of hy het nie meer ’n fopspeen nie en begin skielik weer duim suig.
Onthou, jou kind gaan huil en sê dat hulle nie wil skool toe gaan nie – net soos wat hulle in n restaurant met n speelarea huil omdat hulle nie wil huis toe gaan nie. Dit beteken nie die huis is traumaties nie, dit beteken net die restaurant met sy klimapparaat is vir hulle ’n lekkerder plek.
Kinders hou daarvan om by hulle ma’s te wees, omring deur hulle eie goed wat hulle nie met ander kinders hoef te deel nie en mamma maak die kos waarvan hulle hou en by die skool moet hulle eet wat juffrou sê en hy hou dalk nie daarvan nie. Dit is alles redes wat jou kind oënskynlik sku vir skool toe gaan maak.
Onderskei dus mooi – is daar werklik ‘n probleem, of is die kind net baie lief vir jou? Wees ook verseker: die deursnit kleuterskoolonderwyser wil net die beste vir jou kind hê.
Laastens:
- Wees betrokke by die skool, veral op voorskoolse en grondslagfasevlak. Kleuters kan nog nie vir hulleself praat nie. Daarom moet ouers inmeng en elke dag uitvind hoe dit met hulle kind gaan en ook die onderwyser in kennis stel as iets ongewoon gebeur het wat die kind se gedrag kan beïnvloed. Juffrou moet weet van hierdie gebeure. Ook van huismoles. Onderwysers is verpligte aanmelders en as die onderwyseres probleme by jou kind optel en onraad vermoed, moet sy dit aanmeld. Praat met die onderwyser voordat daar ’n misverstand is.
- Maak seker jy kan die skool bekostig. Kleuterskole is privaat en onafhanklik en kan nie afslag gee nie.
Ouers moet dus hulle huiswerk behoorlik doen voordat hulle besluit op die geskikte skool. Moenie jou ore uitleen aan ander nie – besluit self, want elke gesin se behoeftes verskil.
Gaan lees gerus die volledige artikel – wat ook tuisskoolonderrig insluit – hier: Kies só ’n kleuterskool vir jou kind – Afrikaans.com



