Vermeende dwelmhandelaar loop hom toe vas teen K9-eenheid
Die man se verdagte optrede het verklap dat iets nie pluis was nie.
‘n Vinnige en doeltreffende operasie in Sasolburg, deur lede van die Sasolburg K9-eenheid en Misdaadintelligensie het gelei tot die arrestasie van ’n verdagte op aanklagte van dwelmhandel en -besit.
Die span het inligting opgevolg oor ’n nuwe dwelmhandelpunt in die omgewing. ‘n Man is opgemerk waar hy in die oprit van sy gehuurde woonstel gestaan het. Dit was egter sy verdagte optrede toe hy die polisievoertuig sien, wat polisiebeamptes hond se gedagtes laat kry het dat iets nie pluis is nie.

Hoewel die woonstel deursoek is, is niks gekry nie, maar toe die soektog buite die woonstel voortgesit is, is ‘n versteekte plastieksakkie met dwelms weggesteek agter die modderskerm van ‘n ligte afleweringsvoertuig gekry wat naby geparkeer was. In die sakkie was dwelms soos CAT en Tik met ‘n straatwaarde van R200 000.
‘n Groter sak dwelms en ‘n onbekende bedrag kontant is ook gevind, het polisiewoordvoerder sers. Mahlomola Kareli bevestig.

Die 32-jarige buitelandse burger is gearresteer vir die besit en handel in dwelms en sal binnekort in die Sasolburgse landdroshof verskyn.



