Oudleerder neem die leisels as skoolhoof
"Ek sien uit daarna om saam met julle te werk en te bou, en nog groot hoogtes te bereik," het Jannie Erasmus Dinsdag tydens sy verwelkoming gesê.
Hier op die sportgronde van Primêre skool Parys het Jannie Erasmus as laerskoolseun self rugby en krieket gespeel. Waar ‘n see van kindergesiggies hom en sy gesin, Dinsdag op die pawiljoen verwelkom het op die eerste dag van ‘n nuwe skoolkwartaal, het hy ook eens as skoolseun gesit.
Maar min het Jannie kon dink dat hy eendag die leisels as hoof sal neem van dié skool waar hy sy laerskoolloopbaan begin het. As oudleerder van Primêre Skool Parys kon daar kwalik ‘n trotser oomblik wees vir hom as toe hy Dinsdag weer die skoolbaadjie kon aantrek – gereed om trou aan die skoolleuse te dien en te offer.
Jannie het ‘n passie vir die onderwys en ‘n hart vir kinders. Oor die jare het hy homself as leier bewys wat kan voorvat en onder druk kan funksioneer. Iemand wat kan saamwerk, saam speel, maar ook saam leer.
Met 16 jaar ervaring in die onderwys het hy nadat hy sy graad verwerf het by Vaalpark Primêr begin waar hy tot einde Junie werksaam was.
Dit is ook daar waar hy uitgestyg het as leier – eers as adjunkhoof en later ook as hoof. Nie net het hy verskeie toekennings van die onderwysdepartement ontvang vir prestasie op vakgebied nie, maar het Jannie met sy liefde vir sport hom ook op die rugby- en krieketveld as onder meer skeidsregter bekwaam.
Jy hoor die liefde vir sy grootworddorp en die gemeenskap wanneer hy praat oor die skool wat oor jare so mooi instand gehou is.
“Dit is ‘n groot voorreg om vandag as jul nuwe skoolhoof by Parys Primer aan te sluit,” sê hy, en vertel van ‘n onderwyser wat hom op ‘n dag op die skouer kom klop en gesê het, ‘Jannie jy gaan nog eendag groot hoogtes bereik’.”
En dit is wat hy vir die kinders van Primêre skool Parys wil hê.
“Ek wil hê elke kind wat hier sit moet groot droom,” sê hy. “Jy moet iets hê waarnatoe jy kan werk, want eendag gaan jy ook iewers staan soos wat ek nou hier voor julle staan. Die unieke waardes wat ek hier geleer het, het my gebring tot hier.”



Vir Jannie is respek een van die belangrikste waardes. Respek vir jouself, jou skool, jou onderwysers. “Dra dit saam met jou,” was sy boodskap. Sy droom vir die skool – dat elke kind hier veilig moet voel en dit ‘n plek sal wees waar ‘n kind wil wees. Dat elke kind sy volle potensiaal moet kan bereik.


Dat die skool op sport- en kultuurgebied vir niemand sal terugstaan nie, en elke onderwyser met trots en passie hul werk sal kan doen met die samewerking van ouers. “Ek sien uit daarna om saam met julle te werk en te bou, en nog groot hoogtes te bereik,” het hy gesê.




