Twee wat bejaardes in meenthuiskompleks aanval, beroof nog soek
Die polisie het weer gevra dat mense wat inligting het wat kan help met die ondersoek om die verdagtes vas te trek, dit aan die ondesoekbeampte sersant Rick Hunter sal deurgee by 082 466 8094.

Die polisie soek steeds na twee mans wat betrokke was by ‘n huisroof en aanval op ‘n bejaarde egpaar van Parys op 3 Augustus in die vroeë oggendure by ‘n meenthuiskompleks naby die Parys Distrik-hospitaal.
Volgens polisiewoordvoerder kaptein Loraine Earle, het die verdagtes omstreeks 02:00 toegang tot die woning gekry terwyl die egpaar geslaap het. Hulle het die egpaar vasgebind en die huis geplunder.
Verskeie huishoudelike items sowel as vier vuurwapens is gesteel, en in die egpaar se voertuig gelaai waarmee die verdagtes van die toneel gevlug het. Die gesteelde voertuig, vuurwapens en huisware is ook nog soek.
Volgens Earle het die 90-jarige man kopbeserings in die aanval opgedoen en het mediese behandeling ontvang, terwyl sy vrou (85) nie ernstig beseer is nie.
Sy sê die polisie doen ‘n beroep op mense wat inligting het wat kan help met hul ondersoek na die huisroof en die opspoor van die verdagtes, om die inligting deur te gee aan sersant Rick Hunter by 082 466 8094. Inligting kan ook anoniem deurgegee word op die SAPD se Crime Stop-nommer 08600 10111, of via die MySAPS-toepassing.



