Local newsNews

Klasmaats kuier weer saam ná 40 jaar

Baie herinneringe is die naweek gedeel toe daar na jare weer saamgekuier is.

Hoërskool Parys se matrieks van 1986 het ná 40 jaar weer saamgekuier waar die onthou van skooldae met nostalgie gedeel is. So is die onthou deur Chantel Verster verwoord:


Toe ek in 1986 by Hoërskool Parys matriek geskryf het, was die wêreld ‘n makliker plek as vandag. Niemand het gestrewe na 10 onderskeidings nie – ons wou net keuring kry, nie druip en ons ouers teleurstel nie.”


Google, ChatGPT, Maps en selfone… niks daarvan het nog bestaan nie. Die hele land en wêreld se politiek het soveel beter gelyk, want ons was salig onbewus van die meeste daarvan.


Ons het ons ouers van die koshuis se tiekieboks af gebel. Soggens skool toe gestap oor die witgerypte grasperke. Ons kosblikke het meestal witbrood met iets soos peanutbotter en stroop opgehad. Daar was nie proteïn bars en vreeslike balans nie, en ons het nie geweet van gluten of laktose intoleransies.

Van die 1986 matrieks van Hoërskool Parys wat ná 40 jaar weer saamgekuier het. Foto: Liezl Scheepers.
Van die 1986 matrieks van Hoërskool Parys wat ná 40 jaar weer saamgekuier het. Foto: Liezl Scheepers.


Daar was onderwysers wat ons verstaan het en heeltemal te goed geken het. En ons het pak gekry as ons stout was. Almal van ons. Daar was koolstofies wat ons klasse in die winter warm gehou het, en ons het pouses by die Akkerboom voor die saal met ons maats gekuier.”


Die lewe het gedraai om naweke en kattekwaad. Veldskool, kaskarre en vlotte op die Vaalrivier. Party Vrydaemiddae het ons uit die koshuis geslip en in die dorp swembad gaan supertube.


Daar was al TV, maar ons koshuisbrakke het min tyd gehad vir sulke dinge. Daar was belangriker goed om te doen. Ons het mekaar gehelp opstelle skryf en biologie sketse doen. Ons het saam geleer en huiswerk afgeskryf. Parys, sy skool en sy koshuis, sy rivier en vriende, was my happy place.


‘n Paar jaar later is ek Tuks toe. Party is Kovsies toe, ander het begin werk of boer, en so het ons weggespat van mekaar af. Sonder social media het ons nie kontak gehou nie. Ons het maar gewonder en gevra as ons ‘n bekende gesig iewers raakgeloop het.


Met ons 10 jaar reünie op die Spur se stoep was almal nog mooi en jonk en upcoming in waarmee ons ook al besig was. Die kinders was almal klein en ons het raad uitgedeel onder mekaar. ‘n Entjie later, met ons 30 jaar reünie, was ons almal mooi mature. Soos goeie wyn. Goeie beroepe en kinders wat swot, of tieners wat ons mal maak. ‘n Paar het ouers verloor en van ons onderwysers is oorlede. Ons het baie in gemeen gehad en goeie stories oor die goue dae in Parys gedeel.


Nou is dit 40 jaar. Ons lywe is ‘n bietjie sagter en voller, en hier en daar is ‘n plooitjie. Die manne se hare word minder en ons almal word gryser, al steek ons dit slim weg. Maar niks het in ons wortel en grein verander nie. Jy kyk in dieselfde oë vas as toe ons 16 was.

Dis dieselfde mense met dieselfde warm harte wat om my gesit het. Die reünie-naweek het ons opgevang, lief en leed gedeel, en met verlange teruggekyk na die goeie ou dae. Toe ons wegry het ek besef watter voorreg dit was om te kon kindwees soos ons dit kon doen En ek het sommer weer jonk gevoel. (Oorspronklike teks verkort)

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button