Toptoekenning vir adjudant-offisier wat 18 uit vloedwater red
Dit is die tweede jaar agtereenvolgens wat adjudant-offisier Holtzhausen met die toekenning vereer is.
Wanneer die SAPD K9-eenheid in Sasolburg se adjudant-offisier Hollie Holtzhausen en sy soek-en-reddingshond Syla, soggens aanmeld vir diens, weet dié gedugte span nie wat die dagtaak vir hulle inhou nie. Maar of dit op land of in die water is – as die noodroep kom, werk hulle onverpoosd om te soek en te red – dikwels in gevaarlike en moeilike omstandighede om berusting te bring vir families op ‘n reddingstoneel.
In die afgelope jaar het Holtzhausen wat in Parys gevestig is, gehelp om 18 mense wat in vloedwater vasgekeer was, na veiligheid te bring in vier afsonderlike gevalle in Viljoenskroon, Koppies en Vierfontein.
Tydens die kritieke reddingsoperasie in Koppies het die reddingspan, waarvan Holtzhausen deel was, vir ure aaneen gewerk om plaaswerkers en hul gesinne uit die water te kry nadat die Koppies-dam sy walle oorstroom het. Onder die vasgekeerdes was ook ‘n vier maande oue baba.
Verlede week was Holtzhausen en Syla in QwaQwa waar ‘n liggaam uit ‘n kloof in bergagtige gebied herwin is met die hulp van ‘n polisiehelikopter. ‘n Reddingsoperasie wat bemoeilik is deur slegte weer en digte mis.

Net die week tevore het hy ‘n liggaam by die Mimosa Tuine uit die Vaalrivier gehaal.
Die toewyding is raakgesien toe erkenning gegee is aan polisielede in die Fezile Dabi-streek vir diens by uitnemendheid. Hulle vir wie geen opoffering té groot is in die uitvoering van hul plig. Holtzhausen het soos verlede jaar die trofee ontvang as Werknemer van die Jaar in die afdeling vir Sigbare Polisiëring en Operasies Vlak 5-7.
Die eenheidsbevelvoerder, adjudant-offisier Matthee, het Holtzhausen as ‘n staatmaker in die eenheid beskryf wat altyd daar is om te help.

Holtzhausen het in 2016 by die K9-eenheid in Sasolburg begin na ‘n oorplasing vanaf Welkom waar hy van 2008 in die soek-en-reddingseenheid gestasioneer was.
Die tweejarige Syla is tans die enigste soek- en reddingshond by die Sasolburg K9-eenheid, en een van net drie in die Vrystaat wat help met soek-en reddingsoperasies in die provinsie.



