Die toekoms behoort aan ‘n gemeenskap wat sy verantwoordelikheid aanvaar
Die werklike toets is of elke hefboom van grondwetlike gesag sy regmatige funksie vervul, en of gemeenskappe hulle eie regte en verantwoordelikhede voortdurend uitoefen.
Die onlangse verkiesingsuitslae het ‘n werklikheid blootgelê wat ons nie langer kan ignoreer nie: ons politieke landskap is toenemend gefragmenteerd, en die dae waarin een politieke party met ‘n oorweldigende meerderheid feitlik onbeperkte politieke beheer kon uitoefen, is aan die verander.
Die gevolge van dekades se politieke magskonsentrasie, gebrekkige aanspreeklikheid en die verswakking van openbare instellings is oral rondom ons sigbaar.
Ons sien dit in ons munisipaliteite, ons infrastruktuur, ons water- en elektrisiteitsvoorsiening, ons paaie, ons ekonomie en die daaglikse bestaan van gewone mense.
Maar politieke fragmentasie is nie noodwendig ‘n ramp nie.
Dit kan ook die begin van ‘n nuwe grondwetlike volwassenheid wees.
Die Grondwet, nie ‘n politieke party nie, is ons gemeenskaplike maatstaf Suid-Afrika se Grondwet maak nie voorsiening vir ‘n samelewing waarin alles van een politieke party, een leier of een staatsinstelling afhanklik is nie.
Dit skep ‘n grondwetlike bestel waarin verskillende instellings bepaalde bevoegdhede, verantwoordelikhede en verpligtinge het.
Die uitvoerende gesag moet uitvoer. Die wetgewer moet toesig hou. Die howe moet die reg handhaaf. Munisipaliteite moet dienste lewer. Openbare instellings moet binne hulle mandate funksioneer.
En die gemeenskap?
Die gemeenskap is nie bloot ‘n toeskouer wat elke vyf jaar sy stem uitbring en daarna moet wag om weer gehoor te word nie.
Openbare deelname is ‘n voortdurende grondwetlike werklikheid, nie ‘n vergunning wat politici na goeddunke toestaan nie.
Dit is juis hier waar ek glo ons toekoms lê.
Van politieke oorheersing na grondwetlike deelname
Ons moet wegbeweeg van die verwagting dat ‘n politieke oorwinning vanself goeie regering sal oplewer.
Geen party, koalisie of individu kan op sy eie die verantwoordelikheid vir ‘n hele gemeenskap dra nie.
Elke instelling moet sy eie mandaat nakom. Elke gemeenskapsorganisasie moet binne sy eie mandaat optree. En elke inwoner moet die geleentheid hê om betekenisvol deel te neem.
Dit beteken nie dat almal oor alles moet saamstem nie. Inteendeel.
Ons moet leer om eers vas te stel waaroor ons saamstem, waaroor ons verskil, wat onderhandelbaar is en wat binne elke party se grondwetlike of organisatoriese mandaat nie onderhandelbaar is nie.
Ons kan nie namens ander konsensus verklaar nie.
Konsensus moet ontdek, gemeet en deur die betrokke partye bevestig word.
En voordat besluite ander partye kan bind, moet daar duidelikheid wees oor verteenwoordiging, mandaat, toestemming en besluitnemingsbevoegdheid.
Dit is hoe vertroue opgebou word.
Ngwathe: ‘n Gemeenskap wat reeds begin deelneem het
In Ngwathe sien ons reeds die eerste praktiese uitdrukking van hierdie benadering.
Die Ngwathe Community Participation Initiative (NCPI) het ontstaan uit die besef dat die toekoms van ons gemeenskap nie uitsluitlik aan politieke strukture oorgelaat kan word nie.
Ons het ‘n proses van openbare deelname begin waarin inwoners, sakeondernemings, geloofsgemeenskappe, burgerlike organisasies, tradisionele leiers en ander belanghebbendes hulle kennis, vaardighede, hulpbronne en ervaring kan bydra.
Die NCPI Community Participation Centre bied reeds gepubliseerde geleenthede vir voortgesette betrokkenheid.
Hierdie deelname staan nie teenoor die munisipaliteit, die sdministrateur of enige ander grondwetlike instelling nie. Ons wil nie hulle bevoegdhede oorneem nie. Ons wil hê dat elkeen sy eie verantwoordelikhede suksesvol moet nakom.
Die Parys Sakekamer het eweneens ‘n besondere rol om te vervul: om die plaaslike ekonomie, ondernemings, werksgeleenthede, investering en gemeenskapswelvaart te bevorder.
Hierdie rolle is onderskeibaar, maar kan mekaar versterk.
Ons geloof moet ons lei, nie ons begeerte na mag nie
Vir my lê die belangrikste verandering egter nog dieper.
Ons het te lank toegelaat dat vrees, politieke verdeeldheid, wantroue en magsbelange ons openbare gesprek oorheers.
Ons geloof leer ons iets anders. Dit leer ons om te dien eerder as om te oorheers. Om waarheid bo gerief te stel.
Om verantwoordelikheid te aanvaar eerder as om skuld bloot elders te plaas.
Om ons naaste se welstand net so ernstig op te neem as ons eie. En om te bou, selfs wanneer die omstandighede moeilik is.
Toe ons openbare deelname op 17 Junie begin het, is ons uit Nehemia 4 herinner aan die herbou van ‘n gemeenskap deur geloof, samewerking, volharding en verantwoordelikheid.
Daardie boodskap bly vir my besonder betekenisvol.
Ons geloof moet nie ‘n instrument word waarmee ons politieke mag probeer bekom nie.
Dit moet sigbaar word in die wyse waarop ons optree, saamwerk, verantwoordelikheid aanvaar en ander mense behandel.
Mense van verskillende gelowe, oortuigings en agtergronde moet steeds as gelyke deelnemers aan ons grondwetlike samelewing erken word.
Geloof behoort ons diensbaarheid te rig, nie ander mense se gewetens te beheer nie.
Geen vooruitgang sonder waarheid, deursigtigheid en aanspreeklikheid nie
Ons moet ook eerlik wees oor die geskiedenis van openbare deelname. Te veel prosesse het met groot beloftes begin, maar uiteindelik in teleurstelling en verdere agteruitgang geëindig.
Vergaderings is gehou. Komitees is gestig. Verslae is geskryf. Begrotings is goedgekeur. Maar die gemeenskap het steeds met die gevolge van mislukking agtergebly.
Daarom moet ons ‘n ander maatstaf gebruik. Nie hoeveel vergaderings gehou is nie, maar wat werklik bereik is.
Nie hoeveel geld bestee is nie, maar watter volhoubare openbare waarde geskep is.
Nie wat belowe word nie, maar wat uitgevoer en onafhanklik bevestig kan word.
Met moderne tegnologie behoort deurlopende openbare verslagdoening, geoutomatiseerde ouditering en die beoordeling van toekomstige finansiële en infrastruktuurrisiko’s nie meer uitsonderings te wees nie.
Dit behoort deel van die normale funksionering van ons openbare instellings te word.
Die gemeenskap moet nie eers jare later ontdek dat ‘n proses wat as vooruitgang voorgehou is, in werklikheid agteruitgang veroorsaak het nie.
Volle deursigtigheid, kontinuïteit en aanspreeklikheid is die noodsaaklike grondslag vir meetbare vooruitgang.
Parys: Die volgende 150 jaar
Tydens die M.O.T.H. Delville Wood-herdenking en toekenningseremonie het ek die NCPI se Parys – die Volgende 150 Jaar-program bekendgestel.
Dit was nie bloot ‘n terugblik op ons geskiedenis nie. Dit was ‘n uitnodiging om anders oor ons toekoms te dink.
Ons moet onsself afvra watter soort gemeenskap ons aan ons kinders en kleinkinders wil nalaat.
Een wat voortdurend afhanklik bly van politieke beloftes?
Of een waarin mense, instellings, ondernemings en gemeenskappe hulle onderskeie verantwoordelikhede aanvaar en saam volhoubare waarde skep?
Ons hoef nie vir die volgende verkiesing te wag om daardie toekoms te begin bou nie.
Ons is reeds daarmee besig.
Die toekoms begin by verantwoordelikheid
Ek glo nie die antwoord op Suid-Afrika se probleme lê bloot daarin om een politieke party met ‘n ander te vervang nie.
Verkiesings bly noodsaaklik vir ons demokrasie. Politieke partye bly deel van ons grondwetlike bestel, mar geen verkiesingsuitslag kan op sy eie die verantwoordelikheid van ‘n hele samelewing vervang nie.
Die werklike toets is of elke hefboom van grondwetlike gesag sy regmatige funksie vervul, en of gemeenskappe hulle eie regte en verantwoordelikhede voortdurend uitoefen.
In Ngwathe, deur die NCPI en binne die Parys Sakekamer se onderskeie invloedsfere, sien ek die moontlikheid van ‘n ander toekoms ontvou.
Nie ‘n toekoms gebou op vrees nie.
Nie een gebou op politieke oorheersing nie.
Maar een gebou op geloof, waarheid, diensbaarheid, samewerking, grondwetlike verantwoordelikheid en meetbare openbare waarde.
Ons hoef nie die mag oor te neem om ‘n verskil te maak nie.
Ons moet help verseker dat mag verantwoordelik uitgeoefen word, dat elke mens kan deelneem en dat vooruitgang werklik vooruitgang is.
Dit is die toekoms waarin ek glo.
En dit is die volgende 150 jaar wat ek graag saam met die mense van Parys en Ngwathe wil help bou.



