Dit moet jy sien: Oom Paul vat die lang pad vir ‘n Kaapse draai
Die standbeeld en voetstuk is meer as 10m hoog en weeg die beeld 1,5 ton. Beslis 'n trek waarvoor jy op die pad moet uitkyk.
Hy lyk op ‘n haar soos die ware Jakob wat in Pretoria oor Kerkplein waak. Maar dié is nie die ware Jakob nie, maar ‘n presiese replika van die Paul Kruger-standbeeld wat bestem is vir n geskiedkundige trek van die Voortrekkermonument al die pad na Orania. Daar sal die beeld op 10 Oktober amptelik onthul word as deel van die Kruger 200 feesviering.
Op pad na Orania sal by verskeie dorpe aangedoen word, elk met ‘n eie feesprogram voordat die beeld op 2 Oktober in Orania arriveer. Die amptelike onthulling is op Kruger se verjaardag, 10 Oktober.
Inwoners van die dorpe waar die beeld aandoen sal deel kan hê in die feesvieringe, en is daar ook die opvoering van die NP van Wyk Louw-toneelstuk, ”Kruger breek die pad oop” wat jy kan bywoon in die dorpe waar daar gestop word. Die toneelstuk handel oor die lewe van Kruger en die harde besluite wat hy moes neem om wet en orde in Transvaal te bring.
Parysenaars sal Sondag 28 September en Maandag, 29 September dié groot trek met die bronsbeeld en voetstuk van meer as 10m kan inwag wanneer dit by Udolpho aandoen. ‘n Luisterryke program as deel van die feesvieringe word vir die aand van 29 September op Udolpho beplan.
So loop die reisprogram:
24 September- Voortrekkermonument Pretoria
12:00 | Toneel – Kruger breek die pad oop
14:00 | Kruger trek na Orania: Boodskap deur Danie Langner
14:30 | Beeld vertrek vanaf die Voortrekkermonument en word daar eers op Kerkplein in Pretoria aangedoen.
25 September – Rustenburg
26 September- Potchefstroom
27 September – Krugersdorp & Heidelberg waarna na Udolpho net buite Parys vertrek word.
28 September – Udolpho
29 September – Vereeniging en terug na Udolpho die middag.
30 September – Vegkop (Heilbron)
1 Oktober – Bloemfontein & Kimberley
2 Oktober – Orania
Program by Udopho op 29 September
18:00 Opening
18:10 Deo Gloria Koor
18:30 Toespraak: Kruger in konteks
18: 40 Sertifikaatoorhandiging
18:45 Toneel: Kruger breek die pad oop
20:00 Koffie en tee
Die Kruger feesprojek is aangepak deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM), tewyl die Orania Kunsteraad (OKeR) vir die toneelopvoering verantwoordelik is.


Die FAK het reeds ‘n jaar gelede n digitale skandering van die Kruger-standbeeld op Kerkplein in Pretoria gemaak, en is die moontlikheid oorweeg om ‘n nuwe afgietsel te maak. Die nuwe Kruger-standbeeld is gemaak deur Jacques Müller en weeg 1,5 ton.

Indien jy graag meer wil lees oor die Krugerbeeld wat sy tuiste op Orania vind, volg die skakel Ewebeeld van Krugermonument in Orania – FAK
Jy kan ook vir Cara by 072 439 2593 of cara@kultuurtuiste.org.za kontak vir meer inligting, of Jan-Danie Malan by Udolpho by 082 965 7002 vir meer inligting oor die Udolpho-program.
Mense kan hul naam verewig op die nuwe plein waar die Kruger-standbeeld ’n tuiste sal kry deur ’n simboliese steen te koop. Gaan na https://www.orania.co.za/paul-kruger vir meer inligting.



